中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sonkrag-aangedrewe elektriese motorfiets voltooi 6 000 km-reis van Nairobi na Stellenbosch
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Martin Viljoen]
Gepubliseer: 16/10/2024

?In 'n revolusionêre vertoon van Afrika-vindingrykheid het 'n elektriese motorfiets wat in Afrika ontwerp en gebou is en slegs deur die son aangedryf word, pas 'n baanbrekersreis van Nairobi in Kenia tot op Stellenbosch in Suid-Afrika voltooi.

Navorsers van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) het kragte saamgespan met Roam, 'n tegnologie-gedrewe elektriese mobiliteitsmaatskappy in Nairobi, om die Roam Air, 'n pasgemaakte elektriese motorfiets wat in Kenia vir Afrika ontwerp is, te toets.

Die motorfietsspan het vanoggend op Stellenbosch aangekom. Die tog het oor ongeveer 6 000 kilometer deur Kenia, Tanzani?, Malawi, Zambi?, Botswana en Suid-Afrika gestrek. Op die tweede laaste dag het die span 1 000 kilometer op een dag afgelê om die suidpunt van Afrika te bereik.

Die Roam Air, wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) vir navorsing en toetsing geskenk is, is op hierdie reis uitsluitlik deur sonenergie aangedryf.

"Hierdie ambisieuse ekspedisie was 'n groot stap vorentoe om die potensiaal van volhoubare elektriese mobiliteit regoor Afrika suid van die Sahara ten toon te stel," sê Thinus Booysen, professor in ingenieurswese en stigter van die Elektriese Mobiliteitslaboratorium by die Universiteit Stellenbosch.

Die reis het op 17 September 2024 begin toe die ondersteuningspan en 'n voertuiggebaseerde sonkragstasie uit Stellenbosch vertrek het. Hulle het by hulle aankoms in Nairobi op 27 September die elektriese motorfiets gaan haal wat in die Keniaanse hoofstad deur Roam, 'n ontwikkelaar van elektriese busse en motorfietse, ontwikkel is.

Die span, onder leiding van PhD-kandidaat Stephan Lacock, het op 29 September met hulle terugtog deur 'n uiteenlopende reeks Afrika-landskappe gereis en uiteindelik Woensdag 16 Oktober op Stellenbosch aangekom. Gedurende die reis is die motorfiets se omruilbare batterye uitsluitlik deur sonkrag gelaai, wat die lewensvatbaarheid van hernubare energie in werklike toepassings beklemtoon.

"Die voltooiing van hierdie tog van 6 000 kilometer is 'n geskiedkundige mylpaal vir die Roam Air as die eerste Afrika-vervaardigde elektriese motorfiets wat so 'n prestasie kon behaal. Dit is 'n bewys van ons verbintenis daartoe om die grense van elektriese mobiliteit te verskuif. Van die uitdagende terreine tot die warm verwelkoming van plaaslike gemeenskappe, ons het die vonk van opgewondenheid in mense se o? gesien toe hulle besef hierdie motorfiets is in Afrika gebou. Ons samewerking met die Universiteit Stellenbosch het die veerkragtigheid van beide ons spanne en tegnologie beklemtoon, wat bewys dat skoon energie nie net voertuie kan aandryf nie, maar 'n ook blinker, meer volhoubare toekoms vir die vasteland inhou," sê Masa Kituyi, produkeienaar van die Roam Air.

"Hoewel die span die tog suksesvol voltooi het, het hulle talle uitdagings langs die pad ondervind. Re?nweer in die pragtige Malawi het moeilike rytoestande geskep, swak paaie het die voertuig se duursaamheid getoets, en lank staan by grensposte het duur vertragings gedurende kosbare dagligure veroorsaak," sê Booysen.

"Probleme met sonkragverbindings wat nie gemaak is om daagliks ontkoppel te word en weer gekoppel te word nie, het die tog verder bemoeilik. Die span se veerkragtigheid en toewyding aan hulle missie het hulle egter in staat gestel om hierdie struikelblokke te oorkom, wat die krag in samewerkende toegepaste navorsing en die lewensvatbaarheid van sonkrag-aangedrewe elektriese mobiliteitsoplossings op die vasteland toon."

Hy voeg by dat die span op die pad die asemrowende natuurskoon van Afrika beleef het en 'n verskeidenheid wild te?gekom het, insluitend olifante, renosters, kameelperde, seekoeie, buffels, leeus, swartwitpense, bobbejane, ape en krokodille. "Die reis deur Afrika se uiteenlopende landskappe het die belangrikheid daarvan herbevestig dat hierdie omgewings vir toekomstige geslagte bewaar moet word, en het getoon hoe skoon energie 'n rol in die beskerming daarvan kan speel."

Volgens Booysen het die ekspedisie ook die groot potensiaal beklemtoon wat elektriese mobiliteit, aangedryf deur hernubare energie, het om mense se lewensbestaan regoor Afrika te transformeer. "Skoon energie-oplossings dra nie net tot omgewingsvolhoubaarheid by nie, maar kan ook aansienlike ekonomiese en maatskaplike voordele bied. Deur afhanklikheid van fossielbrandstowwe te verminder en vervoerkoste te verlaag, het sonkrag-aangedrewe elektriese mobiliteit die potensiaal om mense se lewensgehalte in landelike en stedelike gemeenskappe te verbeter. Die groot belangstelling wat talle plaaslike inwoners herhaaldelik in die Roam Air getoon het en wat dadelik die lewensveranderende potensiaal van die motorfiets raakgesien het, is 'n bewys hiervan.

"Hierdie geskiedkundige reis dien as 'n kragtige bewys van die haalbaarheid van skoon, hernubare energie in die vervoersektor en verder en die belofte wat dit inhou. Ons sien uit na verdere inisiatiewe wat sal voortgaan om die potensiaal van volhoubare mobiliteit regoor die vasteland van Afrika te ondersoek en uit te brei."

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, het die span gelukgewens en gesê hulle ambisieuse reis was geen geringe prestasie nie: "Dit is vermoedelik die eerste keer dat elektriese motorfietse wat in Afrika ontwikkel is, die sowat 6 000 km met slegs sonkrag as energiebron aflê. Hierdie projek getuig nie net van die vasberadenheid van die navorsingspan nie, maar dit toon ook Afrika-vindingrykheid op sy beste. My opregte dank aan Roam, ons navorsingsvennoot, vir die skenking van die twee Roam-elektriese motorfietse aan die Elektriese Mobiliteitslaboratorium." ?