中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong vakkundiges besin oor nagevolge van historiese trauma
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 23/09/2025

?Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs 'n twee dae lange nagraadse kollokwium oor na-geweldsbelewenisse (post-violence subjectivities) in die Globale Suide aangebied. Studente en navorsers van vier instellings – die US, die Universiteit van Kaapstad (UK), die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), en die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) – het dit bygewoon.

Die geleentheid is deur nagraadse vakkundiges van die Sentrum vir die Studie van die Nagevolge van Geweld en die Soeke na Herstel (AVReQ) gere?l en het 'n platform geskep waar ontluikende akademici kon besin oor hoe geweld, herinneringe en trauma aanhou om identiteite en gemeenskappe oor geslagte heen te vorm.

In haar openingsrede het Lesedi Mashego, 'n AVReQ-navorsingsgenoot en 'n meesterstudent, die toon aangegee vir die twee dae se kritiese gesprek. “Vanjaar se tema nooi ons om saam te besin en te gesels oor hoe ons met die nadraai van geweld saamleef, daarop reageer, en daaróór en daardéúr dink," het sy gesê. Mashego het deelnemers daaraan herinner dat die gedagte van 'na-geweld' juis bedoel is om gesprek uit te lok oor of samelewings ooit werklik verby geweld beweeg, veral in die lig van voortslepende wêreldkonflik, en spesifiek in die Globale Suide.

Die uitdaging, het sy gesê, is om hierdie kontinu?teit te konfronteer, maar terselfdertyd ook oor nuwe belewenisse en toekomste te dink.

Prof Gqola oor onopgeloste sake, herinneringe en kuns

Die hoofrede deur prof Pumla Dineo Gqola van die Nelson Mandela Universiteit was die middelpunt van die kollokwium. In haar omvattende aanbieding het sy ondersoek hoe kuns, narratiewe en argiewe 'n dieper studie van die nadraai van geweld moontlik maak. “Wat ek vandag wil voorlê, is 'n stel vrae waardeur ek werk," het sy begin, en deelnemers op dié manier genooi om saam te dink eerder as om na klinkklare antwoorde te probeer soek.

Gqola het vertel van die Apartheidsargiefprojek, waardeur meer as 5 000 vertellings oor die daaglikse lewe gedurende apartheid versamel is. Sy het gesê die waarde van dié projek lê nie net daarin dat dit getuienis bewaar nie, maar ook dat dit “klein oomblikke" onthul wat toon hoe geweld na alledaagse gebeure deurgesyfer het. Hierdie fragmente moedig vakkundiges aan om nuut te dink oor sowel narratiewe as konteks, het Gqola gesê.

Sy het die belang van kuns as 'n ruimte vir vrae eerder as antwoorde onderstreep. “Dis veel produktiewer om na te dink oor die vrae wat kuns vra eerder as om verbete na die antwoord te probeer soek," het sy gesê. Sodoende help kuns vakkundiges om uit hulle dissiplinêre silo's te breek en die voortgesette nadraai van geweld deur verbeelding, vertelling en uitvoering te konfronteer, het Gqola aangevoer.

Deelnemers besin oor woede, herinneringe en gemeenskap

Vir verskeie jong akademici was die kollokwium 'n transformerende ervaring. Volgens Leza Soldaat, 'n PhD-kandidaat in sosiologie aan die US, het die geleentheid emosie én beliggaming as erkende kennisterreine bevestig. Sy is veral getref deur Li'Tsoanelo Zwane se aanbieding, wat woede as 'n noodsaaklike krag vir verandering uitgebeeld het. Zwane se oproep om die omarming van “vroulike voorouerlike toorn" het getoon hoe onderdrukte emosies herwin kan word as kragtige instrumente van weerstand en skepping, het Soldaat gesê.

Sy het ook aanklank gevind by Lauren Grootboom se klem op herinneringe as iets matriargaal wat oor geslagte heen deur gemeenskaplike sorgnetwerke, oorlewering en beliggaamde weerstand lewend gehou word. “Hierdie temas bied 'n roetekaart vir toekomstige werk wat nie net streng intellektueel is nie, maar ook emosioneel en spiritueel volhoubaar," het Soldaat gesê, en bygevoeg dat die kollokwium vir haar ook 'n herbevestiging was van haar eie doktorale reis.

Benita Petersen, 'n PhD-kandidaat en mededosent aan die UWK, het opgemerk dat die paneelbesprekings op die onontkombare teenwoordigheid van die geskiedenis gedui het. “Die dralende nagevolge van kolonialisme, apartheid en ander vorme van strukturele geweld gaan voort om daaglikse ervarings te be?nvloed," het sy gesê. Vir haar het die byeenkoms beklemtoon hoe belangrik dit is om navorsing teen die agtergrond van gemeenskapsgedrewe kennis en plaaslike geskiedenisse te beskou, en dat akademieskap verandering moet ondersteun, en nie net probleme moet beskryf nie.

Vir Yaadein Padiachy, 'n AVReQ-navorsingsgenoot en meesterstudent, sal die gesamentlike doelbesef onder deelnemers aan die geleentheid haar nog lank bybly. “Ons het as jong akademici bymekaargekom, nie net om ons navorsing te bespreek nie, maar ook om nuwe verhoudings saam te weef, voorheen ondenkbare idees uit te ruil, en mekaar op te hef," het sy gesê. Die kollokwium was vir haar die beliggaming van “ 'n etiek van sorg en liefde", en 'n herinnering dat navorsing nie net oor kennisskepping gaan nie, maar ook oor gemeenskapsbou, restitusie en welwees.

'n Ruimte van bevraagtekening en herstel

Die kollokwiumpanele het oor uiteenlopende onderwerpe gehandel, van rasgegronde belewenisse en generasietrauma tot queer herinneringe, grondpolitiek, en die ontologie? van die “lewende dooies". Nietemin het dieselfde temas telkens na vore gekom, ongeag dissipline of onderwerp: dat geweld nie die verlede is nie, maar die hede; dat herinneringe sowel 'n las as 'n hulpbron is; en dat akademieskap in die globale suide met die kontinu?teit van trauma moet worstel.

By die kollokwium het sy “veilig, raakgesien en ondersteun" gevoel, het Li'Tsoanelo Zwane, 'n dosent en PhD-kandidaat van die Departement Godsdiens en Teologie aan die UWK, gesê. “As 'n swart vrou wat op die terrein van voorouerlike toorn werk, het dit goed gevoel dat daar mense was wat so gewillig daardie toorn saam met my gedra het – selfs net vir 'n oomblik. Trouens, ons het mekaar se voorouerlike toorn met diep deernis gedra."