?Danielle Kleyn, wat die "koningin van wiskunde" gedoop is toe sy by die Ho?rskool Parel Vallei in Somerset-Wes skoolgegaan het, is as die wenner van die Universiteit Stellenbosch se gesogte Kanseliersmedalje vir 2024 aangewys.
Kleyn het die medalje by haar gradeplegtigheid ontvang waar 'n BSc-honneursgraad (HonsBSc) in wiskunde (cum laude) aan haar toegeken is.
Slegs een student ontvang die toekenning, wat die eerste keer in 1961 ingestel is. Dit word jaarliks aan 'n finalejaar- of nagraadse student toegeken wat nie net akademies uitgeblink het nie, maar ook op talle ander maniere tot die kampuslewe bygedra het en gehelp het om ko-kurrikulêre eienskappe te ontwikkel.
Kleyn se akademiese loopbaan is deur uitsonderlike prestasies gekenmerk. Sy het 'n onderskeiding vir al haar derdejaarsmodules gedurende haar voorgraadse studie verwerf. Wat hierdie vertoning nog merkwaardiger maak, is die feit dat sy twee bykomende 16-kredietmodules geneem het. Haar modulepunt vir vyf van die tien modules was minstens 90%.
Sy het vir haar honneursprojek, wat die bemeestering van 'n aansienlike hoeveelheid algebra?ese getalleteorie en kreatiewe werk behels het om idees van een omgewing na 'n ander aan te pas, 94% ontvang.
Sy het oor die afgelope vier jaar in nasionale en internasionale wiskundekompetisies uitgeblink. Tussen 2021 en 2024 het sy in die toptien by die Suid-Afrikaanse Tersiêre Wiskunde-olimpiade ge?indig. Vanjaar het sy die eerste plek in dié kompetisie verower. Sy het in 2023 en 2024 die Universiteit en Suid-Afrika by die Internasionale Wiskundekompetisie verteenwoordig.
Kleyn was ook by wiskundenavorsing buite haar HonsBSc-program betrokke wat afsonderlik van haar honneursprojek was. As wiskunde-afrigter vir die Suid-Afrikaanse Wiskundestigting kon sy help om 'n sterk kultuur van Olimpiade-wiskunde te ontwikkel.
Kleyn sê sy het nie verwag om die gesogte medalje in te palm nie. Wiskunde is al baie lank een van haar gunstelingvakke, sê sy, en sy het reeds van skooldae af in verskeie kompetisies uitgeblink. Hoewel sy nog nie seker is oor haar planne vir aanstaande jaar nie, oorweeg Kleyn dit om haar meestersgraad te doen.
Foto: Stefan Els