Die Universiteit Stellenbosch (US) se 13de jaarlikse Biblioteeknavorsingsweek het met 'n oproep begin om die doel van akademiese ondersoek te herbedink in 'n wêreld wat genesing, etiese vakkundigheid en kritiese besinning nodig het. Vanjaar se program het aan die hand van die tema 'Kom ons werk saam vir navorsingsimpak' die volle navorsingsreis ondersoek – van die vonk wat 'n idee laat posvat tot betekenisvolle maatskaplike verandering.
Die hoogtepunt van die openingsgeleentheid was 'n hoofrede deur prof Pumla Gobodo-Madikizela, bekende US-akademikus en wenner van die 2024 Templeton-prys. Die US se Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens, Ellen Tise, het die Universiteit se verbondenheid tot die ondersteuning van navorsers in elke stadium van hulle akademiese reis beklemtoon.
"Hierdie tema weerspie?l dat ons verstaan dat impakvolle navorsing nie in isolasie plaasvind nie. Navorsing word net deur samewerking oor vakgebiede, departemente, instellings en selfs sektore heen werklik ontwikkelend, volhoubaar, betekenisvol en transformerend," het Tise gesê.
Sy het die week beskryf as 'n reis deur die hele navorsingslewensiklus, insluitend sessies oor etiese beplanning, metodologiese ontwerp, kunsmatige intelligensie, ooptoegangpublikasie en welstand. "Die middelpunt van dít alles is die navorser as mens," het sy beklemtoon.
Tise het ook hulde aan Gobodo-Madikizela se invloed op wêreldwye diskoerse oor menslikheid, versoening en hoop gebring. "Haar lewenslange werk oor trauma, geheue, vergifnis en herstellende geregtigheid het ons vakkundige begrip van genesing en ontmoeting gevorm," het sy gesê.
Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het gevolg met 'n besinning oor die biblioteek se deurslaggewende rol in die bevordering van die Universiteit se navorsingsdoelwitte.
"Ons biblioteke het dinamiese ruimtes van ontdekking, leer en konneksie geword," het Moyo gesê. "Hulle ondersteun personeel, studente en navorsers om kennis na te streef wat positiewe verandering in ons land en verder dryf."
Moyo het die rol van biblioteke beklemtoon om vakkundiges toe te rus om die uitdagings van die huidige navorsingsomgewing die hoof te bied, van kritiese betrokkenheid by kunsmatige intelligensie tot die etiese eise van interdissiplinêre werk. "Die biblioteek is 'n sleutel tot die bevordering van gelyke toegang tot inligting, die ondersteuning van wetenskaplike uitnemendheid en die bevordering van 'n kultuur van weetgierigheid en kritiese denke," het sy opgemerk.
Met verwysing na Gobodo-Madikizela se vroe?re werk, het Moyo die belangrikheid van die bevordering van omgewings beklemtoon wat refleksie, deug en empatie bevorder. "Gaan asseblief voort om ander te help en ruimtes vir kreatiwiteit, dialoog en kritiese denke te fasiliteer. Wees vriendelik teenoor ander in jou werk en in ons alledaagse lewe," het sy die gehoor aangemoedig.
Gobodo-Madikizela, bekle?r van die navorsingsleerstoel in sosiale verandering en transformasie aan die US en 'n internasionaal erkende kenner van trauma, geheue en versoening, het 'n diep nadenkende toespraak met die titel 'Intellectual Life in Academia and Researching Experience: On the Irreducible Nature of Encounter' gelewer. Haar hoofrede het navorsers uitgenooi om krities oor die beliggaamde, emosionele en etiese dimensies van wetenskap, gewortel in geleefde ervaring, na te dink.
"Ek word deur ontmoetings ge?nspireer. My werk en my navorsing spreek altyd tot of reageer op ontmoetings," het sy gesê. Op grond van persoonlike verhale en filosofiese ondersoek het sy oor oomblikke besin waar alledaagse ervarings – soos om 'n rassebelediging in die openbaar toegesnou te word – plekke geword het vir die skep van nuwe kennis oor ras, geheue en identiteit.
Gobodo-Madikizela het die konsep van 'opasiteit' (ofte wel 'ondeursigtigheid') in navorsingsontmoetings bekendgestel, wat aan die hand doen dat menslike interaksies inherent onvoorspelbaar is en nie tot simplistiese binêre kategorie? soos slagoffer en oortreder gereduseer kan word nie. Sy het binêre raamwerke wat akademiese diskoers oorheers, uitgedaag en eerder vir 'n dieper betrokkenheid by dubbelsinnigheid en ondeursigtigheid in menslike ervaring gepleit. "Ons tree so dikwels op maniere op wat ander ons noem," het sy opgemerk. "Maar die potensiaal vir weiering is altyd daar sodat ons ons reg op iets anders – anders as wat ons genoem word – kan terugeis."
Sy het aan die hand van feministiese teoretici soos Simone de Beauvoir, Toni Morrison en Judith Butler 'n oproep gedoen vir 'n verskuiwing in wetenskaplike fokus na die 'geleefde liggaam' en subjektiewe ervaring. Haar refleksies het oor literatuur, teorie en affek beweeg, en aanhalings van Hannah Arendt, Eugene Gendlin, Bryan Stevenson en ander ingeweef om te verken hoe trauma, erkenning en verbeelding menslike verhoudings vorm.
"Die verbeeldingryke vermo? lei ons nie altyd tot deernis of empatie nie," het Gobodo-Madikizela opgemerk, "maar dit hou potensiaal in. Wanneer liggame in nabyheid bymekaarkom, gebeur iets. Dit is dalk nie wat ons verwag nie, maar daar is altyd die moontlikheid van erkenning, van empatie, van transformasie."
Benewens die hoofrede, het die Biblioteeknavorsingsweek se program 'n verskeidenheid sessies ingesluit wat op ontluikende tegnologie?, oop wetenskap en praktiese instrumente om navorsingsimpak te vergroot, gefokus het. Dinsdag se program het dekolonialiteit, verantwoordelike kopiereggebruik en sistematiese soektogte ondersoek. Woensdag is daar dieper in generatiewe KI en etiese oorwegings gedelf. Donderdag is oop toegang en databestuur ondersoek, terwyl welstand en sosiale impak Vrydag aangespreek is. Die program is afgesluit met 'n aanbieding deur dr Jason Samuels, 'n US-alumnus wie se navorsing die grondslag vir 'n beginmaatskappy geword het.
Die week, wat die US se strategiese doelwit van navorsingsimpak weerspie?l het, was 'n viering én 'n uitdaging – 'n oproep om intellektuele strewes met die realiteite van die menslike toestand te laat strook. Soos Tise in haar slotopmerkings opgemerk het: "Dit gaan daaroor om 'n beter wêreld deur kennis te bou, en ons as 'n biblioteek is hier om jou vennoot te wees om dit te bereik."
Biblioteeknavorsingsweek 2025 het as bevestiging gedien dat die strewe na kennis nie net akademies is nie – dit is persoonlik, eties en deur en deur sosiaal. In die woorde van Gobodo-Madikizela vind navorsing sy diepste betekenis in die ontmoeting.