Eredoktorsgrade
Die Universiteit Stellenbosch ken eredoktorsgrade toe aan buitengewone individue wat hulleself op hul onderskeie gebiede onderskei het en 'n beduidende bydrae tot die samelewing gelewer het.
Die Universiteit sal gedurende die Desember 2024-gradeweek eredoktorsgrade aan die volgende persone toeken:
Wendy Ackerman: Doktor in die Filosofie, honoris causa
Wendy Ackerman se filantropie strek oor etlike dekades. Haar volgehoue ondersteuning baat mans, vroue, kinders en die kunste reeds langer as 40 jaar.
As een van die stigters en lewenslange erevoorsitter van Pick n Pay, word haar werk by dié toonaangewende kleinhandelaar gekenmerk deur haar pogings om vroue te bemagtig en te bevorder. Sy het ’n kernrol vervul om vroue in die 1970’s as senior, loopbaangerigte werknemers erken te kry – ’n stap wat party maatskappye destyds as te progressief beskou het.
Deesdae bestee sy die meeste van haar tyd aan haar familie se filantropiese werk en voorspraak vir diegene wat minder bevoorreg en kwesbaar is, en haar stryd om vroueregte duur voort.
Sy is by verskeie onderwysinisiatiewe betrokke, maar haar grootste passie is die ondersteuning vir belowende studente, veral op die gebied van musiek en die geneeskunde. Sy bedryf reeds sedert 1973 verskillende beursprogramme, en haar gegradueerdes het al uitsonderlike sukses behaal. Party tree in die voorste orkeste en by die bekendste operahuise ter wêreld op. Sy is ook ’n trustee van die Pick n Pay-beursfonds, wat werknemers se kinders bystaan.
Daarbenewens is sy ook diep daartoe verbonde om die omgewing te bewaar en voorspraak vir die welstand van diere te doen.
Ackerman is haar lewe lank ’n ondersteuner van die kunste in die Kaapse metropool en het geen moeite ontsien nie om ’n skenkingstrust vir die kunste in Kaapstad, spesifiek vir die stad se opera en filharmoniese orkes, tot stand te bring.
Strive Masiyiwa: Doktor in die Ingenieurswese, honoris causa
As telekommunikasie- en tegnologie-entrepreneur, belegger en filantroop, het Strive Masiyiwa aansienlik bygedra tot die ontwikkeling van die sakelandskap in Afrika. Hierdie stigter en uitvoerende voorsitter van Cassava Technologies is bekend as een van die baanbrekers in die telekommunikasiebedryf op die vasteland.
Van die bekendste maatskappye wat hy op die been gebring en in belê het, sluit in Mascom Wireless Botswana, Econet Wireless Zimbabwe, Airtel Nigeria, Liquid Intelligent Technologies Group, 2 Degrees Mobile en Trilogy Capital Partners Canada.
Masiyiwa is ook verbind tot die bevordering van onderwys en gesondheidsorg in Afrika. Deur sy familiestigtings, Higherlife Foundation en Delta Philanthropies, is meer as 300 000 beurse al aan kinders van die vasteland toegeken. Die stigtings ondersteun ook verskeie inisiatiewe op die gebied van openbare gesondheid, die bemagtiging van dogters, jeugmentorskap, landelike transformasie en ander belangrike sosiale-impakprojekte in Afrika.
Sy lang lys eerbewyse sluit in sy aanwysing as een van Bloomberg se 50 invloedrykste mense ter wêreld in 2020, en as een van die tien magtigste mans in Afrika deur die tydskrif Forbes in 2015. Hy is ook in 2014, 2017 en 2021 by die tydskrif Fortune se lys van die 50 beste leiers ter wêreld ingesluit. In 2023 is Masiyiwa as 'n internasionale erelid van die Amerikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskappe gekies en in Oktober 2024 is hy deur die Hutchins Center of African and African American Research aan die Harvard Universiteit met die W.E.B. du Bois-medalje bekroon.
Prof Deirdre Nansen McCloskey: Doktor in die Handel, honoris causa
Prof Deirdre McCloskey word dikwels die “gewete” van die vakgebied ekonomie genoem. Sy is bekend vir haar diepgaande ondersoek van die grondslae van dié vakgebied, maar ook vir die manier waarop sy uit ander vakgebiede put om ekonomiese idees beter met die werklikheid te versoen.
As ekonoom en ekonomiese geskiedkundige, word McCloskey se idees omvat deur wat sy “humanomie” noem. Dít herinner ons daaraan dat alle mense, hetsy wetend of onwetend, deur ekonomiese kragte be?nvloed word. Bowenal beklemtoon dit dat menslike gedrag dikwels nie tot kompakte wiskundige ekonomiese teorie? en vergelykings gereduseer kan word nie – iets waaraan ekonomie as vakterrein meer doelbewus moet aandag skenk.
Terwyl sy in 2008 haar sabbatsverlof by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) deurbring, skryf sy een van die boeke in haar trilogie The Bourgeois Era, waarin sy die geskiedenis van groot industri?le nasies ondersoek om die heersende narratiewe oor die oorsprong van moderne welvaart te bevraagteken. Sy bly daarna ’n vriend van die Universiteit Stellenbosch, en in 2012 keer sy terug om as geleentheidspreker by die Wêreldkongres oor Ekonomiese Geskiedenis, met die Universiteit se Departement Ekonomie as gasheer, op te tree.
McCloskey is ’n uitgelese professor emeritus in ekonomie en geskiedenis, asook professor emeritus in Engels en kommunikasie aan die Universiteit van Illinois Chicago.
Damon Galgut: Doktor in die Lettere, honoris causa
Damon Galgut is ’n bekroonde roman- en kortverhaalskrywer en dramaturg. Hy het gedurende sy loopbaan van oor die 40 jaar voortreflike bydraes tot die letterkunde- en kultuurtoneel in Suid-Afrika gelewer.
Galgut se romans het hom verskeie benoemings, eerbewyse en prestigeryke toekennings besorg. Met sy roman The Promise word hy in 2021 maar die derde Suid-Afrikaanse skrywer wat met die Bookerprys vereer word. Die episodies gestruktureerde roman handel oor vier dekades van Suid-Afrikaanse geskiedenis en vertel van persoonlike én politieke beloftes wat nooit nagekom is nie.
Sy werk verken buitestander-identiteite en ondersoek die onderdrukkende krag van sosiokulturele norme en sistemiese onreg wat individue oor geografiese én tydgrense heen raak. Galgut se estetiese innovasie gaan voort om kritici én lesers te bekoor, en weerspie?l sy voortgesette verbondenheid tot die letterkunde as ’n vorm van estetiese ontwrigting.