Afriforum het vandag (12
Februarie 2016) sy hofaansoek teen die Universiteit Stellenbosch teruggetrek. Die
Universiteit Stellenbosch sal voortgaan om te verseker dat taalimplementering in
fakulteite belyn is met die goedgekeurde Taalbeleid en Taalplan, en die
taalspesifikasies in die 2016-jaarboeke in ooreenstemming met die Raadsbesluit
van 30 November 2015.
Die Universiteitsbestuur het reeds vroeg in
Februarie 2016 aan die Raadsvoorsitter die versekering gegee dat die saak dringend
aandag geniet. Die US bly verbind tot meertaligheid, nie-uitsluiting op grond
van taal, en die bevordering van Afrikaans as akademiese taal.
By sy geskeduleerde
vergadering van 30 November verlede jaar het die Raad ‘n mosie aanvaar waarin
hy hom verbind het tot die Taalbeleid en Taalplan van 2014 en onomwonde verklaar
het ”dat taal nooit enige hindernis mag wees vir enige student wat voorgraads
of nagraads aan die US wil studeer, en nie óf Afrikaans óf Engels magtig is
nie”. Die Raad het sy ondersteuning uitgespreek vir die uitbreiding van die Engelse akademiese aanbod mits dit nie ten
koste is van die Afrikaanse aanbod nie.
Die Universiteit het ‘n
hersiening van sy Taalbeleid en Taalplan ge?nisieer met die oogmerk om ‘n nuwe
konsep teen die einde van die eerste semester voor te lê. Hierdie hersiening
sal volgens die instelling se voorgeskrewe bestuurs-en-beheerprosesse
plaasvind. Die Universiteitsraad moet die Taalbeleid en Taalplan met instemming
van die Senaat goedkeur. Die Universiteit sal verseker dat ‘n deelnemende
proses gevolg word wat belangegroepe ‘n billike geleentheid sal gee om insette
te lewer.