Ek skryf hierdie meningsartikel op ’n kritieke oomblik, nie net vir bestuursonderrig nie, maar vir die groter stryd om geregtigheid in Suid-Afrika en elders. Vir my, as ’n akademikus, lyk die poging om diversiteit, billikheid en insluiting (oftewel ‘DEI’) uit die leksikon van bestuurskole te verwyder dalk problematies, maar hierdie radikale stap kan ook dekades se werk om ons werkplekke en die algemene samelewing te verbeter, tot niet maak. Die onlangse besluit deur die Association to Advance Collegiate Schools of Business (AACSB) om DEI uit sy verslagdoeningstandaarde te skrap dien as simbool van die groter pogings om enige sinvolle omgang met sistemiese ongelykhede in die onderwys en sakesektor te verontagsaam en te be?indig. ’n Stap wat onder politieke druk geneem is, word uitgebeeld as ’n poging om risiko vir die organisasie se lede te beperk. Dit is ’n jammerlike besluit in ruil vir korttermynguns, maar die realiteit vir die AACSB is veel noodlottiger: Dit is nie net ’n verandering in taal nie, maar ’n versaking van die beginsels van transformerende onderwys. Hierdie Faustiese ooreenkoms sal ongetwyfeld ’n morele letsel laat op die integriteit van die vereniging én diegene wat sy voorbeeld volg.
AACSB-akkreditasie word as die goudstandaard in bestuursonderrig beskou. Dit bied wêreldwye erkenning, getuig van wetenskaplike strengheid en voortreflike gehalte in bestuurskole, en bevestig ’n toewyding aan uitnemende onderrig en navorsing. Vir die Stellenbosch Bestuurskool bring akkreditasie onteenseglik ’n sterker reputasie, groter geloofwaardigheid, beter verhoudings binne die bedryf, en die vermo? om die beste kandidate vir bestuursonderrig te lok. Nietemin kom hierdie prestige te alle tye met die verantwoordelikheid om toekomstige sakeleiers toe te rus met ’n begrip van die kompleksiteite van die wêreldekonomie, wat inherent met kwessies van diversiteit, billikheid en insluiting verstrengel is. Deur onder hierdie druk te swig en van sy verbintenis tot DEI afstand te doen, sê die AACSB in wese dat diversiteit onbelangrik eerder as onontbeerlik is vir bestuursonderrig van gehalte. Vir diegene in die ho?r onderwys is dít nie net ’n akademiese kwessie nie; dit het werklike gevolge vir ondernemings, ekonomie? en samelewings wat etiese en maatskaplik bewuste leiers vereis.
In Suid-Afrika is die historiese stryd teen sistemiese uitsluiting steeds onopgelos, en die stemme van ontevrede burgers mag nie verontagsaam word nie, maar moet daadwerklik aandag ontvang. Selfgenoegsaamheid is nie ’n opsie nie. Terselfdertyd moet diegene wat verklaar dat hulle demokratiese waardes en die Suid-Afrikaanse Grondwet onderskryf, hulle daarvan weerhou om ekstern steun te werf by partye wat allermins daarin belang stel om ons gemeenskaplike uitdaging van ongelykheid die hoof te bied. Ons moet waaksaam en proaktief bly om koers te hou met herstellende geregtigheid, en sodoende seker maak dat ons opvoedkundige en bestuursinstellings almal eerder as net ’n groepie bevoorregtes bedien. Die onlangse omstredenheid oor studentegeld op ons voorstoep toon duidelik dat ons werk nog lank nie klaar is nie. Die stryd om ware inklusiwiteit duur voort, en sakeleiers en opvoeders moet enige versoeking weerstaan om die nasie se transformasie-agenda te verwater of te depolitiseer. Dit is op stuk van sake óns land, om mee te maak wat ons wil – mits ons kan saamstem oor wát dit is wat ons wil. As ons versuim om hierdie uitdagings konstruktief – en daarmee bedoel ek ‘trompop’ – te hanteer, loop ons gevaar om regressiewe magte vatkans te gee om dekades se (ofskoon stadige) vordering ongedaan te maak. Ons moet onthou hoe belangrik dit is om sakeleiers op te lewer wat die moed en kritiese bewussyn het om gemeenskappe rondom hulle te verander. As bestuurskole, moet ons hierdie poging tot die verswakking van DEI teenstaan, en nooit ophou voorspraak doen vir werklike, substansi?le verandering eerder as gesaniteerde, risiko-afkerige retoriek nie.
