'n Groep vasberade alumni verruil op 14 September vir die sewende opeenvolgende jaar die stad se sypaadjies vir landelike lanings wanneer hulle die ikoniese Londen-na-Brighton-fietsrit van 89 km aandurf. Maar die span van nege Maties doen dit nie net vir die opwinding van die uitdaging nie – hulle jaag 'n gesamentlike fondswerwingsteiken van ?5 300 na ten bate van akademies begaafde Maties vir wie finansi?le hindernisse dit moeilik maak om hulle studie te voltooi.
Vanjaar se groep, onder leiding van jare lange geesdriftige spankapteins Lani Swart en Tania Mouton, sluit ryers van oor die hele Verenigde Koninkryk en Europa in. Hoewel elke ryer 'n persoonlike verhaal het, het almal dieselfde motivering: om 'n tasbare impak te hê deur tot die Universiteit Stellenbosch se VK-EU-beursfonds en die Stutterheim STEM-beursfonds by te dra. Albei inisiatiewe ontsluit toegang tot die onderwys vir studente wat dalk andersins agtergelaat sal word.
Waarom ry?
Die vooruitsigte vir die jeug in Suid-Afrika is bra somber: Die werkloosheidsyfer bly halstarrig rondom 45% hang, so die kans om skuldvry aan 'n topuniversiteit soos Stellenbosch te gradueer, kan die verskil tussen stagnasie en sukses beteken. Meer as 500 Matie-gegradueerdes verlaat jaarliks die kampus met ongedekte studieskuld, wat hulle toegang tot hulle transkripte én werksgeleenthede verhinder. Die VK-EU-beursfonds is juis geskep om hierdie kringloop te verbreek en studente oor die eindstreep te help.
Neem nou maar vir Monique Moore-Barnes. Die trotse Matie-alumna onthou hoe dit was om gedurende haar studie voor finansi?le onsekerheid te staan te kom. Deesdae beskik sy oor 'n MSc en MBA, en beklee sy 'n leiersrol by 'n internasionale farmaseutiese maatskappy. Om huidige studente te help wat in dieselfde geldelike penarie is as waarin sy destyds was, verruil sy op 14 September haar sitplek in die raadsaal vir 'n fietssaal om ?500 vir die VK-EU-beursfonds in te samel. “As hulle met hulle graadstudie kan deurdruk, kan ek deur hierdie fietsrit kom," sê Monique.
Die krag van teruggee
Elke ryer dra iets uniek tot die span by. Roxine Staats, wat oorspronklik van die Oos-Kaap kom, ry ten bate van die Stutterheim STEM-beursfonds om jong landelike vroue te ondersteun wat daarvan droom om ingenieurs en wetenskaplikes te word. Mederyer Karien Botha het dié fonds help stig as 'n boorling van die Oos-Kaapse dorp Stutterheim en as gevolg van haar begeerte om die gendergaping op die terrein van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde ('STEM') te laat krimp.
Cally Ballck-Naudé? het reeds haar oorspronklike teiken van ?300 oorskry en mik nou na ?500. “Onderwys is die grootste gelykmaker," sê sy. “Die fietsrit is 'n klein poging om die speelveld te help gelykmaak."
Robert Watkins pak op sy beurt die rit aan met herinneringe aan die #FeesMustFall-betogings, en met die veerkragtigheid wat sy tyd op Stellenbosch hom geleer het. As ingenieur, werk hy deesdae deur die hele Verenigde Koninkryk en Singapoer. Hy sal aan die fietsrit deelneem om terug te gee aan die universiteit wat hom help vorm het.
Arnold Marambire ry vanjaar die eerste keer saam. Hy wil nie net geld insamel nie, maar wil ook sy portuur aanmoedig om sake na aan hulle hart te ondersteun. “Dít is my klein bydrae, maar saam kan ons 'n groot verskil maak," sê hy.
Kaptein Lani stel 'n uitstekende voorbeeld met 'n persoonlike doel van ?1 000. “Ons kom elke jaar voor die gevreesde Ditchling Beacon te staan – en op die een of ander manier raak ons dit saam baas," lag sy. “Dit herinner 'n mens daaraan dat groot struikelblokke oorkom kan word as ons doelgerig te werk gaan."
Jy kan help – dís hoe
Jou skenking, of dit nou ?5 of ?500 is, is dalk net die hupstoot om 'n hardwerkende en verdienstelike student oor die laaste hekkie te help. En as jy 'n belastingbetaler in die Verenigde Koninkryk is, aktiveer gerus Gift Aid – 'n maklike manier om jou skenking sonder enige ekstra koste met 25% te verhoog.
Raak asseblief betrokke deur:
- 'n skenking te maak op 'n ryer se fondswerwingsblad (sien hier onder vir KindLink-besonderhede) – elke pond maak 'n verskil;
- die ryers se verhale met jou netwerk te deel; en
- hulle aan te moedig wanneer hulle op 14 September die lang pad van Londen na Brighton aandurf.
Kom ons help ons Maties oor die eindstreep – op die pad én in hulle missie om geleenthede vir die volgende geslag Suid-Afrikaanse gegradueerdes te ontsluit. Ondersteun die rit. Transformeer 'n toekoms.
Om te skenk, gaan na die ryers se KindLink-blaaie deur op die tersaaklike naam hier onder te klik: