As jy al die Universiteit Stellenbosch (US) Museum in Ryneveldstraat besoek het, het jy waarskynlik een van die instelling se merkwaardigste werknemers ontmoet. Johannes Adams (63) is as senior opsigter van die US Museum 'n bekende gesig op kampus, maar min mense weet dat hy al vir 'n volle 40 jaar 'n toegewyde werker by die US is. In dié tyd het hy vyf rektore sien kom en gaan.
Adams werk al só lank vir die US dat hy die dae voor e-pos en die internet goed onthou. Toe hy in 1985 as bode aangestel is, was een van sy pligte om briewe per hand af te lewer. Hy het die kampus op sy fiets met 'n mandjie voorop platgetrap. “Daai tyd het ons nog sulke ligblou hemde en die donkerblou broeke gedra," vertel hy. Die studente het hom soms 'n poets gebak en sy fiets na 'n ander staanplek verskuif. “Studente kan soms gruwelik wees," lag hy. “Dis maar deel van jonk wees."
Toe oud-president Nelson Mandela die US-kampus in 1991 besoek het, was Adams in die skare voor die destydse BJ Vorster-gebou (later Lettere en Sosiale Wetenskappe) om sy held in te wag. “Dit was een van die grootste oomblikke van my lewe," onthou hy. Hy het ook 'n helder herinnering aan die betogings van Nusas (Nasionale Unie van Suid-Afrikaanse Studente) van daardie jare. Met die eerste Woordfees wat in 2000 gehou is, was Adams deel van die span wat agter die skerms by die Museum gewoeker het.
As jongeling het Adams in die onstuimige tagtigerjare nie die luukse gehad om skool klaar te maak nie. Hy het tot standerd 8 (deesdae graad 10) by Ho?rskool Lückhoff gevorder voor hy moes uitspring om te begin werk. “Ek was gelukkig om 'n werk by De Wets-klerewinkel te kry. As enigste seun het ek gevoel ek moes my ma help om die gesin te onderhou. Ek het 'n belofte gemaak om vir haar te sorg tot haar oudag, iets wat ek bevoorreg was om te kon doen."
'n Advertensie in die Eikestadnuus vir 'n pos as bode het sy aandag getrek en hy het sy CV ingehandig. “Daar was 40-stuks kandidate vir die pos. Ek was dankbaar toe ek die kortlys van vyf haal. Ek moes toe vir mnr Volschenk gaan sien wat die aanstellings gemaak het. Hy het gesê ek moet op Maandag 11 Februarie by die poskamer inval."
In die tyd wat hy as bode gewerk het, het hy ook opleiding ontvang om afrolwerk te doen en fotostate te maak. Hy het 'n sagte plekkie gehad vir die Departement Filosofie en praat met deernis van professore soos Johan Degenaar, Anton van Niekerk en Willie Esterhuyse.
Toe 'n pos in die negentigerjare by die US Museum beskikbaar word, het Adams besluit hy sien kans vir verandering. “Ek wou voel hoe dit is om op een plek op kampus te werk. Ek het eers onder prof Muller Ballot gewerk en later het dr Lydia de Waal as senior direkteur van die Museum oorgeneem. Sy is deur Bongani Mgijima opgevolg toe hy in 2014 direkteur geword het."
'n Hoogtepunt van Adams se loopbaan was toe hy in 2010 'n sertifikaat vir 25 jaar diens van die destydse Rektor en Visekanselier, prof Russel Botman, ontvang het. “Hy was 'n goeie man. Hy het 'n visie gehad vir 'n beter toekoms; sy HOOP-projek het 'n groot verskil by die US gemaak. Prof Botman het gesê hy's baie trots daarop dat hy my langdienssertifikaat aan my kon oorhandig. Dit was 'n wonderlike oomblik."
Adams is baie dankbaar vir die geleentheid wat hy onder Mgijima se leierskap gekry het by die Museum. “Bongani het 'n groot verskil gemaak en mooi na my gekyk. Dit sal my altyd bybly. Ek is trots om my deel te doen. As daar vir my gevra word om ná ure te werk, sê ek altyd ja. Ek staan graag in, ek doen dit met liefde."
Deur die jare het Adams 'n verandering in studente se houdings teenoor kampuswerkers waargeneem. “Destyds moes jy soms hare op jou tande hê. Die jongklomp is vandag vriendeliker as ek toe ek begin het."
Ná vier dekades is Adams nog nie moeg vir sy werk by die US Museum nie. Hy vertel geesdriftig van die kunsuitstallings van betekenis wat hy oor die jare beleef het – dié van Maggie Laubser, Irma Stern, Solomon Caesar Malan, John Muafangejo, Willie Bester, William Kentridge en Christo Coetzee. Hy verwys na versamelings soos dié van die Duitser Peter Freund en J du P Scholtz. Verlede jaar se uitstalling om 30 jaar van demokrasie te vier, An End to Waiting, met foto's deur die befaamde Paul Weinberg, was nog 'n hoogtepunt vir Adams.
Wanneer hy oor twee jaar aftree, sal sy vrou Christine en hul drie dogters dankbaar wees om meer van hom te sien by hulle huis in Idasvallei. Maar tot dan sal jy hom in die US Museum se voorportaal aantref waar hy besoekers met 'n bre? glimlag verwelkom.
“Ek is baie gelukkig hier. As ek dink waar ek was en waar ek vandag is, het die hoop en visie wat ek as jong man gehad het, my goed te staan gekom," sê hy.
FOTO: Stefan Els