Met ons jaarlikse reeks
#dagindielewe, wat in Mei ter viering van Werkersdag verskyn, vestig ons spesiaal die aandag op ons personeellede by die Universiteit Stellenbosch (US). Vanjaar stel ons jou bekend aan professionele administratiewe steundienstepersoneel wat 'n tasbare verskil in studente se lewens maak.
Geraldine Minnaar staan aan die hoof van die span by Koshuisdienste en sorg dat duisende studente veilige, skoon en verwelkomende leefruimtes geniet. Lees hier onder oor haar toegewyde werk om alles by ons koshuise vlot te laat verloop.
Wat behels jou werk by die US?
Ek is die hoof van SUNKOM se Koshuisdienste-afdeling, wat sorg dat ál ons Universiteit se koshuise doeltreffend funksioneer. Ons bied tans verblyf aan 8 100 studente, en ons doel is om seker te maak dat hulle so gemaklik moontlik in ons ruimtes is, want dit is immers hulle tweede tuiste. Ons hubs maak boonop voorsiening vir ons pendelstudente en is ten volle toegerus met studie-, ontspannings- en buite-areas.
My ongelooflike span is oor die Stellenbosch- en Tygerbergkampus versprei en bestaan uit vyf klusterkoshuisdiensteko?rdineerders, 17 koshuisko?rdineerders, vier koshuisassistente en 'n administrateur – almal mense op wie ek kan staatmaak om die Koshuisdienste-skip voorspoedig te laat vaar.
Ons sorg dat ho? netheidstandaarde in ons koshuise gehandhaaf word, dat gebou-instandhouding betyds gedoen word, en dat ons studente se leefruimtes veilig is en topklas bly. Ek hou ook toesig oor tenderprosesse, hanteer ouers se navrae en hou deurlopend die fasiliteite van ander universiteite en die algemene mark dop om te sorg dat ons mededingend bly.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk?
Dis superbesig! Ons werk saam met verskeie interne en eksterne belanghebbendes sowel as diensverskaffers, so dinge kan in 'n oogwink verander. Enigiets kan opduik wat dadelik hanteer moet word, so kritiese denke, prioritisering, veerkragtigheid, oplettendheid en proaktiwiteit is alles noodsaaklik. Ondanks die daaglikse druk program, moet ek bieg daar gaan nie 'n dag verby sonder 'n bietjie humor tussen my take deur nie. Ek het altyd tyd vir 'n grappie of twee, hetsy gedurende foonoproepe, in vergaderings, of wanneer ek besoekers ontvang of met kollegas skakel.
Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir dié werk voorberei?
Ek het met 'n ompad in my huidige rol beland. Ek het aanvanklik ingeskryf om maatskaplike werk te studeer, maar het later my vakgebied verander en uiteindelik 'n Nasionale Diploma in Gasvryheid en Spysenieringsdienste verwerf. Verskillende poste in die bedryf het gevolg, waaronder assistentspysenieringsbestuurder vir 'n eksterne maatskappy by die US se Simonsberg-koshuis en spysenierings-/projekbestuurder.
Ek het my in 2012 amptelik as 'n koshuisdiensteko?rdineerder by die Universiteit se Koshuisdienste-span op die Tygerbergkampus aangesluit. 'n Jaar later is ek oorgeplaas na die Stellenbosch-kampus waar ek die koshuisdiensteko?rdineerder vir Metanoia-koshuis was. Daardie pos het my persoonlike insig in koshuisstudente se praktiese behoeftes gebied.
Ek het my huidige pos in 2020 aanvaar. Om gedurende die pandemie in 'n nuwe pos te begin en terselfdertyd deeltyds te studeer (BCom Ondernemingsbestuur) was 'n uitdaging. Ek het destyds my BCom tydelik gestaak, maar het sedertdien my studie hervat. Ek is dankbaar vir die pad wat my tot hier gebring het. Ek het boonop 'n liefde vir studenteskakeling ontwikkel, wat my ook baie vreugde gee.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Ek geniet die interaksie met verskillende rolspelers wat saam na een, gemeenskaplike doel streef – om ons studente gelukkig te maak en te hou.
Koshuisdienste het byvoorbeeld onlangs met Factory 209 saamgewerk om 'n kommunikasieplatform met verskillende funksies vir koshuisstudente te ontwikkel. Hulle kan onder meer instandhoudingskwessies daarop aanmeld. Ons beproef die platform sedert die Januarie-inname by twee koshuise, en ek is opgewonde om te sien hoe dit groei en ontwikkel.
Koshuisdienste is nie net 'n afdeling nie, maar 'n klein familie wat oor die jare saam gegroei het. Ek geniet dit om die span na uitnemendheid te lei en hulle in staat te stel om hulle werk na hulle beste vermo? te doen.
Daarbenewens is ek deel van die groter SUNKOM-omgewing waar ek deelneem aan besluitneming en waar my bydrae op prys gestel word, wat 'n kernrol speel om my gemotiveerd te hou.
Ek geniet ook die daaglikse interaksie met kollegas en studente.
Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag.
Ek is fanaties oor plante! My gunsteling is vetplante. As enigeen tuis op soek is na my, sal hulle my waarskynlik in die tuin kry, dolgelukkig met my vingers in die grond.
Tuinmaak is vir my terapeuties, maar ook bevredigend, want jy kan die resultate van jou werk sien. My papajaboom dra op die oomblik die mooiste vrugte wat net wag om ryp te word. My grootste beloning is om te sien hoe die klein saadjie wat ek versorg het 'n plant word wat my met geskenke oorlaai. Nóg 'n stokperdjie is klipkuns. Ek verf klippe in my tuin – dit laat my ontspan, en gee terselfdertyd 'n bietjie karakter aan die ruimte.
PHOTO & VIDEO: Stefan Els