U word genooi na die tweede kwartaallikse Onderrig-Leer-Assessering seminaar van 2025, aangebied deur die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking (OLA).
?
Spreker: Prof. Faadiel Essop (Fakulteit Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe)
Onderwerp: Blaas die vuur aan: Transformerende onderrig en die dekolonisasie van mediese onderwys
Date: 15 Mei 2025
Tyd: 13:00-14:00
Sinopsis
Prof Faadiel Essop besin in hierdie seminaar oor sy reis as ’n opvoeder, wetenskaplike en mentor, en verken hoe transformerende onderrig dissiplinêre silo’s kan afbreek en tradisionele paradigmas in mediese onderwys kan bevraagteken. Op grond van sy ervaring in uiteenlopende rolle – van mentor vir ho?rskoolleerders in hulpbronarm gemeenskappe tot leier in kardiometaboliese navorsing in Afrika – ontleed prof Essop die filosofie agter sy “pedagogie van betrokkenheid”.
As die ontvanger van die TAU-genootskapsprys vir 2024, is prof Essop ’n kampvegter vir onderwys wat uit méér as inhoudsaanbieding bestaan en ook kritiese denke, ’n maatskaplike bewussyn en ’n doelbesef by studente skep. In die seminaar bespreek hy sy innoverende interdissiplinêre inisiatiewe, waaronder samewerkings tussen mediese en kunsstudente, en sy werk aan die dekolonisering van mediese onderwys deur die module “Kenmerke van die Wetenskap”.
Vir hom is die wetenskap en die samelewing onlosmaaklik verbind en daarom nooi hy ons om nuut te dink oor opvoeders se rol in die ontwikkeling van graduandi wat nie net tegnies vaardig is nie, maar ook maatskaplik bewuste agente vir verandering kan wees. Hierdie seminaar bied insig in die toekoms van transformerende onderwys en moedig ons aan om ons onderrig, leer en betrokkenheid in die akademie uit ’n nuwe hoek te beskou.
Biografie van spreker
Prof Faadiel Essop is ’n professor en direkteur van die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika aan die Universiteit Stellenbosch se mediese fakulteit. Hy het sy studie tot op doktorale vlak aan die Universiteit van Kaapstad voltooi en daarna boonop ’n HonsBA in Arabiese Studie
aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf. Hy het die Chevening-genootskap ontvang (Leeds, Verenigde Koninkryk) en was ook ’n Fulbright-genoot by die Universiteit van Texas Gesondheidswetenskapsentrum in Houston. Prof Essop beskik oor ’n gradering van die Nasionale Navorsingstigting en is ’n internasionaal gerekende navorser wat die uitwerking van chroniese stres op menslike gesondheid bestudeer. Hy het die Universiteit Stellenbosch se Toekenning vir Uitnemende Onderrig twee maal ontvang, en hy is ’n genoot in die TAU-program vir die bevordering van universiteitsonderrig. Hy het voorheen as president van sowel die Fisiologievereniging van Suider-Afrika (PSSA) as die Afrikavereniging van Fisiologiese Wetenskappe gedien, en is ’n voormalige voorsitter van die navorsingsadvieskomitee van die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika. Prof Essop dien tans as ’n verkose raadslid van die Internasionale Unie van Fisiologiese Wetenskappe. Hy is ook ’n genoot van die Amerikaanse Fisiologievereniging en het die PSSA se prestigeryke toekenning vir lewenslange loopbaanprestasie in navorsing ontvang. Prof Essop is in 2023 tot ’n genoot van die Royal Society van Suid-Afrika verkies, en sy innovasie in kurrikulumontwikkeling, interdissiplinêre werk en holistiese studente-opleiding op mediese gebied het hom in Desember 2024 die TAU-genootskapsprys besorg.?
Affiliasie: Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika (CARMA), Afdeling Geneeskundige Fisiologie, Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI), Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Universiteit Stellenbosch, Kaapstad, Suid-Afrika
Foonnommers: +27 21 938 9388 and +27 76 901 9474