中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Menseregtekonferensie fokus op grondwetlike aanspreeklikheid
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (Desmond Thompson)
Gepubliseer: 05/12/2024

?Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid het verlede week 'n  belangrike konferensie aangebied wat menseregte en grondwetlike aanspreeklikheid in Suid-Afrika ondersoek het, ter viering van 30 jaar van grondwetlike demokrasie in die land.

Die konferensie, wat op 28 en 29 November 2024 gehou is, het regsgeleerdes, praktisyns en aktiviste bymekaargebring om die vordering wat gemaak is en die uitdagings wat oorbly om die grondwetlike belofte van gelykheid en geregtigheid vir almal te verwesenlik, krities te beoordeel.

Die konferensie is aangebied deur prof Sandra Liebenberg, wat die H.F. Oppenheimer-leerstoel in Menseregtereg beklee, prof Bradley Slade, hoof van die Departement Publiekreg, en dr Anisa Mahmoudi, 'n postdoktorale genoot in die Menseregtereg-leerstoel.

Dit het die volgehoue gaping tussen die regte wat verskans is in Suid-Afrika se 1996 Grondwet en die geleefde werklikheid van baie mense in die land ondersoek, sowel as die meganismes en instellings om aanspreeklikheid vir menseregteskendings te bereik.

Die konferensie het 'n uiteenlopende reeks sprekers en paneelbesprekings gehad, met gesonde debat oor sleutelkwessies soos die rol van die regbank, die parlement, Hoofstuk 9-instellings en maatskaplike bewegings om aanspreeklikheid te bevorder.

Ter inleiding

Liebenberg het in haar openingstoespraak verwys na die voortdurende stryd om toegang tot basiese dienste, geslagsgelykheid, doeltreffende regering en grondhervorming.

“Ná 30 jaar van grondwetlike demokrasie het mense steeds 'n stryd om toegang tot gesondheidsorg, onderwys, voedsel, water en maatskaplike sekerheid te kry. Boonop staar bestuursuitdagings met korrupsie en wanadministrasie ons in die gesig, veral op plaaslike vlak," het sy gesê.

Slade het die belangrikheid beklemtoon om aanspreeklikheidsmeganismes krities te ondersoek en maniere te vind om hul doeltreffendheid te verbeter.

Life Esidimeni

Twee hoofredes het kragtige insigte verskaf oor die stand van menseregte en aanspreeklikheid in Suid-Afrika.

Op Dag 1 van die konferensie het adv Adila Hassim SC, 'n vooraanstaande menseregte-advokaat, 'n boeiende ontleding van die regs- en politieke dimensies van aanspreeklikheid gelewer, gebaseer op haar uitgebreide ervaring van litigasie in openbare belang.

Deur die Life Esidimeni-tragedie as 'n gevallestudie te gebruik, het sy die belangrikheid van individuele aanspreeklikheid vir openbare amptenare beklemtoon, en aangevoer dat gevolge vir oortredings noodsaaklik is vir die handhawing van die oppergesag van die reg.

In 2018 het afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke bevind dat die Gautengse departement van gesondheid nalatig was met die dood van 144 geestesgesondheidspasi?nte. Dit het gevolg op die departement se rampspoedige besluit in 2016 om pasi?nte van Life Esidimeni-fasiliteite na swak toegeruste NRO's te skuif, wat tot verwaarlosing en voorkombare sterftes gelei het.

'n Geregtelike doodsondersoek het gevolg, wat uitgeloop het op 'n belangrike uitspraak wat op 10 Julie vanjaar deur die hooggeregshof in Pretoria gelewer is, waarin bevind is die voormalige Gautengse LUR vir gesondheid Qedani Mahlangu en dr. Makgabo Manamela, voormalige Gautengse direkteur van geestesgesondheid, is verantwoordelik vir die dood van die pasi?nte. Regter Mmonoa Teffo het beslis hul nalatige optrede het direk bygedra tot die voorkombare sterftes.

