?Twee jong opkomende wetenskaplikes in die Universiteit Stellenbosch se Departement Fisiologiese Wetenskappe, Dr. Bali Sishi en Dr. Shireen Mentor, is lid van die eerste groep Afrika-wetenskaplikes wat deel uitmaak van die International Union of Physiological Sciences (IUPS) se mentorskapprogram vir fisiolo? wat nog aan die begin van hul onderskeie loopbane staan.
Hierdie vlagskipprogram het ten doel om die volgende generasie jong wetenskaplikes in Afrika te ontwikkel deur middel van professionele leiding en loopbaanontwikkelingsgeleenthede.
Dr. Sishi sal gementor word deur Prof. Dee Silverthorn, 'n baanbreker fisiologie-opvoeder en voormalige president van die Amerikaanse Fisiologie-vereniging, terwyl Prof. Dr. Marian Jo?ls, emeritus professor in neurobiologie in die Fakulteit Mediese Wetenskappe aan die Universiteit Groningen, as Dr. Mentor se mentor sal optree. Prof. Jo?ls is ook die voormalige president van die Federasie van Europese Neurowetenskapsverenigings. Op Afrika-bodem sal beide Dr. Sishi en Dr. Mentor leiding ontvang van Prof. Lamis Kaddam van die Departement Fisiologie in die Fakulteit Geneeskunde aan die Al-Neelain Universiteit in Soedan.
Drs. Sishi en Mentor het albei onlangs teruggekeer van Ismailia, Egipte, waar hulle die International Congress of the African Association of Physiological Sciences bygewoon het. By hierdie kongres het Bali die prys ontvang vir die beste plakkaataanbieding getiteld: “Circulating micro-RNAs as predictive markers for Cardiotoxicity induced by Doxorubicin chemotherapy". Sy het ook die geleentheid gehad om een van haar mentors in persoon te ontmoet én boonop die nuwe hersiene uitgawe van Prof Silverthorn se internasionale topverkoper menslike fisiologie-handboek, Human Physiology: An integrated approach as geskenk ontvang.
Mentor se aanbieding, getiteld: “Exacerbating the neurovascular interface: Effects of HIV-1 viral proteins on blood-brain barrier integrity in vitro" is goed deur afgevaardigdes ontvang. “Boonop het die insigte wat ek verkry het my o? laat oopgaan én my gemotiveer," voeg sy by, “van die transformerende potensiaal van mikroRNS in die behandeling van siektes en weefselbeserings, tot die dringende behoefte aan meer navorsingsentrums en -fasiliteite van hierdie aard om betekenisvolle wetenskaplike vooruitgang te kan dryf".
Volgens Mentor, het die mentorskapprogram alreeds haar akademiese reis as vrou in die wetenskap gevorm. “My eerste vergadering het gesprekke oor die ontwikkeling van 'n omvattende bioskets, en my persoonlike en professionele doelwitte behels. Hierdie vergadering het waardevolle duidelikheid en strategiese rigting gebied en my in staat gestel om oor my navorsings- en akademiese loopbaan tot dusver te herbesin. Dit het 'n gestruktureerde benadering tot die beplanning en uitvoering van beide kort- en langtermyndoelwitte oor die volgende drie jaar versterk, wat volgehoue vordering in navorsing, professionele ontwikkeling, en akademiese bydraes sal verseker".
As jong wetenskaplike is Mentor ook deur Prof. David Fisher van die Universiteit van die Wes-Kaap gementor. Hierdie mentorskap het tot nasionale en internasionale erkenning gelei toe sy die gesogte Wyndham toekenning van die Fisiologie Vereniging van Suider-Afrika ontvang het. Dié toekenning het dit moontlik gemaak vir haar om in 2017 die 38ste IUPS kongres by te woon, waar sy die IUPS Reis-toekenning vir haar abstrak gewen het. Sy is ook 'n Fulbright-alumnus en is onlangs as lektor by die US aangestel: “Ek is gretig om by te dra tot nuwe navorsing, innoverende opleiding en akademiese mentorskap. Ek hoop om betekenisvolle samewerking te vestig en 'n aansienlike bydra tot my vakgebied ge maak."
In Maart vanjaar vier Dr. Sishi alreeds 13 jaar in die akademie: “Alhoewel ék die een is wat gementor word in hierdie program, het ekself reeds 'n hele paar studente in my omgewing gementor. Ek dink net om as Afrika-vrou in hierdie ruimte te wees, inspireer reeds die jonger generasie – as ek dit kan doen kan hulle ook".
Dr. Sishi sê sy was bevoorreg om senior Suid-Afrikaanse wetenskaplikes soos wyle Prof. Doug Rawlings en Prof. Jacques van Rooyen, asook Prof. Anna-Mart Engelbrecht, Prof. Ben Loos, Prof. Kathy Myburgh en Prof. Faadiel Essop as mentors te kon hê. Sy is ook aktief betrokke by professionele verenigings soos die Fisiologie Vereniging van Suid-Afrika, die African Association of Physiological Sciences, die Centre for Cardio-Metabolic Research in Africa , en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kardiovaskulêre Navorsing.
“Ek het gedien as sekretaris, penningmeester, en as lid van bestuurs- en uitvoerende komitees, wat almal instrumenteel in my professionele groei was. Hierdie rolle het waardevolle netwerk- en mentorskapgeleenthede gebied terwyl dit ook bygedra het tot die bevordering van die beroep in Afrika," voeg sy by.
Dr. Mentor beskou haarself as 'n goed gevestigde navorser en opvoeder wat aktief bydra tot die ontwikkeling van fisiologie in Afrika: “In die toekoms sal ek graag opkomende wetenskaplikes wil mentor, navorsingsbefondsing wil verseker, en ? rol speel in die ontwerp van nuwe kurrikula en toekomstige gesondheidsorg- en onderwysbeleide".
“Mentorskap gaan nie net oor leiding nie, dit gaan oor inspirasie, samewerking en nalatenskap. Programme soos hierdie vorm nie net loopbane nie; hulle vorm die toekoms van wetenskap self," sluit sy af.
Beide Sishi en Mentor het alreeds hul opsommings ingedien vir deelname aan die 40ste kongres van die International Union of Physiological Sciences, wat later vanjaar in vennootskap met Europhysiology gehou sal word, en werk nou hard om die befondsing te bekom om dit in persoon te kan bywoon. Dit sal nog 'n waardevolle geleentheid bied om hul mentors in persoon te ontmoet en hulle internasionale netwerke uit te brei.
Op die foto's bo: Dr Bali Sishi (links) en Dr Shireen Mentor (regs).