中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gedenkdienste gehou hierdie week vir twee Maties wat onlangs oorlede is
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 24/10/2024

?Die gedenkdienste van twee Maties wat die afgelope week in afsonderlike voorvalle oorlede is, word op Donderdag, 24 Oktober 2024 en Sondag, 27 Oktober gehou.

Jesse Alan Mitchell, wat vir 'n BSc Rekenaarwetenskap-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) ingeskryf was, is op 16 Oktober oorlede. Hy was 'n lid van die Oude Molen Pendelstudentegemeenskap (PSG), wat deel vorm van die Victoria Kluster.

Sy gedenkdiens word vanaand (Donderdag, 24 Oktober) vanaf 17:30 by die Victoria Hub, op die tweede verdieping, gehou.

Volgens Oude Molen se Prim 2024/2025, Wian van Loggerenberg, het die realiteit dat hulle Jesse nooit weer sal sien nie, nog nie vir die gemeenskap ingesink nie.

“Hoewel dit vandag moeilik is om verder te sien as die hartseer van die verlies van Jesse, kan ons terugkyk na die herinneringe wat ons van hom het om ons te troos in die dae wat kom. Jesse was 'n trotse Mol, wat ons heeltemal te gou verlaat het, maar hy sal nooit vergeet word nie," het Wian bygevoeg.

Op Sondag, 20 Oktober is Nkosana Dhlamini, 'n eerstejaarstudent wat vir 'n BSc (Geoinformatika)-graad ingeskryf is, oorlede. Nkosana het in Dagbreek-koshuis gewoon. Die Inwonende Hoof, Grant Leukes, en Dagbreek se Prim, Tom Des Heath, het gesê dat hulle “harte swaar" voel ná die nuus van die afsterwe van Nkosana, na wie Tom verwys het as “'n broer".

“Nkosana het byna elke aand sokker gespeel saam met sy vriende in die quad. Hulle het hom beskryf as iemand wat energiek en openhartig is, en 'n vreugde is om saam te wees," het Tom ges

“Ons betuig ons innige meegevoel aan sy familie en almal na aan hom en moedig diegene wat sukkel om asseblief uit te reik vir hulp.

“Dit is ook belangrik om saam te staan en daar te wees vir mekaar."

Nkosana se gedenkdiens word Sondag, 27 Oktober, om 13:00 by Dagbreek-koshuis gehou.

Prof Deresh Ramjugernath,Viserektor: Leer en Onderrig, het persoonlik sy innige meegevoel met Jesse en Nkosana se ouers betuig ná die afsterwe van die studente.

"Die verlies van sulke kosbare jong lewens, en in so 'n kort tydjie, kom altyd as 'n groot skok vir die Universiteitsgemeenskap," het prof Ramjugernath gesê.

EMOSIONELE ONDERSTEUNING

Enige student wat deur hierdie tragiese voorval geraak is, word aangemoedig om uit te reik vir hulp deur ER24, die Universiteit se 24-uur-nooddiens, na-ure by 010 205 3032 te kontak, of die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) by 021 808 4994 gedurende kantoorure, of per e-pos by supportus@sun.ac.za.??