Toe dr Donald Simon, internis en pulmonoloog, verlede week 'n PhD in molekulêre biologie ontvang het – sy vierde graad aan die Universiteit Stellenbosch (SU) – was dit 'n betekenisvolle mylpaal in 'n uitsonderlike akademiese loopbaan wat oor meer as 20 jaar strek. Sy reis van 'n brandarm township buite Kimberley tot 'n hoogs-gekwalifiseerde kliniese wetenskaplike is nie net 'n bewys van harde werk en opoffering nie, maar spreek ook van die deurslaggewende rol wat die Universiteit Stellenbosch (US) in sy akademiese sukses gespeel het.
Simon se kinderjare in 'n informele nedersetting was bitter swaar. Sy ma was 'n huiswerker wat nooit die geleentheid gehad het om skool toe te gaan nie. Sy pa was 'n veiligheidswag wat aan epilepsie gely het. Toe Simon 15 was, is sy ouer broer in 'n mesaanval dood. “Dit was 'n baie gewelddadige woonbuurt. My ma het my van jongs af dit op die hart gedruk dat die enigste uitweg uit armoede akademiese sukses sou wees," onthou Simon. “Sy het haar afgesloof om my in 'n goeie skool te kon sit. Ek wou haar nog altyd trots maak."
Sy ma se onwrikbare ondersteuning het 'n hoeksteen van sy sukses geword toe hy sy mediese studie aan die US begin het. “In daardie eerste drie jaar terwyl ek nie 'n beurs gehad het nie, het sy ongelooflike opofferings gemaak. Sy het elke maand die grootste deel van haar karige salaris vir my gestuur," vertel Simon. In 'n tragiese wending is albei sy ouers binne 'n jaar van mekaar oorlede terwyl hy nog 'n student was. Hulle het nooit beleef hoe hulle seun in 2007 'n mediese dokter geword het – of geweet dat hy 'n Rektorstoekenning vir volharding ontvang het nie.
Onderskraging van die US
Simon gee erkenning aan die US vir die onderskraging wat sy loopbaan geanker het ná die aanvanklike swaarkry. “Gedurende my voorgraadse mediese studiejare het 'n paar van my dosente uitgestaan. Hulle het my só be?ndruk dat die saadjie van spesialisering geplant is."
Hy sonder die emosionele bystand uit wat hy van 'n fakulteitslid ontvang het ná sy ma se afsterwe. “Uit die bloute het een van die dosente my ingeroep en met my oor my verlies gepraat. Sy het broodnodige emosionele ondersteuning verskaf. Haar omgee het 'n groot indruk gemaak. Die besluit om terug te kom Stellenbosch toe om te spesialiseer was op sulke positiewe ervarings gegrond. Ek het soos 'n ware Matie gevoel."
Die merkwaardige ondersteuningsnetwerk aan die US het hom ge?nspireer om sy beste te gee en self 'n verskil te maak. Sy vlotheid in Afrikaans het hom toegerus om vir medestudente 'n tutor te word terwyl hy van krag tot krag gegaan het en uiteindelik in interne geneeskunde en pulmonologie gespesialiseer het.
Terwyl Simon as navorsingsklinikus in die Immunologienavorsingsgroep by die US se Tygerberg-kampus gewerk het, het hy sy kliniese kundigheid met sy passie vir navorsing begin integreer. Hierdie oorvleueling van dissiplines het gelei tot sy PhD in molekulêre biologie, wat moontlik gemaak is deur 'n akademiese genootskap-toekenning van die Discovery-stigting en die Professor Bongani Mayosi Netcare kliniese studiebeurs.
Simon se doktorale navorsing het op die identifisering van prote?en-merkers en die gebruik van PET-CT-beelding gefokus om te bepaal watter tuberkulose- (TB-) pasi?nte by korter behandeling kan baat. Sy studie het die potensiaal om 'n drastiese verandering in TB-behandeling teweeg te bring, veral in Suid-Afrika waar TB steeds een van die grootste oorsake van sterfgevalle is. “Tans ontvang alle TB-pasi?nte ses maande se behandeling, maar ons weet dat tot 85% van hierdie pasi?nte eintlik by net vier maande se behandeling kan baat. My navorsing het ten doel gehad om te identifiseer wie daardie pasi?nte is," verduidelik hy.
