Die Departement Ondernemingsbestuur is bevoorreg om hierdie week prof. Niels Bosma van die Utrechtse Skool vir Ekonomie (USE) aan die Universiteit Utrecht in Nederland te ontvang. Prof. Bosma is 'n kenner van sosiale entrepreneurskap en lid van die Utrechtse Sentrum vir Entrepreneurskap. Hierdie Sentrum het ten doel om 'n akademiese omgewing te skep waarin studente en werknemers entrepreneuries kan wees. Voordat hy na die Universiteit Utrecht verhuis het, was prof. Bosma verbonde aan die London Business School, Erasmus Universiteit Rotterdam en die Tinbergen Instituut in Nederland.
Die Ondernemingsbestuur Departement beklemtoon die belangrikheid van sosiale entrepreneurskap en daarom kan hierdie onderwerp in verskeie voorgraadse modules gesien word. Boonop is die Departement trots om die Young Entrepreneurs Programme (YEP), te huisves, 'n bekroonde sosiale impakprojek wat mik om die speelveld vir alle aspirant-entrepreneurs gelyk te maak. YEP betrek nie net ons tweedejaar-entrepreneurskapstudente met werklike sosiale uitdagings nie, maar bevorder ook mentorskap en leierskapsvaardighede.
Tydens sy besoek het prof. Bosma 'n lesing oor sosiale entrepreneurskap aangebied aan BCom Hons-studente wat ingeskryf is in die Korporatiewe Entrepreneurskapmodule. Sosiale entrepreneurskap fokus op die skepping van sosiale waarde eerder as persoonlike of aandeelhouerswaarde. Dit pas innoverende, besigheidsgebaseerde oplossings op sosiale, kulturele en omgewingsuitdagings op 'n volhoubare manier toe.
Prof Bosma het ook EMS-personeel en -studente toegespreek tydens 'n seminaar getiteld: Regeringsaktivisme, inkomste-ongelykheid en die skepping van sosiale ondernemings: 'n kruisland-analise. Deelnemers het grootliks baat gevind by prof Bosma se kundigheid oor individue se entrepreneuriese en innoverende gedrag in diverse streeks- en sosiale kontekste en praktiese insigte wat hy verkry het deur 'n raadslid en senior navorsingsadviseur van die Global Entrepreneurship Monitor te wees. Sy passie vir die ondersteuning van sosiale entrepreneurs deur middel van onderwys en navorsing was duidelik vir almal om te sien.
Verskeie kollegas van die Departement het die USE in die verlede besoek en andersom.
?