?Die nege kandidate wat in Augustus tot die Tygerberg Studenteraad (TSR) verkies is, is onlangs tydens 'n seremonie by STIAS in Stellenbosch as lede van die TSR 2024/2025 ingehuldig.
Die uittredende lede van die TSR, onder leiding van Mbano Sibande as Voorsitter, en Agqama Faku as die Ondervoorsitter, was teenwoordig by die geleentheid, en is vereer vir hul bydraes om kampuslewe te verbeter, as die stem van die studentegemeenskap op Tygerberg-kampus te dien, en om studente se belange en behoeftes binne universiteitsbestuurstrukture te bepleit.
Die hoofspreker by die geleentheid was dr Ben van Wyk, 'n Kliniese Fasiliteerder by die Simulasie- en Kliniese Vaardighede-eenheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en 'n voormalige TSR-lid. Hy het die inkomende leiers aangemoedig om “nie noodwendig in ritme, soos in die tradisionele sin te dans nie, maar om bereid te wees om 'n tree in onsekerheid te gee".
Liyema Jacobs, wat voorheen as Speaker in die Tygerberg Studenteparlement gedien het, is verkies as Voorsitter van die TSR 2024/2025, terwyl Aphiwe Madondo, wat die portefeulje vir Studentedienste op die TSR beklee het, as die Ondervoorsitter 2024/2025 verkies is.
Altesaam 16 kandidate het meegeding vir die nege beskikbare poste op die TSR.
“Om deursigtigheid en kandidaatsigbaarheid te verseker, het die kommissie drie aanbiedingsvergaderings op die 23ste, 25ste en 30ste Julie 2024 gere?l waar kandidate met die Tygerberg-kampusstudentekorps geskakel het. Veldtogte het amptelik op 22 Julie begin en het voortgeduur totdat die stemming gesluit is," het Kevin Naude, die Tygerberg-verkiesingsameroeper van die Tygerberg-verkiesingskommissie, verduidelik.
“Die Verkiesingskommissie het ook van 29 tot 31 Julie 2024 'n verkiesingsveldtog gevoer om entoesiasme onder studente te wek en verkiesingsdeelname en -bewustheid 'n hupstoot te gee."
Stemming was oop vir geregistreerde studente van FGGW en het van 23 Julie tot 1 Augustus 2024 geduur.
Die res van die TSR-lede sluit in Dylan Rudolph, Karabo Setsepu, Thandolwethu Noinyane, Hamidah Rabiu, Misiwe Makate, Sinothando Gaika en Sharon Adejimi. Ex officio-lede, wat 'n integrale deel van die TSR vorm, is ook as TSR-lede ingehuldig – Toluwani Toluwani Adeboyi (Tygerberg Primkomitee), Dineo Madikgetla (Tygerberg Nagraadse Studenteraad), Breyton Brand (Tygerberg Verenigingsraad) en Realeboga Mmethi (Tygerberg Akademiese Sakeraad).