?Twee wiskundestudente van die Universiteit Stellenbosch (US) het geskiedenis gemaak toe hul week lange internskap by 'n wiskundige aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), gelei het tot 'n artikel wat in die Journal of Algebra and its Applications gepubliseer gaan word.
Dr Amatya Goswami, 'n kenner van assosiatiewe ringe en algebras, algemene topologie, orde, roosters en geordende algebra?ese strukture by die UJ, sê dit is uiters seldsaam dat voorgraadse studente met 'n navorsingsartikel vorendag kom wat deur 'n gerespekteeerde vaktydskrif in wiskunde vir publikasie aanvaar word.
US-studente me Kerry Porrill (toe 'n tweedejaarstudent in wiskunde) en me Danielle Kleyn (toe 'n derdejaarstudent in wiskunde) het in November 2023 by hom besoek afgelê as deel van 'n internskap-inisiatief wat deur die Nasional Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskappe (NITheCS) bestuur word.
“Ek was aanvanklik van plan om hulle 'n paar roetine-oefeninge in ringteorie te gee. Ek het egter gou besef dat hulle heeltemal te gevorderd was vir sulke take. Ek het dus my oorspronklike plan opsy gesit en voorgestel dat ons aan 'n navorsingsprobleem werk.
“Tot my uiterste verbasing is 'n aansienlike aantal hoogs nie-triviale resultate binne die bestek van 'n enkele week bewys. Hierdie verwikkelinge het daarna uitgeloop op 'n navorsingsartikel. Alhoewel die skryfproses en voorlegging van die artikel tyd gevat het, is die noodsaaklike wiskunde feitlik heeltemal afgehandel gedurende daardie week lange besoek. Ek het gister amptelike bevestiging ontvang dat die artikel aanvaar is vir publikasie in die Journal of Algebra and its Applications," skryf hy onlangs in 'n e-pos aan die NITheCS.
Die twee US-studente sê hoewel ringteorie op daardie stadium 'n heeltemal onbekende veld vir hulle was, het hul albei die uitdaging “taamlik interessant" gevind: “Dit was aanvanklik nogal uitdagend, veral omdat baie daarvan vir ons nuut was. Ons het die hele week net gedink oor die ring wat ons moes bestudeer en het met idees rondgespeel," sê Kerry.
Die blootstelling aan hierdie veld van wiskunde het beslis hulle belangstelling in algebra in die algemeen aangewakker. Kerry doen tans 'n Honneurs BSc-graad in wiskunde en beplan om in algebra te spesialiseer, terwyl Danielle besig is met haar MSc in wiskunde – in roosterteorie en universele algebra – onder die studieleiding van dr Michael Hoefnagel.
Die artikel getiteld: “On Structures of the Ring of Arithmetical Functions: Prime Ideals and Beyond", is aanlyn beskikbaar by arXiv.
Die NITheCS-internskapprogram bied aan voornemende wiskundiges die geleentheid om vroeg in hul akademiese reis reeds by wiskunde op navorsingsvlak betrokke te raak. Volgens dr Goswami is so 'n inisiatief uiters voordelig én dringend nodig, veral in die Suid-Afrikaanse konteks.