Taal as ’n skild, en die mite van neutraliteit
Die AACSB se besluit om “diversiteit en insluiting” met “gemeenskap en verbondenheid” te vervang dui op die toenemende tendens om meer verteerbare, minder konfrontasionele taal te gebruik in plaas daarvan om die hoofoorsake van uitsluiting te hanteer. Dít is nie neutraliteit nie – dit is aandadigheid; ’n “negatiewe vrede, waar spanning afwesig is” eerder as ’n “positiewe vrede, waar geregtigheid aanwesig is”. In Suid-Afrikaanse verband is ons alte bekend met hoe eufemismes en vermydingstrategie? ongelykheid voortsit eerder as uitwis. Die apartheidsbestel het destyds byvoorbeeld burokratiese taal gebruik om sistemiese onderdrukking te regverdig, en deesdae laat korporatiewe Suid-Afrika ons in die steek wanneer hulle diversiteitstaal as ’n handelsmerkoefening sonder enige ware verbintenis tot geregtigheid inspan. As die AACSB werklik waarde heg aan inklusiwiteit, sal die organisasie nie net terminologie wysig nie, maar ruimtes vir eerlike, kritiese gesprek oor sistemiese hindernisse in bestuursonderrig skep. Die geskiedenis het bewys dat simboliese gebare sonder substansi?le beleidsveranderinge katastrofiese gevolge kan hê.
Dink maar aan die herroeping van regstellende aksie in die Verenigde State, toe die Hoogste Hof van die Verenigde State in 2023 ras as faktor in universiteite se toelatingsbeleide verbied het, wat diversiteit by elite-instellings laat kwyn en sosio-ekonomiese skeidslyne versterk het. Eweneens word Suid-Afrika se beleide oor bre?basis- swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB), hoe goed dit ook al bedoel is, dikwels uitgebuit tot voordeel van ’n bevoorregte paar eerder as dat dit sinvolle ekonomiese transformasie teweegbring. Wanneer organisasies liewer voldoeningslysies afmerk as om ware insluiting te bevorder, ondergrawe hulle nie net die bedoeling van die beleid nie, maar verskans hulle juis daardie ongelykhede wat die beleid probeer uitwis.
’n Gevaarlike presedent vir bestuurskole
Ja, dalk is daar ’n
finansi?le koste, maar deur voor die politisering van DEI te swig, stel die AACSB ’n gevaarlike presedent vir bestuurskole wêreldwyd. Instellings wat AACSB-akkreditasie wil bekom, sal dít vertolk as ’n teken dat diversiteitswerk onbelangrik eerder as onontbeerlik is. Dít is veral kommerwekkend vir Suid-Afrikaanse bestuurskole, vir wie transformasie ’n voortgesette proses is in die nadraai van apartheid. Ons instellings kan nie bekostig om die voorbeeld te volg van Amerikaanse universiteite, wie se vrees vir ’n politieke teenreaksie swaarder weeg as hulle verbintenis tot geregtigheid nie. Ons het te ver gevorder om nou om te draai en te maak of die werk klaar is.
Onderwys is nooit apolities nie, en om stil te bly te midde van sulke onderdrukkende denke is om jou te skaar by diegene wat hierdie mag uitoefen. Bestuurskole is nie net opleidingsinstansies vir bestuurders nie, maar instellings wat die leiers van m?re toerus. Indien daardie leiers nie geleer word om krities met ras, geslag, klas en gestremdheid om te gaan nie, loop ons gevaar om dieselfde kringlope van uitsluiting wat wêreldwye kapitalisme geruime tyd gekenmerk het, voort te sit.
Dit sal ’n ewe beduidende impak op ondernemings hê. Maatskappye wat nie behoorlik toegerus is om diverse en inklusiewe werksmagte te bou nie, sal ’n mededingingsagterstand hê. Navorsing toon konsekwent dat diverse spanne innovasie aanvuur en beter besluitneming tot gevolg het. Deur DEI in die onderwys nou as onbelangrik af te maak, sal bestuurskole graduandi oplewer sonder die oordeelsvermo? om in multikulturele, geglobaliseerde markte te funksioneer, wat tot swakker korporatiewe aanpasbaarheid en etiese blindekolle in leierskap sal lei.
Die fout van risikovermyding: Die behoefte aan waagmoedige gesprekke
Lily Bi, president en uitvoerende hoof van die AACSB, beweer dat hierdie verandering veronderstel is om “risiko te beperk” en langtermynstabiliteit te verseker.
