Hoewel ’n derde van Suid-Afrikaners ’n geestesgesondheidstoestand ervaar en meer as 27% deur depressie geraak word, word slegs 5% van die nasionale gesondheidsorgbegroting aan geestesgesondheidsdienste toegeken.
Prof Renata Schoeman, hoof van Gesondheidsorgleierskap by die Stellenbosch Bestuurskool, sê beperkte toegang, stigma en ’n swak gefinansierde stelsel laat miljoene sonder bystand, wat die las op hospitale en nooddienste vererger.
“Die gebrek aan investering in geestesgesondheid is skokkend,” sê prof Schoeman. “Ons kan nie voortgaan om geestesgesondheid as ’n nagedagte te hanteer terwyl dit die kern uitmaak van ons burgers se algehele welstand nie.”
Volgens Sapien Labs se verslag Mental State of the World in 2024, beklee Suid-Afrika, met ’n geestesgesondheidskwosi?nt van 50, die 69ste plek uit 71 lande wat alle aspekte van geesteswelstand betref. Die land het ook die grootste persentasie respondente (35%) wat in geestesnood verkeer of sukkel.
’n Derde van Suid-Afrikaners ly aan ’n geestesgesondheidstoestand, en tog kry die meeste nié hulp nie. Geestesgesondheidskwessies onder tieners is aan die toeneem en word aangevuur deur ekonomiese ontbering, maatskaplike onstabiliteit, en swak toegang tot dienste.
“Die nasionale gesondheidsorgbegroting vir 2024/25 het met slegs 3,5% toegeneem en hoegenaamd nie tred gehou met inflasie nie. Die selfs slegter nuus is dat die begroting vir 2025/26 tot R28,9 miljard sal krimp, ondanks toenemende gesondheidsorgbehoeftes,” sê prof Schoeman.
“Hierdie geld sal hoofsaaklik vir salarisse en farmaseutiese voorraad gebruik word, wat weinig ruimte laat vir infrastruktuurontwikkeling, innovasie óf stelselwye verbeteringe.
“Suid-Afrika bestee 8–9% van sy bruto binnelandse produk (BBP) aan gesondheid, wat baie is volgens wêreldstandaarde, en tog bly ons stelsel gekenmerk deur ondoeltreffendheid en swak prestasie. Dit gaan nie net oor ’n geldtekort nie – dit gaan oor hoe geld aangewend word. Korrupsie, wanbestuur en ondoeltreffendheid tap die stelsel leeg.”
Prof Schoeman sê hulpbronne in die gesondheidsorgstelsel is veels te min. “’n Tekort aan geestesgesondheidsorgwerkers, ’n gebrek aan ervare praktisyns, en onvoldoende hulpbronne vir nasorg om seker te maak dat pasi?nte met hulle behandeling volhou, dra alles by tot ’n konstante behandelingsgaping.”
Die Suid-Afrikaanse staatsektor het gemiddeld slegs 0,31 psigiaters vir elke 100 000 mense, wat boonop oneweredig tussen landelike en stedelike gebiede versprei is. Party oorwegend landelike provinsies het slegs 0,08 psigiaters per 100 000 mense in die staatsektor. Daarbenewens is daar ’n kritieke tekort aan kinderpsigiaters: Slegs drie van die nege provinsies hét enigsins kinderpsigiaters in die staatsektor. Sowat 50% van staatshospitale wat psigiatriese sorg verskaf, het nie ’n enkele psigiater nie, en 30% het geen kliniese sielkundiges nie.
“Die gaping tussen beleid en implementering is enorm. Hoewel daar raamwerke bestaan, beteken die tekort aan toegewyde hulpbronne en opgeleide beroepslui dat gesondheidsorg die ‘arm neef’ van die gesondheidsorgstelsel bly,” sê prof Schoeman.
Volgens haar is Suid-Afrikaanse gesondheidsorgwerkers onder dié wat die ergste hieronder ly, met ernstige personeeltekorte by hospitale, ’n oorweldigende werklas en stagnante lone. Baie verlaat die openbare sektor of emigreer, wat ’n reeds brose stelsel selfs verder destabiliseer.
“Ons land se stelsel is aan die meegee onder die druk van ’n oorweldigde werksmag, verwaarloosde geestesgesondheidsdiente, en ondoeltreffendheid wat waardevolle hulpbronne uitput. Ons staan nie net voor ’n geldkrisis nie – ons het te doen met ’n emosionele resessie onder gesondheidsorgwerkers,” sê prof Schoeman. “Dokters en verpleegkundiges is op breekpunt, en dít be?nvloed pasi?ntsorg en die toekoms van ons gesondheidsorgstelsel.”
Sy argumenteer vir ’n verskuiwing na ’n waardegebaseerde gesondheidsorgmodel – ’n stelsel wat uitkomste, doeltreffendheid en toeganklikheid prioritiseer, en terselfdertyd koste besnoei. “Ons kan nie aanhou pleisters plak op ’n stelsel in nood nie,” sê sy. “Dit is tyd vir werklike hervorming; so nie, loop ons gevaar dat ons gesondheidsorgsektor geheel en al in duie kan stort.”
Waardegebaseerde gesondheidsorg draai om:
beter pasi?nt-uitkomste eerder as net groter diensvolumes;
beter ervarings en groter tevredenheid vir pasi?nte;
die uitskakeling van ondoeltreffendheid om bestaande hulpbronne so goed moontlik te benut; en
kosteverlagings deur op langtermynverbeteringe in gehalte te konsentreer.
“Die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is nie ’n oplossing nie – dis ’n finansieringsmodel, en nie ’n dienshervormingsplan nie,” sê prof Schoeman. “Om net nóg geld in die stelsel te stort sonder om korrupsie en ondoeltreffendheid uit die weg te ruim sal nie fundamentele herstrukturering in Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel teweegbring nie. Die hantering van personeeluitbranding, die versterking van gesondheidsorgdienste, die uitskakeling van korrupsie en die aanvaarding van ’n waardegebaseerde gesondheidsorgmodel is noodsaaklike stappe vir ’n volhoubare toekoms.”