Ter viering van Jeugmaand plaas die Jong Alumni-program (YAP) aan die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig op ons ongelooflike jong alumni. Ontmoet van ons merkwaardige Maties onder 35 jaar, wat hul US-verworwe kennis en vaardighede gebruik om grense te verskuif en werklik ’n impak in verskeie velde te maak.
As dit kom by die toekoms van Suid-Afrika se energie, wag die 30-jarige Menelaos Meli nie vir verandering nie – hy máák dinge gebeur!
Oorspronklik van 'n klein dorpie in KwaZulu-Natal, is hy nou aan die voorpunt van mobiele, hernubare energie-innovasie in die land, skakel hy groot idees om in konkrete oplossings wat hy hoop gemeenskappe sal bemagtig om weer beheer oor hul eie energie te kry.
Menelaos sê hy was nog altyd 'n “tinkerer". “Ek was altyd nuuskierig oor hoe dinge werk – ek het dinge uitmekaar gehaal net om dit te verstaan, al kon ek dit nie altyd weer regkry nie. Destyds het ek nie geweet wat ingenieurswese was nie, maar ek het geweet ek wil betrokke wees by die skep van nuttige oplossings – ek dink ek wou 'n 'uitvinder' wees."
Nadat hy sy meestersgraad in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch in 2021 voltooi het, is Menelaos tans die Hooftegnologiebeampte by Zero Carbon Charge, waar hy help om Suid-Afrika se eerste netwerk-onafhanklike, mobiele sonkrag-elektrisiteitslaainetwerk te bou. Sy uitvinding, die Melivan, is ontwikkel as deel van internasionale samewerkende navorsing met die Tegniese Universiteit van München en ander, met die LEAP-RE SolChargE-projek. Die Melivan is 'n mobiele sonlaaier spesifiek ontwerp vir die unieke uitdagings van Afrika se diverse en uitdagende terrein.
Maar Menelaos is nie net 'n tegnikus nie. “My doel is om aan te hou groei – nie net tegnies nie, maar ook om die sake- en die strategiese kant beter te verstaan. Veelvlakkigheid is wat langtermyn-impak moontlik maak," sê hy, en voeg by dat dié kombinasie van vaardighede hom sal help om oplossings te skep wat werklik mense en gemeenskappe gaan baat. Want vir hom gaan dit oor meer as net tegnologie.
“Dis oor onafhanklikheid. Wanneer gemeenskappe beheer oor hul eie infrastruktuur het, beweeg hulle vorentoe op hul eie terme. Dis waar die regte verskuiwing plaasvind." Hy glo energie moet iets wees wat mense in hul eie hande kan neem, en waarvoor hulle nie hoef te wag op groot maatskappye of regerings nie.
Menelaos wil hê meer Suid-Afrikaners moet voel hulle kan deel wees van die skep van die toekoms. “Ek wil sien dat meer mense voel hulle kan deel wees van die toekoms, en nie net van die kantlyn af kyk nie. Veral in sektore soos energie en mobiliteit wat nog besig is om te ontwikkel." Hy deel graag wat hy geleer het en hoop om ander te help om vaardighede te bou, want “impak groei deur mense, nie net projekte nie".
Sy raad aan enigiemand wat 'n verskil wil maak? “Moenie wag vir die perfekte omstandighede nie. Begin met die basiese, bou iets en leer deur te doen. Jy gaan meer uitvind deur te probeer en reg te stel, as deur eindeloos te beplan."
Met die blik op sy generasie sê Menelaos: “Ons het 'n verantwoordelikheid om Suid-Afrika se uitdagings met dringendheid en kreatiwiteit aan te pak, en om nie vas te kleef aan die ou maniere van doen nie. My rol is om beter vrae te vra, aannames uit te daag en praktiese oplossings te bou wat ons vorentoe neem."
Vir hom hang werklike, tasbare vooruitgang af van almal wat saamwerk. “As ons 'n beter toekoms wil hê, moet samewerking meer saak maak as kompetisie."