中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sally Ehlers: Voorlopervrou in handelswetenskappe by US
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 29/08/2025

In Vrouemaand bring ons hulde aan ’n baanbrekervrou wie se vasberadenheid die akademiese landskap van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe help vorm het: Sara Cornelia “Sally” Ehlers (1912–1996), die eerste vrou wat ’n Baccalaureusgraad in Handelswetenskappe (BCom) aan US verwerf het.

Haar gradeplegtigheid in 1932 was nie net ’n persoonlike mylpaal nie, maar ook ’n historiese eerste vir die Fakulteit, wat vanjaar sy eeufees vier.

’n Uitblinker uit die staanspoor

‘n Jong Sally Ehlers in haar vroe? 20’s ‘n Jong Sally Ehlers in haar vroe? 20’s. Sy was nie net die eerste vrou wat ’n BCom-graad aan US verwerf het nie, maar boonop die enigste in haar klas wat cum laude geslaag het.

Sally is op Nuwejaarsdag 1912 in die Weskusdorp Vredenburg gebore — net drie maande voor die noodlottige vaart van die Titanic — en was die jongste van elf kinders. Slegs die vier jongstes het die geleentheid gehad om verder te studeer. Haar broer Piet, wat ’n onderwyser geword het, het die idee van ’n BCom-graad by Sally laat posvat. Toe hy haar vra watter vak sy die meeste geniet en sy antwoord “syfers,” het hy summier verklaar: “Wel, dan gaan jy BCom studeer.”

En dis wat sy gedoen het.

FSally het van jongs af merkwaardige potensiaal getoon. Sy blink akademies uit by die Ho?rskool Vredenburg en wen verskeie boekpryse. Toe sy in 1929 matrikuleer, behaal sy die eerste plek op die nasionale merietelys en word so die topstudent in die hele Unie van Suid-Afrika – ’n merkwaardige prestasie, veral vir ’n jong vrou in die 1920’s.

Onge?wenaarde studentejare

In 1930 registreer Sally as eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch — een van net 340 vroue uit die Universiteit se 1 064 studente. Sy kies handelswetenskappe as studierigting, ’n veld wat feitlik uitsluitlik deur mans oorheers is, en word só een van die Fakulteit van Handelswetenskappe se 54 studente van daardie jaar.

In haar BCom-derdejaarsklas in 1932 is sy een van twee vroue in die klasgroep van 14 studente. Slegs ses voltooi die graad en gradueer op 7 Desember 1932. Nie net is Sally die enigste vrou in dié groep nie, maar ook die enigste wat haar graad cum laude slaag.

Gedurende haar voorgraadse studiejare het sy in die dameskoshuis Monica gewoon en aktief aan die studentelewe deelgeneem. Sy was ’n lid van die bestuurskomitee van die Kamer van Handelstudente en het gereeld aan uitstappies van die Berg- en Toerklub (BTK) (Berg- en Toerklub)deelgeneem. Sy het ook die jaarlikse fakulteitsdans bygewoon, waarvan twee by die historiese Masonic Hotel, ’n majestueuse Victoriaanse gebou op die hoek van Alexander- en Birdstraat — vandag die tuiste van die Drostdy Teater – gehou is.

Sally se dosente het haar as ’n briljante student beskou. Haar rekeningkundedosent, mnr BJA Thomas, het haar as een van die uitnemendste studente beskryf wat hy ooit onderrig het en het haar natuurlike aanvoeling vir die vak geloof. Prof CGW Schumann, later dekaan van die Fakulteit, het haar vinnige verstand en noukeurigheid bewonder. Dr JH Botha, haar dosent in ekonomie, het melding gemaak van haar wetenskaplike deeglikheid en diepgaande verantwoordelikheidsin.

Beperkte geleenthede

Ondanks haar akademiese prestasies het Sally gou agtergekom dat die sakewêreld van die 1930’s nog nie gereed was vir ’n vrou met ’n handelsgraad nie. Ná haar gradeplegtigheid het sy na Pretoria en Johannesburg gereis op soek na werk, maar is met verwarring in plaas van geleenthede begroet. Werkgewers het bloot nie geweet wat om van ’n vrou met ’n besigheidsgraad te maak nie.

Sy het later vertel hoe sy myle ver gestap het, uitgeput en mismoedig. Sy het nie tou opgegooi nie, maar teruggekeer Stellenbosch toe en in 1933 ’n Senior Onderwysdiploma voltooi, asook ’n snelskrifkursus. Weer het sy met lof geslaag.

