中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“Dinkbeeld: Smeltkroes”-beeldhouwerk voor die Endler onthul
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 16/04/2025
?’'n Nuwe beeldhouwerk getiteld Dinkbeeld: Smeltkroes (in Engels Crucible) is onlangs voor die Endlersaal in Victoriastraat by die Universiteit Stellenbosch onthul. Die kunswerk, gegiet in gepatineerde brons, is geskep deur die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars en US-alumni Anton Kannemeyer en Claudette Schreuders, en is geskenk deur US-alumna Dominique Enthoven en haar man, Adrian.

Kannemeyer verduidelik dat die beeld begin het met die idee van 'n openbare bankie. “Die vertrekpunt was ‘n soort bankie wat mens sou vind in ‘n park, ‘n bushalte, ‘n treinstasie, in die omgewing van ‘n publieke beeld of gedenktuin, of selfs net op ‘n ruspunt. In die geskiedenis van Suid-Afrika is publieke bankies natuurlik simbolies van rassehaat en verdeeldheid. Geskiedkundig dus ‘n plofbare simbool wat ons sonder die figuur, wit of swart, wou uitbeeld.”

Hy verduidelik voorts: “Die tweede gedagte of inspirasie was St Francis van Assisi, promotor van vrede, eenvoud en harmonie. Hy is ook bekend as die beskermheilige van die armes, diere en die ekologie. Tradisioneel is daar menige beelde (en dit sluit in beeldhouwerk, skilderye en illustrasies) van St Francis wat met diere, maar veral vo?ls uitgebeeld word. Harmonie of versoening was hier ‘n kerngedagte. Die kombinasie van bogenoemde twee idees het ons dus gelei na ‘n bankie waarop ‘n relatief groot verskeidenheid van inheemse vo?ls rus. Die onwaarskynlike groep dien as metafoor vir kennis en veral die bewaring van hierdie kennis, ‘n hoofdoel of funksie van enige universiteit.”

Dinkbeeld: Smeltkroes vorm deel van ’n bre?r artistieke visie wat die Think Bench insluit — ’n 13-meter lange beeldhouwerk in die openbare ruimte wat nou permanent op die grasperk voor die Fakulteit Ingenieurswese in Banghoekweg staan. Dit is geskenk deur GT Ferreira, stigter van Rand Merchant Bank en US-alumnus. Die visie sluit ook cinga in (wat “dink” beteken in isiXhosa), wat tans in die konsepfase is.

Die inisiatief word gelei deur Pieter Swart, Direkteur van Spesiale Projekte by die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge en word gedryf deur 'n diep geloof in die krag van die kunste en die unieke potensiaal van die US-kampus as 'n ruimte om kuns, veral beeldhouwerk, ten toon te stel.

"Kuns is my passie en deel van my fokus binne die Afdeling," sê Swart. “Die kampus, as ’n uitbreiding van die dorp, bied ’n ideale platform om met bre?r inisiatiewe soos die Stellenbosch Art Mile en die Stellenbosch Outdoor Sculpture Trust te skakel.”

Swart sê die idee vir Dinkbeeld: Smeltkroes het begin tydens die ampstermyn van oudrektor professor Wim de Villiers, wat hom uitgedaag het om die oorspronklike Think Bench-konsep uit te brei. “Die visie was om ’n reeks beeldhouwerke te skep wat die woord ‘Dink’ in Afrikaans, isiXhosa en Engels interpreteer, in lyn met die US se verbintenis tot inklusiwiteit,” verduidelik hy.

Swart sê die kunswerk is ryk aan simboliek. "Die naam verwys na die proses van smelt en samesmelting van metale om iets sterk en mooi te skep. Die vo?ls, elkeen van mekaar onderskei, sit saam in harmonie en verteenwoordig eenheid in diversiteit."

Volgens Swart is verskeie plekke op die kampus oorweeg, insluitend die Botaniese Tuin, maar is die Endler uiteindelik gekies. “Die Endler is in die kunste gesetel en huisves reeds werke van die bekroonde skilder en voormalige hoof van Beeldende Kunste, professor Larry Scully, asook die beeldhouer Rudolf Gouws. Die ligging is baie sigbaar en nooi nadenke.”

Vir Kannemeyer het die titel Smeltkroes te make met sowel die tegniese as konsepsuele aspekte van die beeld. “‘n Smeltkroes is ‘n vuurvaste houer waarin metale saamgesmelt word om brons te vorm, vanuit hierdie kroes is die beeld gevorm. Maar ‘n smeltkroes is ook beproewende omstandighede wat lei tot ‘n suiwerende uitkoms. Ons hoop is dat die beeld vir almal, ongeag ras, kleur of gender, harmonie sal besorg.”