Dr Velenkosini Matsebula is ’n senior dosent in Ontwikkelingsfinansies by die Stellenbosch Bestuurskool.
Die Suid-Afrikaanse regering het hom weereens tot belasting gewend om sy fiskale uitdagings die hoof te probeer bied met die aankondiging dat belasting op toegevoegde waarde (BTW) in 2025/26 met ’n halwe persentasiepunt en in 2026/27 met ’n verdere halwe persentasiepunt sal styg om uiteindelik op 16% te staan te kom. Ofskoon hierdie besluit geregverdig word as noodsaaklik om kritiese maatskaplike dienste te finansier, is dit net nóg ’n teken dat die ekonomie vasgevang is in ’n selfherhalende kringloop van stagnasie, toenemende staatskuld, en oorafhanklikheid van ’n kwynende belastingbasis. Die kernvraag wat ons moet vra, is of hierdie verhoging ’n volhoubare oplossing is, of bloot ’n tydelike maatre?l wat dieper ekonomiese uitdagings sal vererger.
’n Kwynende belastingbasis en beperkte moontlikhede
Die regering het sy besluit om BTW te verhoog verdedig met die argument dat alternatiewe inkomsteverhogingsmaatre?ls, soos ’n verhoging in korporatiewe of persoonlike inkomstebelasting, meer kwaad as goed sal doen. Korporatiewe belastinginkomste het inderdaad reeds begin afneem weens dalende sakewinsgewendheid, en Suid-Afrika se persoonlike belastinginvorderingskoers vergeleke met BBP is klaar een van die hoogstes in die ontwikkelende wêreld. Aangesien bykans 28 miljoen Suid-Afrikaners op maatskaplike toelaes staatmaak, is daar weinig ruimte om nóg inkomste uit persoonlike verdienstes te probeer pers sonder om verbruikers se koopkrag verder te verswak.
Intussen staan gemiddelde BBP-groei in die land al die afgelope dekade lank stil op onder 2%. Die groeikoers vir 2024 was slegs 0,6%, en die vooruitskatting vir die mediumtermyn is maar 1,8%. Hierdie stadige ekonomiese groei beperk die staat se vermo? om bykomende inkomste deur die natuurlike uitbreiding van die belastingbasis te skep. As groei nie verbeter nie, plaas elke bykomende belastingverhoging bloot verdere druk op bestaande belastingbetalers, sonder enige betekenisvolle verbetering in die fiskale posisie.
Die BTW-las op kleinsake en verbruikers
Kleinsake en lae-inkomsteverbruikers sal die spit van die BTW-verhoging afbyt. Waar groter ondernemings dalk nog kosteverhogings kan absorbeer, sal mikro-entrepreneurs en informele handelaars, wie se winsgrense reeds uiters skraal is, nou nóg swaarder trek. Baie van hierdie ondernemings is nie vir BTW geregistreer nie, en kan nie BTW-insetkrediete eis nie, wat beteken hulle bedryfskoste sal styg sonder enige vorm van verligting. Vir verbruikers sal die BTW-verhoging verdere druk plaas op huishoudelike begrotings in ’n tyd wat inflasie, werkloosheid, ho? elektrisiteitspryse en stygende vervoerkoste reeds koopkrag verswak.
Die regering het die skok probeer versag deur die lys items waarop geen BTW gehef word nie, uit te brei om nou ook ingemaakte groente, vloeibare suiwelmengsels en orgaanvleis in te sluit. Nietemin is dit onwaarskynlik dat dié maatre?l die impak van die belastingverhoging ten volle sal neutraliseer – die meeste huishoudelike besteding is immers steeds onderworpe aan BTW. Boonop skiet bewustheid van hierdie produkte ver tekort onder die algemene publiek.
Skulddiens teenoor ontwikkelingsprioriteite
’n Sterk dryfveer vir die BTW-verhoging is die koste om staatskuld terug te betaal. Uit die begrotingstoespraak het geblyk dat skulddienskoste in die huidige boekjaar op R389,6 miljard te staan sal kom, wat meer is as wat die regering aan gesondheid, polisi?ring of basiese onderwys bestee. Dít beteken dat elke bykomende rand in belastinginkomste toenemend gebruik word om rente op skuld te betaal eerder as om dit produktief te belê. Hoewel dit belangrik is om skuldvlakke te stabiliseer, moet die regering homself afvra of dit ’n haalbare langtermynoplossing is om die skroef vir belastingbetalers verder aan te draai, en of dieper strukturele hervormings dalk eerder nodig is.
Die ontbrekende bestanddeel: Ekonomiese groei en industri?le uitbreiding
Belastingverhogings op sy eie kan nie Suid-Afrika se fiskale uitdagings oplos nie; die oplossing is ’n betekenisvolle uitbreiding van die ekonomie. Die regering se verbintenis om oor die volgende drie jaar meer as R1 triljoen in infrastruktuur te belê wys dat dié besef tot hulle deurgedring het. Die doeltreffendheid van daardie belegging sal egter van praktiese implementering afhang. Grootskaalse infrastruktuurprojekte gaan veels te dikwels onder ondoeltreffendheid, korrupsie en wanbestuur gebuk. Dít lei tot oorbesteding en vertragings, wat die ekonomiese impak van dié projekte verswak.