’n Lewe van onderrig, leer en voluit leef

In die daaropvolgende dekade het Sally in verskeie dorpe regoor die Kaapprovinsie en in Windhoek (destyds nog deel van Suidwes-Afrika) skoolgehou. Onderwys het haar doelgerigtheid en onafhanklikheid gegee, terwyl haar aanpasbaarheid gesorg het dat sy oral floreer.

In 1941 is sy getroud met Wolfram Wagener, ’n Duitssprekende wynmaker by die Drakenstein Ko?peratiewe Kelder in Simondium naby Paarl. Daar het sy ’n aktiewe en vol lewe gelei: sy het vier kinders grootgemaak, hul klere gemaak, tuisgekweekte vrugte en groente ingelê, pragtige huisplante gekweek, eiers en melk verwerk, en selfs botter gemaak.

Drie van haar kinders, Wolfram (MSc in Chemie), Dirk (mediese dokter) en Elsa (Engels-onderwyser en literêre vertaler), het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer, terwyl Hanna radiografie by Groote Schuur Hospitaal studeer het. Die akademiese tradisie wat hul ma help skep het, is so voortgesit.

’n Vrou met humor, wysheid en warmte

Nadat Wolfram op die vroe? ouderdom van 54 jaar oorlede is, het Sally na die Paarl verhuis. Daar het sy haar uitgeleef in haar tuin, boeke, handwerk en liefde vir stories. Haar dogter, Elsa Silke, onthou haar as ’n fassinerende mens — spitsvondig, wys en belese.

“Sy het ’n onhebbelike sin vir humor gehad en wonderlike staaltjies vertel,” onthou Elsa. “Sy kon hele gedeeltes uit The Rubáiyát of Omar Khayyám, aanhaal en het wyd gelees, van filosofie tot misdaadromans.”

Haar kleinkinders onthou haar met groot liefde. Liesl Maree sê: “Ek het net die wonderlikste herinneringe aan Ouma Sally. As ek siek by die huis was, het sy met ’n verrassingspakkie en Richie Rich-strokiesverhale opgedaag en stories vir my vertel. Sy was ongelooflik slim — sy het altyd die blokkiesraaisels opgelos. Ek kon oor enigiets met haar gesels; sy was wys en saggeaard.”

Liesl se jonger suster, Magdel van der Walt, voeg by: “Ouma Sally was ’n meesterstorieverteller. Haar sin vir humor was donker, skerp en onvergeetlik. My gunstelingboek as kind was haar ou Duitse kopie van Struwwelpeter, propvol makabere maar skreeusnaakse stories oor die gevolge van kinders se stoutigheid. Daardie tong-in-die-kies oneerbiedigheid was so tipies van haar — sy het nie van moralisering gehou nie en het ironie bo sentimentaliteit verkies.”

Onbesonge voorloper, blywende nalatenskap

Sally Ehlers Wagener is in 1996 op die ouderdom van 84 in die Strand oorlede. Sy het nooit die kollig gesoek nie, maar haar lewe het die weg help baan vir geslagte vroue wat in haar voetspore kon volg. Haar prestasie in 1932 het nie net oor ’n graad gegaan nie; dit was om toe deure oop te maak en op ’n eenvoudige dog duidelike manier te wys dat vroue in lesing- en raadsale hoort.

Terwyl die US Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe sy 100ste bestaansjaar vier, is dit gepas om sy eerste vroulike BCom-gegradueerde te onthou; ’n baanbreker in handelswetenskappe en ’n vrou met durf.

Mev Sally Ehlers Wagener, hier in haar laat 70’s Mev Sally Ehlers Wagener, hier in haar laat 70’s.

Die US Fakulteit van Handelswetenskappe en Stellenbosch-kampus in 1932:

  • Die Fakulteit van Handelswetenskappe, onder leiding van prof JFW Grosskopf as dekaan, het twee voorgraadse kursusse aangebied: die BCom-graad (toe BComm) en die tweejaar Diploma in Handelswetenskappe.
  • Gedurende hul graad- of diplomastudie kon studente vir bykomende kursusse in tik en/of snelskrif inskryf.
  • Die vakke vir BCom-derdejaars was die volgende: 1) Handelswetenskap (insluitend Besigheidstatistiek, Kosprysberekening, Bedryfsekonomie of Rekeningwetenskap en Ouditkunde); en 2) Ekonomie of Wiskunde.
  • Daar was sewe universiteitskoshuise. Vier daarvan was vir vroue: Monica en Harmonie, albei in Neethlingstraat; Crozier Huis in Victoriastraat; en Greylock in Van Riebeekstraat. Verblyf het ?12 per kwartaal gekos.