?Die Universiteit Stellenbosch (US) se Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, prof. Nico Koopman, het by die 10de jaarlikse Russel Botman-gedenklesing (wat op 16 Oktober 2024 gehou is) hulde gebring aan sy oorlede “vriend, kollega, mentor" deur hom te beroep op van die oudrektor se vele gesegdes.
Koopman het die hoofrede, getiteld “Saving sayings and stories of Russel Botman" gelewer, en verduidelik dat Botman se aforismes “so gelaai en sommige selfs so uitdagend" was dat hy dit “weggebêre het" om op 'n latere stadium daaraan aandag te gee. Gesegdes, het Koopman bygevoeg, “openbaar innoverende insigte en verrassende perspektiewe".
Die lesing, wat deur die US se Fakulteit Teologie aangebied is, het gevolglik gefokus op 'n seleksie van Botman se frases om erkenning te gee aan die teoloog se sienings oor hoop, mag, kompromie en mensgesentreerdheid. “Om Russel te vereer, wil ek my 'n bietjie storievertelling veroorloof. Ek het van Russel se sêdinge gekies wat my oor dekades bygebly het terwyl ek saam met hom gereis het. Hy is al vir 10 jaar weg, en ons hou aan om te besin en hier en daar dalk leidrade te kry oor wat hy bedoel het."
Hoop is die grootste
Koopman het vertel hoe Botman die woorde van Paulus, in 1 Korinti?rs 13, uitgedaag het dat “geloof, hoop en liefde bly... En die grootste hiervan is die liefde". Botman se teenvoorstel was dat hoop in werklikheid die grootste van die drie is.
Hoewel Koopman nie destyds Botman se redenasie verstaan het nie, het hy in sy lesing genoem dat Botman bekend was vir die Hoopprojek aan die US. “Hy het die idee van hoop aangewend om die impak op die samelewing van die Universiteit se mandate van leer en onderrig, navorsing en innovasie, transformasie en internasionalisering te bevorder."
Hy het ook onthou hoe Botman in sy professorale intreerede hoop as “hoop in aksie" beskryf het. Deur die jare het Botman na hoop verwys as realisties, responsief en veerkragtig. “Sy hoop het hom toekomsgerig gemaak. Hierdie toekomsgerigtheid het hom dikwels laat sê hy werk vir toekomstige rektorate. In die uitvoering van sy take in die hede het hy die vraag oor verantwoordelikheid en aanspreeklikheid aan diegene wat nog sou kom, gevra," het Koopman gesê.
Suid-Afrika is 'n kompromis
Koopman het gepeins oor Botman se siening dat Suid-Afrika 'n kompromis is. “Russel het die toenemende fokus op kompleksiteitstudies in verskillende dissiplines aan die US en wêreldwyd omhels. In 'n wêreld van wisselvalligheid, onsekerheid, kompleksiteit en dubbelsinnigheid is die aangaan van kompromie? belangrik." Kompromie? was vir Botman belangrik aangesien hy nooit moed opgegee het met die US se transformasie-agenda nie. Hy was egter ook bereid om in sy tweede termyn as rektor te eksperimenteer met begrippe soos inklusiwiteit soos weerspie?l in die stigting van 'n Sentrum vir Inklusiwiteit, en nie 'n Sentrum vir Transformasie nie.
“Miskien het dit die weg gebaan vir sy opvolger, my kollega prof Wim de Villiers, om uitdruklik op transformasie te fokus en om 'n viserektor, senior direkteur en personeel vir transformasie aan te stel, en om transformasiestrukture op die been te bring sodat die Khampepe-verslag van twee jaar gelede die US kon prys vir die groot teoretiese vordering en teorievorming wat ons met transformasie bereik het, en vir die formidabele transformasie-organe wat in plek gestel is."
Saam vorentoe
Koopman het gesê Botman het die Belhar-logika van die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika voorgestaan dat ons saam versoening en geregtigheid soek. “Saam, as mense uit 'n verskeidenheid agtergronde, en as mense wat voorheen vervreemd was, soek ons genesing en omhels versoening, sorgsame geregtigheid en deernisvolle regverdigheid." Koopman het verwys na die US se leuse “saam vorentoe" wat verwys na saambeweeg in diens van versoening ten spyte van die risiko om diegene met verskillende sienings te vervreem. “Dit is hoekom Botman op 'n stadium gesê het: Ek sal die regte ding doen, al beteken dit dat ek dalk 'n paar vriende kan verloor."
Alles is relatief
Nieteenstaande sy betrokkenheid by moeilike onderhandelinge, hetsy tydens samesprekings om die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika te stig of tydens vurige vergaderings by die Universiteit, het Botman nooit diegene wat mag afgestaan het, verabsoluteer nie, het Koopman opgemerk. “Ons moenie onsself verabsoluteer en gevolglik die bydrae wat ons tot 'n saak kan maak, oorskat nie. Vir Botman was daar net Een met absolute status."
Diversiteit is krag
Dit gesê, Botman het ook geglo dat “ons" – veral studente, personeel en gemeenskappe wat in die verlede van die US uitgesluit was – nooit ons krag moet onderskat nie. “Russel het ons aangemoedig om ons diversiteit van ervarings en kundigheid, kennis en insigte na die tafel te bring," het Koopman gesê. “Die krag waaroor Botman gepraat het, is uiteindelik, na alle waarskynlikheid, die krag van 'n gediversifiseerde instelling, land en wêreld wat put uit die diversiteit van gawes van 'n verskeidenheid mense in die strewe na uitnemendheid."
Mense eerste
In al sy werk was die fokus op mense, het Koopman beklemtoon. Dit het hom aangespoor om navorsing oor menswaardigheid en menseregte aan die US te bevorder. Prof. Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, en verkose Rektor en Visekanselier, het in sy inleidende opmerkings genoem dat hy ge?ntrigeer is deur Botman se fokus op navorsing. Met verwysing na projekte soos die iShack-projek, het Ramjugernath gesê Botman was daarop ingestel om hoop aan gemeenskappe te bring en die belofte van 'n beter lewe vir almal in 'n tyd toe hierdie benadering “moeilik was" om aan die akademiese gemeenskap te verkoop. Hy het bygevoeg dat sy visie as die US se 13de rektor en visekanselier (vanaf April 2025) strook met Botman se “pedagogie van hoop" en siening van die US as 'n instelling in diens van die samelewing.
Koopman het sy toespraak afgesluit met die herinnering dat die omgang met Botman se nalatenskap lig kan werp op baie van die vraagstukke waarmee die Universiteit vandag worstel. Soos Botman altyd gesê het, hy behoort nie aan homself nie, maar aan God, het Koopman afgesluit. “Ons sal Russel onthou as een wat aan die eeue behoort, ook aan ons tyd, ook aan ons. En ons sal aanhou om met hom in gesprek te tree. En ons sal onthou dat om hom werklik te eer, is om saam met Russel Botman verder as Russel Botman te gaan."