?Die Universiteit Stellenbosch sien uit na 'n baie besige gradeweek en is besig met voorbereidings om 5 865 kwalifikasies – die hoogste aantal Desember-graduerings in die geskiedenis – by 13 gradeplegtighede toe te ken.
Die gradeplegtighede word van Maandag tot Vrydag, 9–13 Desember in die Coetzenburg-sentrum gehou.
Die kwalifikasies wat toegeken word, sluit in 106 PhD's, 592 meestersgrade en 920 honneurskwalifikasies. Die kwalifikasies sluit ook voorgraadse baccalaureusgrade (professionele en algemeen) in, asook voorgraadse en nagraadse diplomas en sertifikate.
Die aantal voorgraadse kwalifikasies het vanjaar van 3 244 tot 3 417 toegeneem, terwyl 2 448 graduandi nagraadse kwalifikasies sal ontvang. Die Fakulteit Ekonomie en Bestuurswetenskappe sal die grootste aantal voorgraadse en nagraadse kwalifikasies toeken, naamlik 715 en 702 onderskeidelik. Die fakulteite AgriWetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Regte en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe ken hulle grootste aantal voorgraadse kwalifikasies ooit toe.
Die jaarlikse Kanseliersmedalje word ook aan die toppresteerder toegeken. Die wenner sal by die ontvanger se gradeplegtigheid aangekondig word.
Die US sal ook vier eredoktorsgrade aan buitengewone ontvangers toeken wat hulleself op hulle onderskeie gebiede onderskei het en 'n beduidende bydrae tot die samelewing gelewer het.
Verder sal dertien personeellede die Universiteit se gesogte Kanselierstoekenning ontvang. Hierdie toekenning gee erkenning aan personeellede wie se loopbane van volgehoue uitnemendheid in navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en professionele dienste getuig.
"Hierdie gradeplegtigheidsweek vol rekords is 'n viering van deursettingsvermo? en uitnemendheid. Elke kwalifikasie verteenwoordig 'n verhaal van vasberadenheid en saam weerspie?l hulle die ongelooflike potensiaal van ons studente om 'n beter toekoms te help bou. Ons is by die Universiteit Stellenbosch geweldig trots om te sien hoe ons afgestuurde studente opstaan as leiers, innoveerders en veranderingmakers wat 'n onuitwisbare stempel op die samelewing sal afdruk," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US.
Eredoktorsgrade wat by die Desember-gradeplegtighede toegeken sal word:
Wendy Ackerman sal die graad Doktor in die Filosofie, honoris causa, ontvang vir haar liefdadigheidswerk wat oor etlike dekades heen strek. Haar volgehoue ondersteuning het al die afgelope 40 jaar mans, vroue, kinders en die kunste gehelp.
Strive Masiyiwa ontvang die graad Doktor in Ingenieurswese, honoris causa, vir sy beduidende bydrae tot die ontwikkeling van Afrika se sakelandskap. Hierdie stigter en uitvoerende voorsitter van Cassava Technologies, 'n telekommunikasie- en tegnologie-entrepreneur, belegger en filantroop, staan as een van die pioniers van die telekommunikasiebedryf op die vasteland bekend.
Prof Deirdre Nansen McCloskey ontvang die graad Doktor in die Handel, honoris causa. McCloskey, wat dikwels as die "gewete" van die vakgebied van ekonomie genoem word, is bekend daarvoor dat hy nou met die fondamente van die vak self omgaan, asook vir die manier waarop hy lesse uit ander vakgebiede betrek om ekonomiese idees beter by die werklikheid te laat aanpas. McCloskey is 'n vooraanstaande emeritusprofessor in ekonomie en geskiedenis, asook in Engels en kommunikasie aan die Universiteit van Illinois Chicago.
Die bekroonde romanskrywer Damon Galgut ontvang die graad Doktor in die Letterkunde, honoris causa. Hy het gedurende sy loopbaan wat oor meer as 40 jaar strek, uitstaande bydraes tot Suid-Afrika se literêre en kulturele toneel gelewer. Galgut se romans het talle benoemings, lofbetuigings en gesogte toekennings ontvang, insluitende die Booker-prys vir sy roman, The Promise.
- Klik hier vir meer inligting oor die Desember 2024-gradeplegtighede.
- Klik hier vir die skedule vir die gradeplegtighede.
- Klik hier om die plegtighede per regstreekse stroomuitsending te volg.