Een belangrike gebied wat tot dusver afgeskeep is, is die uitbreiding van die sekondêre sektor, waaronder vervaardiging en industri?le produksie. ’n Sterk industri?le basis is noodsaaklik vir werkskepping en ekonomiese diversifisering. Suid-Afrika steun steeds heeltemal te swaar op die primêre sektor (mynbou en landbou) en dienste, terwyl vervaardiging agteruitgaan. Om deur aansporings, vaardigheidsontwikkeling en infrastruktuurbeleggings nuwe lewe in die vervaardigingsektor te blaas kan miljoene werksgeleenthede en ’n stabieler belastinggrondslag skep. Operasie Vulindlela, die regering se vlagskipprojek om ekonomiese hervormings te bespoedig, het ’n mate van sukses behaal, veral met die stabilisering van elektrisiteitsvoorsiening, die opening van logistieknetwerke, en die vermindering van administratiewe rompslomp vir ondernemings. Sterker implementering en verantwoordbaarheid is egter deurslaggewend vir die snelle groei wat nodig is om die belastingbasis uit te brei.
Industri?le uitbreiding sal nie net werkloosheid verminder nie, maar ook die regering minder afhanklik maak van verbruikersbelasting deur BTW-verhogings. Beleide wat waardetoevoegingsindustrie? soos landbouverwerking, voertuigvervaardiging en groen-energietegnologie bevorder, behoort voorrang te geniet om volhoubare groei te verseker.
Die informele sektor is ’n verspeelde inkomstegeleentheid
’n Verdere geleentheid vir inkomsteskepping wat tot dusver misgekyk word, is die regulering en formalisering van die informele sektor, veral die spazawinkel-ekonomie. Die informele handelsektor is honderde miljarde rande werd en vervul ’n kernrol om basiese goedere aan lae-inkomstehuishoudings te voorsien. Die sektor is ook ’n aansienlike begunstigde van maatskaplike toelaes aangesien baie toelaagafhanklikes hulle geld by hierdie ondernemings bestee. Omdat heelwat spazawinkels egter buite die formele belastingstelsel funksioneer, verbeur die regering hier aansienlike potensi?le belastinginkomste. Die regulering en integrasie van hierdie ondernemings in die formele ekonomie kan die belastingbasis help uitbrei sonder om BTW te verhoog.
’n Volhoubaarder pad vorentoe vir die fiskus
In plaas daarvan om op belastingverhogings staat te maak, behoort die regering ’n veelledige benadering te volg om fiskale volhoubaarheid te verbeter:
- Brei die belastingbasis uit deur groei: Beleggingsaansporings, minder beleidsonsekerheid en ’n meer sakevriendelike omgewing sal méér ondernemings in staat stel om te floreer, wat belastinginkomste op ’n natuurliker manier sal verhoog as om koerse verder op te stoot.
- Verbeter belastingvoldoening: Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het 156 000 belastingpligtiges ge?dentifiseer wat hetsy nie geregistreer is nie of nog nooit belastingopgawes ingedien het nie, ondanks beduidende ekonomiese aktiwiteit. Sterker wetstoepassing teen belastingontduikers kan meer inkomste skep sonder om die las op wetsgehoorsame belastingbetalers te verhoog.
- Verminder staatsvermorsing en -korrupsie: Bestedingstudies bring aansienlike ondoeltreffendheid in staatsprogramme aan die lig. ’n Sterker verbintenis tot die uitskakeling van verkwistende besteding kan broodnodige hulpbronne beskikbaar stel vir noodsaaklike dienste, sonder om belasting te verhoog. ’n Goeie beginpunt kan wees om weg te doen met ‘spookwerknemers’ in die openbare sektor.
- Hervorm staatsondernemings: Staatsondernemings soos Eskom en Transnet bly ’n bodemlose bestedingsput. Groter privaatsektordeelname en die uitoefening van strenger finansi?le dissipline kan die fiskale las wat hierdie entiteite op die nasionale begroting plaas, help verlig.
- Bevorder formalisering van die informele sektor: Suid-Afrika se groot informele ekonomie val steeds buite die belastingnet. Beleide wat formalisering aanmoedig, soos eenvoudiger belastingregistrasie, minder reguleringsvereistes en beter toegang tot krediet, kan geleidelik meer ondernemings by die belastingstelsel insluit. Daarbenewens sal die regulering van informele ondernemings soos spazawinkels nie net die belastingbasis uitbrei nie, maar ook billiker mededinging met formele kleinhandelaars verseker.
Die BTW-verhoging is ’n simptoom van ’n veel dieper ekonomiese krisis – een wat nie net met belasting opgelos kan word nie. Hoewel die regering voor moeilike keuses staan, is dit ’n kortsigtige strategie om die belastinglas op ondernemings en verbruikers te verhoog sonder om die oorsake van ekonomiese stagnasie te hanteer. Sonder strukturele hervormings, ’n doeltreffender openbare sektor en ’n duidelike fokus op groei, loop Suid-Afrika die gevaar van ’n eindelose kringloop van belastingverhogings, laer groei en ’n al hoe swakker fiskus.
Die werklike uitdaging vir beleidmakers is nie net om die boeke te laat klop nie, maar om ’n omgewing te skep waar ondernemings kan floreer, waar werkskepping kan uitbrei, en waar staatsinkomste organies kan groei. Enigiets minder as dít sal maak dat die Suid-Afrikaanse ekonomie voortdurend sy eie stert jaag sonder om ooit vorentoe te beweeg.
Dié artikel het oorspronklik in Stellenbosch Bestuurskool) verskyn.