中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
WAT ontvang gesogte prys, bedank US vir steun
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 26/09/2025

?Die ATKV-Woordwystoekenning is vanjaar toegeken aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) vir die trajek U wat in Oktober 2024 aanlyn verskyn het. Die Woordwystoekenning het ten doel om praktykgerigte naslaanbronne te bekroon vir die bydrae wat daarmee gelewer word tot die ontwikkeling van Afrikaans in die praktyk.

Die Buro van die WAT is toonaangewend in die leksikografiese bedryf van Suid-Afrika en is gesetel by die Universiteit Stellenbosch (US) in 'n kantoor in Banghoekweg.

In 'n mediaverklaring wat op LitNet gepubliseer is, het die hoofredakteur en uitvoerende direkteur, dr Phillip Louw, gesê die WAT-span is trots en dankbaar om op so 'n besonderse wyse deur die ATKV vereer te word. “Die Woordwystoekenning speel al vir baie jare 'n kernrol in die Afrikaanse woordeboekbedryf. Die erkenning wat daarmee gepaard gaan, bied vanjaar aan ons redaksie bykomende motivering om met die werk aan hierdie skatkamer van inklusiewe Afrikaans voort te beur. Ons bedank dus die ATKV en beoordelaars hiervoor, maar ook graag elke donateur en belanghebbende wat ons so getrou in hierdie arbeid vir Afrikaans ondersteun."

Louw het ook sy dank teenoor die US uitgespreek vir volgehoue steun: “Namens die WAT Trust en die Buro van die WAT wil ek die Universiteit Stellenbosch bedank vir die ruim ondersteuning vir ons Tienjaarplan. Sulke skenkings maak dit vir ons moontlik om die pas vol te hou sonder om kwaliteit prys te gee. Sonder die US sou hierdie U-prys nie moontlik gewees het nie!"

Die US se registrateur Dr Ronel Retief, wat die Voorsitter van die WAT se direksie is, het gesê dit is 'n voorreg om met die WAT geassosieer te wees, nie net vanwe? die Woordeboek se bydrae tot Afrikaans en die Afrikaanse woordeboekbedryf nie, maar ook vanwe? die toonaangewende rol wat die Woordeboek internasionaal in leksikografiekringe vervul.

Die WAT is 'n omvattende sinchroniese verklarende woordeboek, wat primêr gerig is op die huidige taalgebruik. Die keuse en aanbieding van data in 'n omvattende woordeboek is die gevolg van indringende navorsing oor die taal wat in die woordeboek vervat word. Dit is 'n akademiese woordeboek wat op só 'n manier saamgestel moet word dat dit as 'n gesaghebbende naslaanbron deur taalkundiges, ander navorsers en liefhebbers van Afrikaans gebruik kan word.

Die US voorsien onder meer strukturele steun, kantoorruimte op kampus, administratiewe ondersteuning en instandhoudingsdienste aan die Buro van die WAT. Dit vorm deel van die US se verbintenis tot die ontwikkeling van Afrikaans en tot meertaligheid, gegewe sy status as gasheer van een van die elf Nasionale Leksikografie-eenhede.

? Memorandum van Ooreenkoms tussen die Buro van die WAT, die US en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) is in 2003 en weer vanjaar onderteken.