In 'n belangrike stap nader aan aanspreeklikheid vir die tragedie, oorweeg die Nasionale Vervolgingsgesag nou om strafregtelike aanklagte teen die twee in te stel.

Hierdie amptenare moet in hul individuele hoedanigheid vervolg word vir hul rol in die sterftes, het Hassim aangevoer.

'Spazawinkel'-sterftes

Op Dag 2 van die konferensie het waarnemende adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga, wat in September in hierdie pos aangestel is, 'n roerende hoofrede gelewer wat fokus op die regering se verantwoordelikheid om die regte van kwesbare burgers te beskerm.

Hy het verwys na onlangse kindersterftes wat verband hou met besmette kos wat by spazawinkels en deur informele handelaars verkoop word en gesê dit wys waarom groter aanspreeklikheid en proaktiewe maatre?ls nodig is om toekomstige tragedies te voorkom.

Met die klem op die tragiese geval van die vyfjarige Siyabonga Mnisi, wat verlede maand gesterf het nadat hy besmette kos van 'n spazawinkel in Diepkloof, Soweto, ge?et het, het Madlanga gesê: “Die katastrofiese verskynsel self is nie iets nuuts nie. Ons verloor nou al vir jare kinders op hierdie manier."

Hy het bygevoeg: “Dit is 'n aanklag teen die regering, die primêre pligdraer vir die beskerming van die regte wat in die Handves van Regte gewaarborg word. Dit blyk duidelik uit Artikel 7(2) van die Grondwet, wat bepaal “Die staat moet die regte in die Handves van Regte eerbiedig, beskerm, bevorder en verwesenlik".

In reaksie op die krisis het die regering 'n nasionale ramptoestand verklaar en 'n reeks maatre?ls aangekondig, insluitend uitgebreide inspeksies van en klopjagte op spazawinkels, verpligte registrasie van alle spazawinkels en openbare bewusmakingsveldtogte.

Terwyl Madlanga erkenning gegee het aan die pogings om die krisis die hoof te bied, het hy 'n aangrypende vraag gestel: “Die meer onlangse sterftes het blykbaar die regering tot aksie aangespoor. Dit is alles welkom, maar hoeveel kinders moes sterf voordat iets gedoen kon word?"

Hy het proaktiewe maatre?ls en 'n opregte verbintenis tot die beskerming van kinders se regte ge?is, nie net terugwerkende maatre?ls om 'n krisis te beperk nie.

Madlanga het ook stilgestaan by die voortgesette kwessie van korrupsie, wat hy 'n “afskuwelike plaag endemies in ons land" genoem het.

Madlanga het gesê die uiteindelike doelwit moet die “totale uitwissing" van korrupsie wees.

Waardevolle platform

Die konferensie het gedien as 'n platform vir kritiese betrokkenheid by die uitdagings wat Suid-Afrika se jong grondwetlike demokrasie in die gesig staar.

Prof Nicola Smit, Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, het die US se verbintenis tot die bevordering van navorsing en dialoog oor kwessies rakende menseregte, demokrasie en die oppergesag van die reg herhaal.

“Die Universiteit Stellenbosch het 'n lang en komplekse geskiedenis, maar vandag, gewortel in die Afrika-kontinent, ondersteun ons die Afrika-unie se Agenda 2063. Dit sluit in 'n vreedsame en veilige Afrika, goeie regering, demokrasie, menseregte, maatskaplike geregtigheid, en die oppergesag van die reg," het sy gesê.

Die konferensieverrigtinge sal in 'n boek gepubliseer word, wat bydra tot voortgesette akademiese debat en voorspraak wat daarop gemik is om menseregte in Suid-Afrika te versterk.

* Desmond Thompson is 'n vryskutjoernalis.

Foto: Waarnemende adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga aan die woord by die konferensie oor menseregte en grondwetlike aanspreeklikheid op Stellenbosch op 29 November 2024. (FOTO: BJORN GROENEWALD/SCPS PHOTOS