中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe fluweelwurmspesie ’n eerste vir die Klein-Karoo
Outeur: Wiida Fourie-Basson (Media: Faculty of Science)
Gepubliseer: 26/05/2025

In Maart 2022 was Rohan Barnard, student aan die Universiteit Stellenbosch (US), op 'n plaas in die Swartberge tussen Calitzdorp en Oudtshoorn, besig om klippe om te dop op soek na miere, reptiele en ander gediertes, toe hy op die vonds van 'n leeftyd afkom!

Rohan Barnard.jpg

Diep in die klam sand ingegrawe, onder 'n hoop ontbindende blare op die wal van 'n klein riviertjie, kry hy toe 'n pikswart fluweelwurm. Wetende hoe skaars fluweelwurms is, het hy een van hulle geneem en ook 'n foto daarvan op iNaturalist, die  biodiversiteitswaarneming-app, geplaas.

“Ek het 'n basiese kennis van die Kaapse fluweelwurms gehad nadat ek in 2019 vir die eerste keer een op Tafelberg gekry het. My ouer broer was op daardie stadium besig om fluweelwurms te versamel vir 'n projek onder sy dierkundedosent, prof Savel Daniels. As mier-entoesias het ek hom met graagte hiermee gehelp," verduidelik Rohan, tans 'n derdejaar-BSc-student in Bewaringsekologie en Entomologie.

Fluweelwurms se herkoms dateer meer as 500 miljoen jaar terug, wat dit 'n lewende  oorblyfsel van die  Kambriese tydperk maak. Met hul sagte lyfies en gelede pote, het hierdie gediertetjies oor miljoene jare heen baie min verandering ondergaan en daarom staan hul as “lewende fossiele" bekend.

Min het Rohan toe geweet dat hy sopas 'n nuwe fluweelwurmspesie ontdek het, wat nou gepas bekend staan as: Rohan se fluweelwurm, of in wetenskapsterminologie, Peripatopsis barnardi.

Selfs nóg meer merkwaardig is die feit dat dit die eerste spesie verteenwoordig wat nog ooit in die Klein-Karoo gevind is. Dit dui daarop dat die gebied histories meer woudagtig was as wat tans die geval is. Met ander woorde, met prehistoriese klimaatsveranderinge en verdorring, het die spesie ge?soleer geraak en spesiasie ondergaan.

Volgens prof. Daniels, 'n evolusionêre bioloog van die US se Departement Plant- en Dierkunde en een van Suid-Afrika se voorste spesialiskenners van fluweelwurms, is dit uiters merkwaardig dat so 'n prehistoriese stamlyn vandag steeds bestaan. Nadat hy hierdie seldsame vonds op iNaturalist gesien het, het hy in Julie 2022 dieselfde gebied besoek en 'n paratipe en nog nege voorbeelde vir ontleding versamel.

Die resultate van sy ontleding, en die aankondiging van sewe nuwe fluweelwurmspesies, is onlangs in die vaktydskrif Ecology and Evolution gepubliseer. Daniels, die hoofouteur van die navorsingsartikel, sê Suid-Afrika se fluweelwurms word hoofsaaklik in prehistoriese Afrogematigde woudkolle gevind wat steeds in diep klowe van die Kaapse Plooiberge voorkom.

“Die oorsprong van hierdie woudkolle kan teruggevoer word na die vroe? Mioseen, byna 23 tot 15 miljoen jaar gelede toe die streek nog gematig en subtropies was. Gedurende die laat Mioseen het die streek egter beduidende klimaatsveranderinge ondergaan met 'n afname in re?nval – 'n gevolg van die koms van die proto-Benguelastroom langs die Weskus, en twee geotektoniese verskuiwingsgebeurtenisse. Hierdie gebeurtenisse het veroorsaak dat 'n komplekse mosa?ek van habitatverbindings en -isolasie gevorm het wat ons vandag ken as die Kaapse Plooiberge, en wat die spesiasie van habitatspesialiste soos fluweelwurms dryf," verduidelik hy.

Daniels het nuwe mitokondriale en kern-DNS volgordebepalingstegnieke, in kombinasie met morfologiese analise en skandeer- elektronmikroskopie (SEM), gebruik om te bepaal dat P. barnardi ongeveer 15,2 miljoen jaar gelede van sy mees onlangse gemeenskaplike voorouer weggebreek het. Nog 'n nuwe vonds in die Sederberge, P. cederbergiensis, se herkoms kon nagespeur word na 12,47 miljoen jaar gelede.

Daniels verwelkom die pogings van burgerlike wetenskaplikes om hul waarnemings op biodiversiteits-apps te deel: “Dis te dankte aan burgerlike wetenskaplikes se data dat ons die nuwe spesies kon identifiseer. Ons weet nou dat elke bergpiek van die Kaapse Plooiberge die tuiste van 'n endemiese spesie is. Dit dui daarop dat daar waarskynlik nog baie gebiede met nuwe diversiteit is wat net wag om ontdek te word."

Die belangrikste is egter dat dit beteken dat ons hierdie prehistoriese woudfragmente moet bewaar om uitsterwing te beperk.

Vir Rohan voel dit steeds onwerklik dat so 'n fossielagtige skepsel na hom vernoem is: “Dit is ongelooflik om te dink dat ek 'n lewende fossiel ontdek het. Dit is asof ek 'n vermiste skakel gevind het waarvan ons nie eers geweet het nie. Dit gee my hoop dat daar stééds soveel is om te ontdek. Maar dit maak my ook bekommerd oor die toekoms, dat ons  plante en diere – waarvan ons nie eers weet nie – sal verloor as gevolg van uitsterwing," waarsku hy.

Die sewe nuwe spesies is: P. fernkloofi, P. jonkershoeki, P. kogelbergi, P. landroskoppie, P. limietbergi and P. palmeri. Benewens P. barnardi, is al die nuwe spesies na hul onderskeie plek van oorsprong vernoem.

Die resultate is gepubliseer in die artikel getiteld: “Perched on the plateau: speciation in a Cape Fold Mountain velvet worm clade" in Ecology and Evolution.

Hoekom is fluweelwurms so uniek?

Soos die onvernietigbare waterbere (Tardigrades), word moderne fluweelwurms beskou as 'n aparte lyn van evolusie (en in 'n afsonderlike filum geplaas) wat onafhanklik stam uit een of ander langvergete voorouer – waarskynlik die Hallicogenia. Fossiele toon dat fluweelwurms nie veel verander het sedert hulle ongeveer 540 miljoen jaar gelede van hul oerfamilielid af weggebreek het nie. Dit beteken dat  Onycophorians (hul voorsate) op aarde geleef het sedert wat bekend staan as die Kambriese tydperk. Vandag leef moderne fluweelwurms op land en word slegs gevind in klam habitatte in gebiede wat oorspronklik deel van die antieke superkontinent Gondwana was.