?Stellenbosch mag wel vir akademiese uitnemendheid en wynlandgoedere bekend wees, maar 'n nuwe narratief is besig om agter die poskaartprentjie uit te skuif – een wat die dorp as ernstige mededinger in die ekonomie van sakegeleenthede en innovasie posisioneer. Dít was die onderliggende boodskap van Meet Stellenbosch, die vlagskip- jaarlikse byeenkoms wat die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrale Kantoor vir Geleenthede en Konferensies (SKGK) in samewerking met Besoek Stellenbosch (Visit Stellenbosch) aanbied. Hierdie vierde ontmoeting het belanghebbendes uit verskeie sektore aangetrek: vanuit die akademiese, sake-, toerisme-, tegnologie- en eiendomsektor. Dit het openhartige gesprekvoering oor die toekoms van geleenthede en besigheid in Stellenbosch – en verder – opgelewer.
Vanjaar se tema, 'Die Empatiese Voorsprong: Mensgerigte geleenthede, lidmaatskap van verenigings en akademiese uitnemendheid', het die sakewêreld uitgedaag. Ons moet vrae begin stel soos: Hoekom bied ons geleenthede aan? Vir wie is dit bedoel? Hoe kan ons geleenthede ontwerp wat nie net inlig nie, maar transformeer?
Die Onderburgemeester van Stellenbosch Munisipaliteit, Maynard Slabbert, het die verrigtinge begin deur te sê hoe welkom die dorp se opkomende rol as voorkeursakebestemming is. Hy het genoem dat 'n geslaagde oorgang nie net oor lokale gaan nie; dit verg 'n gemeenskaplike doel en duidelike boodskap. Dit behels 'n verskuiwing vanaf blote bemarking van die dorp na betekenisvolle posisionering daarvan.
Volgens Anita Nel, Hoofdirekteur: Afdeling Innovasie en Kommersialisering aan die US, is daardie posisionering alreeds stilweg aan die gebeur. Stellenbosch is lank reeds as toerismebestemming bekend, maar dit raak al meer lewensvatbaar vir ernstige besigheid. Die sterk akademiese basis, groeiende innovasie-infrastruktuur en ondernemings soos die SKGK is deels waarom dít wat met geleenthede verrig kan word, aan die verander is.
Die res van die ontmoeting het die programtema voortgesit. Een van die sessies wat die meeste gesprek uitgelok het, was die interaktiewe sessie oor empatiegedrewe leierskap wat deur bekende skrywer en spreker Nikki Bush gefasiliteer is. Sy het die afgevaardigdes, gewapen met soesjiestokkies en dobbelstene, gelei in tas-intensiewe oefeninge wat teenwoordigheid, besinning en betrokkenheid aanmoedig. Haar oefeninge laat deelnemers oorskakel van stuuroutomaat na teenwoordig wees. Dit is 'n subtiele herinnering daaraan dat werklike ekonomiese groei ook afhang van die soort leierskap wat ons bevorder – nie net in raadsale nie maar ook in spanne, gemeenskappe en ons self.
Die eerste paneel van die dag het oor 'n terugkerende vraag gehandel: Watter blywende impak het konferensies werklik? Corné Koch (Wesgro) was moderator, en perspektiewe is aangebied deur profs Eugene Cloete en Sa'ad Lahri van die US asook professionele geleentheidspraktisyns Ansu Colditz (XL Millennium) en Gwynneth Matthews (Southern Sun Conferences). Die paneel het die voortgaande rimpeluitwerking van konferensies verken, van akademiese samewerkingsinisiatiewe tot bedryfstransformasie. Die sleutelgedagte waarmee die afgevaardigdes gelaat is, was dat geleenthede nie as afgeslote momente ontwerp moet word nie, maar as platforms vir langtermynwaarde.
David Zimmerman se aanbieding oor mensgerigte geleentheidsontwerp het verder die ewewig tussen tegnologie en oogmerk ondersoek. Hoewel hy toegee dat kunsmatige intelligensie (KI) 'n al groter rol in die bedryf speel, waarsku Zimmerman dat ons nie moet toelaat dat dit die menslike bande oorweldig waarop werklik doeltreffende geleenthede berus nie. Tegnologie moet, na sy mening, menslike verbintenis dien, nie vervang nie. Die sessie het bevestig dat tegnologie en KI die meeste saak maak wanneer dit menslike bande beskerm en versterk.
Geleenthede moet vir mense ontwerp word, nie net vir programme nie. Dít het aan die hart gelê van die tweede paneel, wat gefokus het op die rol wat verenigings vervul om sterker gemeenskappe te bou. Glenton de Kock (SAACI, die Suider-Afrikaanse Vereniging vir die Konferensiebedryf), Rema van Niekerk-Wiese (FEDHASA, die Gefedereerde Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika) en Zelda Coetzee (Event Academy Africa) het met moderator dr Theuns Vivian van die Stad Kaapstad in gesprek getree oor hoe organisasies wat op lidmaatskap berus, in 'n gefragmenteerde wêreld kan tersaaklik bly. Verenigings kan nie op re?lmaat alleen vertrou om bande te smee nie. Dit verg empatie, egtheid en langtermyndenke om vorm te gee aan hoe verenigings hulle gemeenskappe betrek.
Die laaste paneel was onder leiding van Catherine Channing, Bestuurder: SKGK, en het op voldoening gefokus. Hoewel dit dikwels as 'n administratiewe funksie beskou word, kan voldoening ook as strategiese instaatsteller gesien word. Die bespreking het risiko-en-sekuriteitskenners uit die openbare sowel as privaat sektor ingesluit, onder andere Brandon Como, Wynand du Toit, Dirkie van der Merwe, Nicola Martine, Erik Oosthuizen en Zingani Tshefu. Hulle het gesamentlik verken hoe regulering, veiligheid en toestemmings herbedink kan word as instrumente vir insluiting, toeganklikheid en vertroue – nie net vir beheer nie.
Die geleentheid het afgevaardigdes in staat gestel om, buite die formele sessies om, met uitstallers te skakel deur middel van 'n uitgesoekte tentoonstelling van plaaslike ondernemings en verskaffers. 'n Koopbewysstelsel het die gaste aangemoedig om aanbiedings te ondersoek en regstreeks met verkopers om te gaan. Dit het 'n minder transaksionele, meer deelnemende ruimte geskep.
Op die tweede dag het die afgevaardigdes met Stellenbosch self kennis gemaak op begeleide perseelbesoeke – byvoorbeeld na Art Mile, Skilpadvlei, Asara, US-fasiliteite en die Stellenbosch Hotel – wat die dorp se veelsydigheid ten toon gestel het.
Uiteindelik het Ontmoet Stellenbosch 2025 nie op 'n vertoning van skaal neergekom nie, maar van oogmerk. Die geleentheid het van groeiende volwassenheid in Stellenbosch se ekonomiese identiteit getuig – een wat in empatie, doelgerigtheid en samewerking gewortel is. Dit het daarop gedui dat die toekoms van sakegeleenthede in Stellenbosch ontwerpgestuur sal wees, gemeenskapsgerig en strategies by die streek se bre?r aspirasies ingeskakel.
In 'n tydvak waarin gehore meer betekenis en minder bemarking wil hê, is hierdie verskuiwing moontlik Stellenbosch se grootste mededingende voorsprong.