中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe gesamentlike leerstoel in Berekeningsastronomie bekendgestel
Outeur: Media: Faculty of Science
Gepubliseer: 27/02/2025

?'n Langdurige vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Groningen (UG) in die Nederlande, is verder versterk met die bekendstelling van 'n gesamentlike Navorsingsleerstoel in Berekeningsastronomie.

Hierdie navorsingsleerstoel word gelei deur academici van beide universiteite, by name: prof. Yin-Zhe Ma, 'n astrofisikus in die US se Departement Fisika, en prof. Léon Koopmans, wetenskapsdirekteur van die Kapteyn Navorsingsinstituut vir Sterrekunde by UG. 'n Unieke kenmerk van hierdie vennootskap is dat dit 'n gesamentlike PhD-graad in Astrofisika bied, met alreeds ag PhD-studente aan boord wie se studies ten volle befonds word. Dit beteken dat die studente gedeelde studieleiding van wetenskaplikes van albei instellings sal ontvang, met toegang tot fasiliteite en data wêreldwyd, terwyl hul by elke vennootinstelling tyd sal spandeer. Studente sal aan die vereistes van abei universiteite moet voldoen om hul grade te kan verwerf.  

Prof. Deresh Ramjugernath, viserektor: leer en onderrig, en nuutaangewese rektor en visekanselier van die US, het in sy openingstoespraak by die bekendstelling op 20 Februarie 2025 gesê dat die gedeelde navorsingsleerstoel enorme potensiaal vir beide instellings inhou om die grense van wetenskap te skuif en voorpunt navorsing in die veld van berekeningsastronomie op te lewer.

“Beide instellings is daartoe verbind om 'n positiewe impak op die samelewing te maak deur die bevordering van wetenskap en tegnologie. Hierdie leerstoel sal 'n deurslaggewende rol in hierdie verband speel," voeg hy by.

Prof. Sibusiso Moyo, viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies, sê die leerstoel is belyn met die US se navorsings- en innovasie-agenda wat fokus op die vestiging van navorsingsgroepe en -leerstoele, asook die bevordering van samewerking in inter- en transdissiplinêre spanne. Bogenoemde is almal kenmerke van navorsingsintensiewe universiteite.

“Berekeningswetenskap strek oor navorsingsgebiede in die Skool vir datawetenskap en rekenaardenke, fisika, wiskunde, ingenieurswese, astronomie, en die geesteswetenskappe. Ons glo die program sal meer studente lok en  bydra tot navorsing met 'n ho? impak en relevansie," sê sy.

“Nog 'n unieke kenmerk van die leerstoel is dat dit ook vennootskappe met die ander  viervoudige-heliks-medewerkers ondersoek, insluitend die industrie en wetenskapsrade, om saam te  werk aan gesamentlike navorsingsprojekte en finansi?le toekenningsaansoeke," het sy bygevoeg.

Volgens prof. Koopmans, is sterrekunde 'n belangrike dryfveer in die wetenskap wat strategiese vennootskappe en globale samewerking noodsaak. Die Kapteyn Instituut vir Sterrekunde maak byvoorbeeld deel uit van die Nederlandse Skool vir Sterrekunde (NOVA), wat tans as een van die top vyf belangrikste instellings ter wêreld vir sterrekunde beskou word. NOVA is 'n bondgenoot van die institute vir sterrekunde van die universiteite van Amsterdam, Groningen, Leiden, en Nijmegen.

Deur die gesamentlike leerstoel, sal UG-wetenskaplikes en -studente toegang hê tot Suid-Afrikaanse fasiliteite soos HERA (Hydrogen Epoch of Reionisation Array radioteleskoop) en die Suid-Afrikaanse MeerKAT-radioteleskoop. Op hulle beurt sal die US-wetenskaplikes en -studente toegang hê tot 'n verskeidenheid instrumente en die instituut se eie ho?prestasie rekenaarsentrum.

“Een van ons fokuspunte is om samewerkingsnetwerke te bou. Dit sluit van die belangrikste astronomie-instellings regoor die wêreld in, soos die Europese Ruimte-agentskap, die Europese Organisasie vir Astronomie-navorsing in die Suidelike Halfrond, die Isaac Newton Groep van Teleskope, die Nederlandse Instituut vir Radiosterrekunde, JIVE (die Joint Institute for VLBI ERIC), en SRON (die Nederlandse Instituut vir Ruitenavorsing)", het Koopmans gesê.

Op sy beurt verduidelik prof. Ma dat die leerstoel aan die US uniek geposisioneer is om radiodata, optiese data, en groot data vir berekeningsastronomie te kombineer: “Ons fokus daarop om fundamentele fisika met sterrekundige waarnemings te kombineer ten einde die fundamentele wette van die heelal te kan verstaan, en om die aard van donker materie en donker energie te ontrafel. Ons werk oor dissiplines en instellings heen om kundigheid in ingenieurswese, teoretiese fisika, en die berekeningswetenskappe bymekaar te bring om die heelal op ? dieper vlak te kan verstaan."

Prof. Ma se navorsingsgroep is ook betrokke by groot astronomie-inisiatiewe in Suid-Afrika, soos MeerKAT, die Square Kilometre Array (SKA), HERA, LSST (Vera C. Rubin Sterrewag), die FAST-teleskoop en CMB Fase-4, en gebruik data van die Atacama Kosmologie-teleskoop, die Suidpool-teleskoop, ESO se Kilo-Degree Survey (KiDS), en die Dark Energy Survey Instrument (DESI).

Prof. Burtram Fielding, dekaan van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe, het in sy slotrede gesê dat dit 'n merkwaardige hoeveelheid energie geverg het om die leerstoel in so ? kort tydperk tot stand te bring. Sedert 2023 het die vakgebied van astrofisika aan die US gegroei van een dosent en 'n MSc-student, tot drie dosente, twee MSc-studente, 11 PhD-studente en vier nadoktorale genote, met 24 navorsingsartikels wat in ewekniebeoordeelde vaktydskrifte gepubliseer is.

Die gesamentlike PhD-graad in astrofisika sal ook die Fakulteit Natuurwetenskappe se indrukwekkende rekord in aktiewe samewerking wat tot gesamentlike PhD-grade lei, verder versterk.

Ten slotte het prof. Moyo gesê dat die navorsingsleerstoel en sy nagraadse studente ondersteun word deur effektiewe bestuurs- en administratiewe prosesse by die US: “Ek wil professors Koopmans en Ma bedank vir die implementering van die leerstoel, asook vir Dorothy Stevens, direkteur van die nagraadse kantoor, Sarah Van der Westhuizen, direkteur van die sentrum vir globale betrokkenheid, en Sibusiso Lukhele, projekko?rdineerder, vir al die ondersteuning ten einde te verseker dat ons ? omvattende vennootskap het,  die leerstoel suksesvol kon bekendstel, én studente kon werf".