?
Tirelo Mtombeni, 'n gegradueerde van die Universiteit Stellenbosch (US), het nooit kon dink dat sy 'n navorsingsloopbaan in maatskaplike werk sou beoefen nie.
Nadat sy nie vir medies óf haar tweede keuse, rekeningkunde, aanvaar is nie, het sy maatskaplike werk gekies. En vandag is dit haar missie om maatskaplike werkers se praktyk te help verbeter sodat hulle hul gemeenskappe beter kan bystaan en ophef.
“Ek het altyd daarvan gedroom om 'n dokter te word. Ek het in alle eerlikheid nooit in maatskaplike werk belang gestel óf eens geweet waaroor dit gaan buiten om na mense se probleme te luister nie. Altans, dít is hoe dit aan my verduidelik is deur een van die maatskaplike werkers wat eenkeer my ho?rskool besoek het. Eers toe ek met die kursus begin, het ek 'n belangstelling in maatskaplike werk ontwikkel en uiteindelik versot geraak daarop."
Die 25-jarige boorling van Limpopo het Maandag 29 Maart 2021 'n magistergraad in Maatskaplike Werk gedurende 'n aanlyn plegtigheid van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe by die US verwerf. Sy is die eerste in haar familie om 'n magistergraad te behaal, wat vir haar 'n groot dryfveer was om deur te druk.
“Uithouvermo? is my grootste lewensles. Ek wou my negatiewe omstandighede verander en die kringloop van armoede verbreek, so my agtergrond was ook my motivering. Dinge het in die loop van my studie gebeur wat my kon laat ontspoor, maar ek het aangehou, soms met meer of minder moed as die vorige dag. Ek was by tye nie seker of ek my meestersgraad sou voltooi nie, maar ek het myself bly aanspoor om my doel te bereik."
Mtombeni het vir haar magisterstudie navorsing gedoen oor pas gekwalifiseerde maatskaplike werkers se gereedheid vir die uitvoering van bestuurstake. Sy het veral gekonsentreer op nieregeringsorganisasies (NRO's), wat sterk steun op teikengebaseerde staats- en privaat finansiering. “Ek het besef dat maatskaplike werkers se praktykkonteks voortdurend verander, so my navorsing het bepaal watter bestuurstake gewoonlik van hierdie werkers verwag word, en of die voorbereiding wat opleidingsinstellings voorsien met die verwagte praktyk in die arbeidswêreld strook. Ek het op NRO's gekonsentreer omdat hulle gewoonlik daaronder ly as hulle praktyke nie aan skenkers se eise of verwagtinge voldoen nie."
Mtombeni beplan om verder te studeer, en sal binnekort vir 'n PhD in Maatskaplike Werk inskryf. Sy hoop ook dat haar maatskaplikewerknavorsing wetgewing en beleidvorming op dié gebied sal help be?nvloed. “Om met my nagraadse studie voort te gaan is die enigste manier om my droomloopbaan te hê, naamlik om 'n dosent of 'n gewaardeerde NRO-direksielid te wees. Leer is my passie, want jy het die potensiaal om die toekoms te verander, ongeag waar jy vandaan kom. Ek wil graag hierdie lewensmantra voortsit en 'n verskil in ander se lewens maak."