Hy is as longspesialis ook ge?nteresseerd in die behandeling van nie-aansteeklike longsiektes, veral interstisi?le longsiektes soos longfibrose. “Hoewel dit verstaanbaar is dat ons voorrang gee aan aansteeklike siektes, word sulke siektes dikwels afgeskeep in Suid-Afrika," verduidelik hy. Sy passie vir hierdie veld is aangevuur gedurende sy internskap in sy eertydse tuisdorp, Kimberley, waar hy talle mynwerkers te?gekom het wat aan asbesverwante longsiektes ly. “Ons ekonomie is op die rug van mynwerkers gebou, maar hulle gesondheid word dikwels oor die hoof gesien," merk hy op.
Simon sê hy is baie dank aan sy hoof-PhD-studieleier prof Gerhard Walzl, verskuldig wat instrumenteel was om hom deur akademiese uitdagings te lei. “Hy is al jare lank 'n mentor en ek dink hy sal nog vir lank my 'n rolmodel bly. Voordat ek hierdie PhD-reis aangepak het, het hy in my geglo en iets in my gesien wat ek self nie gesien het nie."
Hy is ook ongelooflik dankbaar teenoor sy lewensmaat, prof Paolo Denti wat by die Universiteit van Kaapstad werk. “Hy verstaan die eise van navorsing. 'n Mediese loopbaan kan uiters uitdagend wees en 'n mens se gesin offer baie op. Paolo en 'n paar wonderlike vriende en familie het my deur my PhD-worsteling staande gehou."
PhD opgedra aan sy ma
Om 'n PhD te verwerf beteken dat Simon nou nader daaraan is om homself 'n kliniese wetenskaplike te kan noem. “Dit is 'n belangrike mylpaal in my loopbaan om kliniese medisyne met navorsing te versoen," sê hy. In 'n aangrypende gebaar het Simon sy PhD-proefskrif aan sy ma opgedra. “Hoewel sy oorlede is voordat ek gegradueer het, was die lesse wat sy my geleer het en die opofferings wat sy gemaak het my grootste inspirasie om sukses te behaal."
Simon is gereed om aanstaande jaar 'n opwindende postdoktorale genootskap by die Erasmus-Universiteit Mediese Sentrum in Rotterdam, Nederland te begin – 'n prestigeryke geleentheid wat verdere groei en spesialisasie in longgeneeskunde beloof. Hy hoop om uiteindelik toegerus met skaars vaardighede na Suid-Afrika terug te keer wat by plaaslike tersiêre instellings waarde sal kan toevoeg in kliniese praktyk en navorsing.
Simon hoop dat hy in die toekoms sal kan aanhou navorsing doen, veral oor verwaarloosde areas van longgeneeskunde. Maar hy sien ook uit daarna om mettertyd sy kundigheid aan studente oor te dra. “Oor 'n paar jaar wil ek graag by een van die tersiêre instelling hier in Suid-Afrika geaffilieer wees, hopelik die US. My doelwit is om kliniese werk met navorsing te kombineer en die volgende generasie mediese kenners te inspireer," sê hy.
Wat die toekoms ook al inhou, Simon sal altyd 'n lojale Matie wees. “Ek wou nooit na 'n ander universiteit gaan nie. In my spesialiseringsgebied is die US waarskynlik die beste in die land. En afgesien van die US se geskiedenis, is die Universiteit akademies uitstekend. Trouens, dit is dalk net die beste navorsingsuniversiteit op die vasteland!" sê hy met 'n trotse glimlag.
Terwyl hy hom regmaak om die volgende hoofstuk van sy loopbaan aan te pak, bly Simon getrou aan die grondbeginsels wat sy lewe sover gerig het. Wanneer jy akademiese uitdagings aanpak, moet die dryfkrag diep van binne af kom, meen hy. “Daar sal baie kere wees wanneer jy jouself afvra, hoekom doen jy dit? Is dit regtig nodig? Daar moet iets in jou wees wat jou dryf en motiveer om iets so uitmergelend soos 'n PhD te voltooi. Wanneer jy wil tou opgooi, kan jy krag put uit die moed van jou oortuiging," sê Simon.
“Dit was nog altyd vir my belangrik om aan myself en ander te bewys dat jy kan wees wat jy wil wees, ongeag omstandighede. Net omdat jy uit 'n shack kom soos ek, beteken nie dat jy nie groot kan droom nie," voeg hy by.
FOTO: Stefan Els