'n Langtermyn vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en die Shoprite Groep, het die eerste groep graduandi in die datawetenskapprogram in staat gestel om by werklike besigheidsuitdagings van die kleinhandelbedryf betrokke te raak.
Vir hul finalejaarprojek in die Rekenaarwetenskap-afdeling, het Günther Tonitz en Steffan Schoonbee byvoorbeeld die groot vraag oor promosietydsberekening aangepak: Wanneer is dit die regte tyd om watter item op promosie te plaas, en vir hoe lank?
“Ons het vining besef dat die veel moeiliker vraag om te beantwoord eerder was of promosie-items — uit 'n kleinhandelperspektief gesien — in werklikheid tot sakesukses lei," verduidelik Günther. Met ander woorde, indien 'n klant vyf van dieselfde produkte wat op promosie is koop, (om spensvoorraad op te bou), kan dit beteken dat hulle vir die volgende vyf maande nie daardie produk gaan koop nie.
In 'n ander scenario, kan 'n klant byvoorbeeld 'n promosie-item, soos 'n koeldrank koop, en dan 'n paar pakkies skyfies (wat nie op promosie is nie) byvoeg om 'n partytjie te hou, Voeg Steffan by.
Watter benadering kan dus as “suksesvol" gedefinieer word?
Om hierdie vraag te beantwoord, is die studente toegang gegee tot twee jaar se data van een van die Shoprite Groep se supermarkte. Dit het 'n datastel van 16 000 artikels ingesluit, met 78 000 moontlike promosie kombinasies. Die datastel is verder verryk met voorraadbewegingdata oor 'n nege maande periode, vir 18 000 produkte. Die datastel het meer as een miljoen voorraadbewegings bevat. Op grond van meer as 14 miljoen verkoopstransaksies, het Steffan en Gunther 'n paneelbord gebou om die sukses van toekomstige promosies, gebaseer op die vertonining van vorige promosies, te voorspel.
Volgens Debbie Vigario, Hoofingenieur by die Shoprite Groep se Data Analise-kantoor (en 'n US-alumnus), is hul benadering om werklike besigheidsuitdagings vir studente te gee: “Ons ondersteun hulle deur die analitiese ontwikkelingslewensiklus terwyl ons hulle denke padlangs uitdaag. Ons het mentors aan studente toegewys en verseker dat ons gereeld kommunikeer om hulle te ondersteun en leiding te gee."
Met die instelling van die B-graad in Datawetenskap en die BIng-Data-ingenieurswese-program in 2019, het Shoprite met die onderskeie fakulteite se leierskap geskakel oor maniere waarop hulle saam met die US projekwerk kon aanpak. Hierdie betrokkenheid het gelei tot verskeie projekte (wat werklike probleme aanspreek) vir finalejaarstudente wat die rekenaarwetenskap-fokusarea in die BDatSci-program volg.
Dr. Mkhuseli Ngxande van die US se Rekenaarwetenskap-afdeling, sê die BDatSci-program met rekenaarwetenskap as fokusarea, beklemtoon tegniese kundigheid in sagteware-ingenieurswese, webontwikkeling, en datawetenskap: “Dit rus studente toe met praktiese vaardighede om end-tot-end oplossings te ontwikkel wat beide innoverend en goed gedokumenteer is. Hierdie fokusarea verskil van ander fokusareas soos Ekonomie en Bestuurwetenskappe of AgriWetenskappe, aangesien dit fokus op tegniese implementering, berekeningsprobleemoplossing, en die skep van sagtewaregedrewe data-oplossings, eerder as die toepassing van datawetenskapkonsepte op domeinspesifieke probleme in besigheid, landbou, of omgewingstudies," verduidelik hy.
Alhoewel dit die eerste groep van vyf studente is wat met 'n BDatSci fokusarea: Rekenaarwetenskap gradueer, is daar nog 20 – 25 studente in die voorgraadse pyplyn.
Hy sê dit is vir studente 'n uitdaging om onafhanklik toegang tot groot datastelle te kry weens kommer oor privaatheid, lisensiebeperkings, en die infrastruktuur wat benodig word om sulke data te hanteer. Samewerkingsooreenkomste soos hierdie een met Shoprite is van onskatbare waarde om hierdie gaping te oorbrug.
Prof. Ingrid Rewitzky, Hoof van die Departement Wiskundige Wetenskappe en Visedekaan: Leer en Onderrig in die Fakulteit Natuurwetenskappe, sê die vennootskap met Shoprite dra by tot “die bevordering van studentesukses deurdat dit geleenthede vir werksge?ntegreerde leer ontsluit en studente toerus met vaardighede en bevoegdhede om mededingend te kan wees met hul toekomstige werksaansoeke".
Die finalejaar BdatSci: Rekenaarwetenskap-studente is Dirk Hoffmann, Steffan Schoonbee, Shriyan Singh, Günther Tonitz, en Franco Uys.
Op die foto bo:
Die eerste groep studente in die Datawetenskap Program by die US het vandeesweek gegradueer. Hierdie groep, wat in die Rekenaarwetenskap fokus area was, is gementor deur Debbie Vigario, hoofingenieur by die Shoprite Groep se Data Analise-kantoor. Die studente is, van links na regs, Dirk Hoffmann, Shriyan Singh, Steffan Schoonbee, en Günther Tonitz. Franco Uys was afwesig toe die foto geneem is. Foto: Wiida Fourie-Basson
Meer oor die langtermyn vennootskap
Die samewerking tussen die US en Shoprite het in 2017 begin met Shoprite se betrokkendheid by die Operasionele Navorsingsprogram in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. In 2019 het Shoprite 'n verbintenis met Launchlab aangegaan om studente te borg vir inkubasieprogramme, asook met die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke. Sedert 2023 het Shoprite 'n bedryfsverteenwoordiger op die bestuursraad van die Sentrum vir Multidimensionele Visualisering in die US se Departement Statistiek en Aktuari?le Wetenskap.