Maar tot watter prys? Stabiliteit is ’n swak verskoning om te sit en toekyk hoe ’n onreg gepleeg word. Ware leierskap verg die moed om die status quo te bevraagteken, selfs al is dit ongemaklik. Deur DEI uit hulle beginsels te skrap, versterk die AACSB die gedagte dat bestuursonderrig ’n instrument van bestaande magstrukture eerder as ’n werktuig vir billike verandering moet wees.
Die gevolge van die verontagsaming van DEI strek veel verder as bestuurskole, en word ook in wêreld-ekonomie? beleef. Die finansi?le krisis van 2008 is byvoorbeeld vererger deur ’n gebrek aan diverse perspektiewe in besluitnemingsliggame, wat gelei het tot ongekontroleerde risikoaanvaarding en ’n onvermo? om sistemiese ineenstorting te voorsien. Hier op tuisbodem bied die voortslepende Steinhoff-sage ’n soortgelyke voorbeeld. Daarteenoor toon maatskappye wat inklusiewe leierskap aanvaar het, soos dié met sterk DEI-beleide, groter veerkragtigheid in krisistye, onder andere gedurende die 中国体育彩票-pandemie. Apple is een so ’n maatskappy. Ondanks ál hulle ander tekortkominge, was hulle dapper genoeg om hulleself te handhaaf. Ons moet almal onthou dat die uitsluiting van gemarginaliseerde stemme van ekonomiese besluitneming tot beleide en praktyke lei wat ekonomiese ongelykheid vererger eerder as verlig. En uiteindelik sal die menigtes wat reeds benadeel word, aanhou swaarkry.
Van simboliek tot substansie
In plaas daarvan om diversiteitstandaarde te skrap, behoort die AACSB en ander akkreditasieliggame hulle verbintenis tot betekenisvolle transformasie te verdiep. Om dít te doen, moet hulle eerstens ’n beroep op hulle vennote doen om te verseker dat DEI ’n vaste kenmerk van hulle kurrikulums bly, en nie as ’n opsionele ekstra beskou word nie. Tweedens moet die AACSB en ander akkreditasieliggame sorg dat daar konkrete en meetbare uitkomste is om te rapporteer, en nie net by vae verbintenisse tot “gemeenskap” bly nie. Derdens moet bestuurskole aangemoedig word om aan kritiese pedagogie? deel te neem wat kwessies van bevoorregting en mag kaalhand takel eerder as om daarvoor te koes. En laastens moet die AACSB ’n kampvegter wees vir geleenthede waar stemme wat dikwels stilgemaak word, ’n ruimte kry om gehoor te word eerder as om toe te laat dat risiko-afkerige besluitneming hulle aanhou doodsmoor
Suid-Afrikaners weet maar alte goed dat simboliese gebare, soos om onsself die Re?nboognasie te noem, of meer onlangse veldtogte soos “No RSA, just DNA”, nie genoeg is sonder wesenlike, strukturele verandering nie. Verdrukkende regimes is nog nooit be?indig deur onderdrukking bloot ’n ander baadjie te gee nie; dit verg ’n volgehoue stryd en ’n toewyding aan die onverbloemde waarheid. Bestuurskole moet dié voorbeeld volg en ’n omgewing skep waar moeilike gesprekke verwelkom eerder as vermy word.
’n Prys om te betaal
Die AACSB se besluit dui op ’n diepliggende vrees vir die tipe transformasie wat ware onderwys juis verg. Dit is egter nie net ’n Amerikaanse kwessie nie, maar het wêreldwye gevolge. Bestuurskole moet sterk staan teen die versoeking om diversiteit en insluiting te depolitiseer. Indien nie, word hulle instellings wat die status quo versterk eerder as verander.
Waarlik transformerende onderwys lewer nie net sakeleiers op wat bestaande strukture handhaaf nie, maar kweek leiers wat daardie strukture bevraagteken en hervorm. Diversiteit en insluiting kan nie tot retoriek verskraal word nie; dit vereis daadwerklike optrede, rekenskap, en ’n onwrikbare toewyding aan geregtigheid. Daarsonder sit ons met piriet eerder as goud – die illusie van vooruitgang sonder enige ware betekenis.
* Dr Armand Bam is hoof van sosiale impak en senior dosent: Sake in die Samelewing by die Stellenbosch Bestuurskool. Dié artikel het oorspronklik in Financial Mail (Business Live) verskyn.