中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Yverne Myburgh se reis met gemeenskapsdiens
Outeur: Centre for the Advancement of Social Impact and Transformation
Gepubliseer: 16/05/2025

?“Verryk", “vervul" en “dankbaar" is woorde wat Yverne Myburgh, 'n Honneurs-BA-student aan die Universiteit Stellenbosch, gebruik om haar ervaring van die Universiteit se Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie se kortkursus Plasing vir Vrywilligheidsdiens (voormalige naam) te beskryf.

Yverne het die eerste keer van dié kursus – nou bekend as Gemeenskapsimpak deur Vrywilligheidsdiens – bewus geraak toe sy 'n kennisgewing op kampus raakgesien het. Nadat sy by die Sentrum uitgekom en met die Bestuurder: Betrokke Burgerskap, Michelle Pietersen (destyds die Senior Programbestuurder), gesels het, het sy verneem die kursus vereis vrywilligerswerk van altesaam 60 uur en bied studente die geleentheid om plaaslike gemeenskappe te help terwyl hulle akademiese erkenning ontvang.

Alhoewel die kursus 60 uur vereis het, het Yverne heelwat meer ingesit. “Ek onthou hoe ek aan die begin van die jaar aangesluit het en tot die einde van die jaar gebly het. Dit was lekker om op Saterdae met betekenisvolle werk besig te wees, so die tyd het gevlieg."

“Wat hierdie kursus laat uitstaan is dat dit kredietdraend is, wat help met werk soek in die mededingende mark. 'n Paar ekstra kenmerke (van US-gegradueerdes) op jou akademiese staat gaan beslis help om jou van jou mededingers te onderskei, en dis 'n bonus," sê Yverne.

“Hierdie kursus bied studente nie alleen bruikbare, praktiese ervaring in gemeenskapsbetrokkenheid nie, maar ook die voordeel van krediete wat op hulle akademiese staat bygevoeg word," verduidelik Yverne. Vir haar was die besluit om in te skryf geskoei op die waarde van die sertifikaat én 'n opregte belangstelling om 'n verskil te maak, hoe klein ook al.

Yverne, wat eers nie tussen sosiale en bestuurswetenskappe op voorgraadse vlak kon besluit nie, het eindelik die BA-program met sosiologie as hoofvak gekies. Met haar passie vir uitreikwerk kon sy deur die Vrywilligheidsdiens-kortkursus die sakewêreld én die sosiale wetenskappe verken en insig in gemeenskappe en sosiale betrekkinge bekom. Verder kon sy aansluit by Phaphama SEDI, 'n studentbestuurde konsultantorganisasie sonder winsoogmerk wat universiteitstudente oplei om saam met plaaslike besighede en gemeenskappe sosiale verandering aan te moedig.

Dit was nie haar eerste ervaring van uitreikwerk nie, alhoewel dit dié keer beslis meer doelgerig was, verklaar Yverne. “Hierdie kortkursus het my die geleentheid gebied om twee dinge te kombineer waaroor ek regtig passievol voel, en om terselfdertyd my belangstelling in die sakewêreld deur Phaphama SEDI te verken."

“Die ervaring was werklik heerlik en een wat ek sal koester," sê sy. Die Phaphama SEDI-span werk toegewyd om te verseker dat studente alles het wat hulle benodig, van vervoerlogistiek tussen Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad tot steun vir hulle gemeenskapsprojekte.

Yverne meen haar deelname aan die Vrywilligheidsdiens-kursus was meer as net om vrywilliger-ure te kon aanteken; dit was veral bedoel om 'n verskil in die samelewing te maak, maar terselfdertyd vaardighede vir haar toekomstige loopbaan te ontwikkel. Sy beklemtoon dat die kortkursus op bemagtiging en gemeenskapsbetrokkenheid toegespits is en 'n waardevolle platform skep vir studente wat tot sosiale verandering wil bydra en werklike ervaring wil opdoen.

Op die vraag of sy die kursus vir ander studente sou aanbeveel, antwoord sy: “Beslis, die bevrediging om te sien hoe iets waaraan jy deel het tot iets konkreets ontwikkel, iets meer as iemand se visie, is werklik vervullend."

Aansoeke vir die tweede inname van studente wat belangstel om vir die kursus in die 2025- akademiese jaar aansoek te doen, is tans oop.

Vir meer inligting oor die kursus Gemeenskapsimpak deur Vrywilligheidsdiens, stuur gerus 'n e?pos aan Michelle Pietersen by mpieters@sun.ac.za of besoek die Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie se webtuiste by https://casit.sun.ac.za/