Die rol van voedseletikette in die vermindering van nie-oordraagbare siektes (NOS's), wat 71% van sterftes veroorsaak, is wêreldwyd 'n twispunt. Een van die grootste geskilpunte is die gebruik van gesondheidsaansprake op voedseletikette, veral in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika waar regulasies dit nie toelaat nie.
“Dit blyk dat die finale woord nog nie gespreek is nie oor of die gebruik van gesondheidsaansprake Suid-Afrikaanse verbruikers gesonder produkte sal laat koop. Ons het gevind daar is 'n ingewikkelde mengsel van uitdagings wat kommer wek oor of die insluiting van gesondheidsaansprake haalbaar is en of dit verbruikers sal help om beter voedselkeuses te maak," sê Melvie Todd, 'n doktorale student in die Departement Voedselwetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US). Todd is een van vier navorsers wat 'n studie gedoen het oor of gesondheidsaansprake op voedseletikette Suid-Afrikaanse verbruikers sal help of sal verhinder om beter voedselkeuses te maak. Haar medeskrywers was Timothy Guetterman (Universiteit van Michigan), Gunnar Sigge (US) en Elizabeth Joubert (Landbounavorsingsraad Infruitec-Nietvoorbij). Hulle het uiteenlopende belanghebbers ondervra, insluitende verbruikers en praktisyns in die voedselbedryf en ander beroepe wat hul menings gelug het oor die gebruik van gesondheidsaansprake op voedseletikette om gesondheidsinligting te kommunikeer.
Die bevindings van hul navorsingstudie het onlangs in die vaktydskrif Appetite verskyn.
Die navorsers sê daar is konstante hindernisse in die gebruik van etikette soos uitdagings wat geletterdheid en leesbaarheid verband hou.
“Ons het gevind dat die insluiting van gesondheidsaansprake op voedseletikette deur faktore soos geletterdheid (die verbruiker se vermo? om te lees en te skryf); leesbaarheid (faktore wat leesbaarheid moontlik maak soos fisieke grootte en definisie van die inligting op die voedseletiket); taal; fisieke teenwoordigheid van 'n voedseletiket op 'n voedselproduk; en sosio-ekonomiese posisie (die kombinasie van iemand se opvoeding, inkomste en beroep).
“Deelnemers aan ons studie het aangedui dat hul gebruik van inligting oor voeding en gesondheidsaansprake op voedseletikette sal afhang van die tyd wat hulle gehad het, probleme om inligting te verwerk weens faktore soos uitputting, hongerte of 'n groeiende aantal alternatiewe (waarna daar somtyds verwys word as kognitiewe lediging), of 'n gebrek aan motivering en kennis."
Volgens die navorsers is die insluiting van gesondheidsaansprake ook 'n uitdaging omdat baie Suid-Afrikaners gedwing word om hul voedsel in informele markte te koop waar produkte dikwels nie etikette met voedingsinligting vir die verbruiker op het nie.
“Een voorbeeld is die praktyk in die informele mark is om 'formele' produkte in kleiner porsies in klein plastieksakkies te verpak om dit meer bekostigbaar te maak. Hierdie soort sakkies met kleiner porsies bevat geen van die etikette wat op die oorspronklike produk verskyn nie.
“Arm Suid-Afrikaners moet dikwels hierdie klein porsies koop en kan nie bekostig om kieskeurig oor hul kos te wees nie. Dit is dus onwaarskynlik dat hulle voedseletikette sal gebruik om hulle met voedselkeuses te help, ongeag of daar bykomende gesondheidsaansprake op verskyn.
“Afgesien daarvan, verskyn daar ook geen Afrika-tale op voedseletikette nie, met die gevolg dat verbruikers wat nie Engels magtig is nie, dalk nie eens sal kan verstaan wat op die etikette gedruk is nie. Visuele etikette waaruit afleidings gemaak kan word (bv kleur en vorm; vermyding van numeries-gebaseerde oplossings) mag help om die toepaslike boodskap aan hierdie verbruikers oor te dra."
Die navorsers wys ook daarop dat kompleksiteite rakende belanghebbers, insluitende kommer oor botsende belange, siloagtige verantwoordelikheid en toepassingsuitdagings, dit moeilik maak om jou pad deur die etiketlandskap te vind.
“Dit wil voorkom asof pogings om positiewe vordering te maak met wat 'n doeltreffende wyse van kommunikasie van gesondheidsinligting op voedseletikette sal wees, deur 'n gebrek aan vertroue tussen van die belangrikste rolspelers in die wiele gery word en verdere navorsing is nodig om 'n konsensus hieroor te bereik."
Hulle sê kommer bestaan oor of gesondheidsaansprake ongelykheid skep rakende voedsel met etikette teenoor dié sonder etikette; kleiner teenoor groot voedselvervaardigers; en verbruikers se toegang tot gesondheidsinligting. Daar is ? behoefte dat hierdie besorgdhede aangespreek word.
“Suid-Afrika is nog nie gereed om gesondheidsaansprake te implementeer nie weens die gapings ten opsigte van beide toepassings en beoordeling van aansprake. Intervensies in voedseletikettering kan ook moontlik die armes uitsluit en daarom moet ons realisties wees oor die rol wat dit speel om mense te help om gesonder produkte te koop en NOS's te verminder."
Die navorsers vra vir nouer samewerking tussen die voedselbedryf en beleidsmakers om te verseker dat die gesonde keuse die maklike keuse is – ongeag of die verbruiker 'n spesifieke etiket kan lees of nie.
- ?Bron: Todd, M; Guetterman, T; Sigge, G & Joubert, E 2021. Multi-stakeholder perspectives on food labelling and health claims: Qualitative insights from South Africa. Appetite 167: doi.org/10.1016/j.appet.2021.105606