Die Universiteit Stellenbosch (US) het eredoktorsgrade aan die filantroop en entrepreneur, Wendy Ackerman, en die bekroonde roman- en kortverhaalskrywer, Damon Galgut, by sy Desember-gradeplegtigheid toegeken. Ackerman en Galgut het Maandag (9 Desember 2024) onderskeidelik die grade Doktor in die Filosofie, honoris causa, en Doktor in die Lettere, honoris causa, tydens twee afsonderlike gradeplegtigheidseremonies vir die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang.
Die eregraad is aan Ackerman toegeken vir haar volgehoue filantropiese ondersteuning wat mans, vroue, kinders en die kunste reeds langer as 40 jaar baat. Galgut is vereer vir sy voortreflike bydraes tot die letterkunde- en kultuurtoneel in Suid-Afrika.
Ackerman het in haar aanvaardingstoespraak haar diepe dankbaarheid en vervulling uitgespreek vir die eregraad wat die US aan haar verleen het. Sy het gesê dit beklemtoon die belangrikheid van die instelling in hul familiegeskiedenis. Ackerman het 'n persoonlike staaltjie gedeel oor haar pa wat 100 jaar gelede by die US gestudeer het en haar twee jonger kleinkinders wat vanjaar hier gegradueer het. Volgens haar verbind hierdie gebeurtenisse verskillende generasies in haar familie met mekaar.
As iemand wat haar lewe daaraan gewy het om ander te help, het Ackerman gesê dat sy “het geveg vir nie-diskriminasie en om van vooroordeel ontslae te raak, mense te aanvaar vir wie hulle is, nie vir hul ras of godsdiens nie. Ek het onderwys 'n doelwit gemaak."
Meer oor Ackerman
Wendy Ackerman se filantropie strek oor etlike dekades. As een van die stigters en lewenslange erevoorsitter van Pick n Pay, word haar werk by dié toonaangewende kleinhandelaar gekenmerk deur haar pogings om vroue te bemagtig en te bevorder. Sy het 'n kernrol vervul om vroue in die 1970's as senior, loopbaangerigte werknemers erken te kry – 'n stap wat party maatskappye destyds as te progressief beskou het.
Deesdae bestee sy die meeste van haar tyd aan haar familie se filantropiese werk en voorspraak vir diegene wat minder bevoorreg en kwesbaar is, en haar stryd om vroueregte duur voort.
Sy is by verskeie onderwysinisiatiewe betrokke, maar haar grootste passie is die ondersteuning vir belowende studente, veral op die gebied van musiek en die geneeskunde. Sy bedryf reeds sedert 1973 verskillende beursprogramme, en haar gegradueerdes het al uitsonderlike sukses behaal. Party tree in die voorste orkeste en by die bekendste operahuise ter wêreld op. Sy is ook 'n trustee van die Pick n Pay-beursfonds, wat werknemers se kinders bystaan.
Daarbenewens is sy ook diep daartoe verbonde om die omgewing te bewaar en voorspraak vir die welstand van diere te doen.
Ackerman is haar lewe lank 'n ondersteuner van die kunste in die Kaapse metropool en het geen moeite ontsien nie om 'n skenkingstrust vir die kunste in Kaapstad, spesifiek vir die stad se opera en filharmoniese orkes, tot stand te bring.
Damon Galgut
Galgut het in sy aanvaardingstoespraak gesê “dit is 'n groot eer dat my woorde en my werk vandag op hierdie wyse erken word. Dit is 'n eer wat ek nooit gedink het ek sou hê nie. Dit is veral betekenisvol om die erkenning in die teenwoordigheid van my pa te ontvang, want Stellenbosch was sy alma mater en het sy vroe? volwasse jare gevorm."
Oor sy keuse om 'n loopbaan in die skeppende kunste te volg, het Galgut gesê dat hy nooit deur “konvensionele ambisie gedryf is nie, maar deur 'n blinde, naamlose passie om woorde op papier te sit omdat woorde mooi is, omdat woorde vir die werklike wêreld instaan. As hulle reg gebruik word, kan hulle hierdie werklike wêreld op verbeeldingryke wyse vir ander mense oproep."
Meer oor Galgut
Damon Galgut is 'n bekroonde roman- en kortverhaalskrywer en dramaturg met loopbaan van oor die 40 jaar.
Sy romans het hom verskeie benoemings, eerbewyse en prestigeryke toekennings besorg. Met sy roman The Promise word Galgut in 2021 maar die derde Suid-Afrikaanse skrywer wat met die Bookerprys vereer word. Die episodies gestruktureerde roman handel oor vier dekades van Suid-Afrikaanse geskiedenis en vertel van persoonlike én politieke beloftes wat nooit nagekom is nie.
Sy werk verken buitestander-identiteite en ondersoek die onderdrukkende krag van sosiokulturele norme en sistemiese onreg wat individue oor geografiese én tydgrense heen raak. Galgut se estetiese innovasie gaan voort om kritici én lesers te bekoor, en weerspie?l sy voortgesette verbondenheid tot die letterkunde as 'n vorm van estetiese ontwrigting.
- ?Foto: Wendy Ackerman en Damon Galgut by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els