?Kommunikasie- en bemarkingspesialiste van die Universiteit Stellenbosch het weer eens geskitter by die jaarlikse prysuitdeling van MACE (Marketing, Advancement and Communication in Education), met 36 uitnemendheidstoekennings – die meeste wat aan een instelling gemaak is.
Vanjaar het 19 ho?ronderwysinstellings van oor die land heen 293 inskrywings vir die toekennings ingedien wat erkenning gee aan uitnemendheid in bemarking, ontwikkeling en kommunikasie. Dit het die beoordelaars meer as 730 uur geneem om die inskrywings te evalueer en modereer.
Die US het vyf gesogte goue toekennings (toegeken aan die hoogste telling in elke kategorie), 15 silwertoekennings en 16 bronstoekennings by die glansryke geleentheid in Durbanville, Kaapstad, ingepalm. In die geheel het deelnemende instansies 'n gesamentlike 158 pryse op die aand huis toe geneem.
Die US het goud gewen vir 'n verskeidenheid inskrywings, insluitend 'n handelsmerkuitbouingsveldtog (Positioning SU for the future), 'n gedrukte publikasie (Access for Success), 'n sosialemediaveldtog (#Whoyoubecome: engage, recruit, repeat), skryfwerk vir nuusmedia (Rock redress) en fotografie vir nuus en artikels (Celebrating #WomenofSU).
“Die US se puik prestasie beklemtoon weer eens die voortgesette werk van ho? gehalte van sy kommunikasie-, bemarking- en fondswerwingspanne. Om talle toekennings te wen, insluitend vyf goue medaljes, is 'n bewys van die spanne se kreatiwiteit, toewyding en uitnemendheid om die heel beste van hierdie Universiteit ten toon te stel," sê prof. Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake.?
Die Voorsitterstoekenning, wat toegeken word aan 'n enkele inskrywing wat ware uitnemendheid in bemarking, ontwikkeling of kommunikasie vergestalt, het aan die Universiteit van Kaapstad gegaan. Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het die Serverus-toekenning ingepalm, toegeken aan die instelling met die hoogste suksesverhouding gegrond op die getal en vlak van inskrywings wat bekroon is. Die UV het ook die MACE-toekenning vir uitstaande navorsing ontvang.
Die toekenningsgeleentheid, waarna gretig uitgesien is, het 'n tweedaagse konferensie met die titel “Maximising Impact: Innovative Strategies for Transformative Higher Education Marketing, Communication and Advancement" afgesluit. Die konferensie, wat by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie se Bellville-kampus gehou is, het bestaan uit hoofsprekers, paneelbesprekings en interaktiewe werkswinkels oor verskeie verwante onderwerpe.
Vooraanstaande sprekers het ingesluit dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Giver, Simone Zanetti, direkteur van die Zanetti KI-instituut, en Pepe Marais, stigtersvennoot en kreatiewe groephoof van Joe Public. Die US se Direkteur van Kommunikasie, Tertia Kruger, het waardevolle insigte gedeel oor die krisiskommunikasiestrategie wat die Universiteit in 2023 'n goue toekenning vir uitnemendheid besorg het.
MACE is 'n lidmaatskapgebaseerde organisasie wat 'n leiersrol in die sektore vir ho?r onderwys, tegniese beroepsonderwys en -opleiding sowel as privaat onderwys in Suider-Afrika vervul. Die organisasie streef na waardetoevoeging vir praktisyns op die gebied van bemarking, bevordering en kommunikasie deur ontwikkelingsprogramme van gehalte aan te bied, netwerkvennootskappe en transformasie te fasiliteer, en beste praktyk in hierdie beroepe onder sy lede te bevorder.
Die SU se toekennings in 2024
Goud (5)
- Handelsmerkuitbouingsveldtogte: Positioning SU for the future
- Gedrukte publikasies: Access for success
- Sosiale media: #Whoyoubecome: engage, recruit, repeat
- Skryfwerk vir nuusmedia: Rock redress
- Fotografie: Celebrating #WomenofSU
Silwer (15)
- Handelsmerkuitbouingsveldtogte: #SUGrad Communication campaign
- Studentewerwingsveldtogte: #Whoyoubecome undergraduate application campaign
- Gedrukte en digitale jaarverslae: Annual Integrated Report 2023
- Digitaal – eksterne tydskrifte en nuusbriewe: Research for Impact platform
- Webwerwe: Research for Impact platform
- Geleenthede: Hybrid Open Day
- Geleenthede: Maties101
- Geleenthede: Professional inaugural lecture
- Skryfwerk vir nuuskanale: Dr Keaton Harris – a Christmas story
- Skryfwerk vir nuuskanale: Personality affects people's vulnerability to cybercrime
- Skryfwerk vir nuuskanale: Indoor fireplaces a health risk
- Skryfwerk vir nuuskanale: Uncovering ancient wonders
- Skryfwerk vir nuuskanale: A pot of gold unearthed
- Skryfwerk vir artikels: Cycling Dr Sarah
- Videografie: Rock redress video
Brons (16)
- Handelsmerkuitbouingsveldtogte: Brand activations
- Fondswerwingsveldtogte: #Move4Maties
- Belanghebberverhoudingsveldtogte: #whatsyourhustle
- Veldtogte oor gemeenskaps- en maatskaplike verantwoordelikheid: Symbolic rock metamorphosis
- Eksterne tydskrifte: Institutional profile 2024
- Gedrukte en digitale jaarverslae: Sustainable Development Annual Report 2022/2023
- Webwerwe: Empowering NextGen Maties
- Ontwerp vir gedrukte kanale: Together against gender-based violence
- Ontwerp vir gedrukte kanale: Pre-alumni: first-year guide 2024
- Ontwerp vir gedrukte kanale: Research for Impact digital platform
- Ontwerp vir digitale kanale: Bridge the Gap: Impact Report 2024
- Ontwerp vir digitale kanale: Donor publication 2023
- Ontwerp vir digitale kanale: We are journeying to net zero by 2050 webpage
- Skryfwerk vir nuuskanale: Wine is a winning investment
- Skryfwerk vir nuuskanale: Cycling for a cause
- Skryfwerk vir die web: Firdous Sulaiman – testament to resilience