Om te weet hoeveel leeus daar in 'n spesifieke gebied is, is belangrik vir bewaringspogings om die voortbestaan van hierdie ikoniese spesie te verseker. Een manier om hierdie inligting te bekom, is om in 'n jeep te klim, rond te ry en elke leeu wat jy sien te tel. Dit is presies wat Alison Govaerts, 'n doktorale student in Bewaringsekologie binne die Free to Roam-navorsingsgroep aan die Universiteit Stellenbosch (US), doen.
Govaerts, wat van Belgi? afkomstig is, is ook die medeleier van die Bedreigde Natuurlewetrust (EWT) se leeu-ruimtelike vaslê-hervaslê-opname. Sy en die EWT-span, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke en met finansi?le ondersteuning van die Leeuherstelfonds, tel in die sentrale dele van die Krugerwildtuin leeus om hulle getalle in die gebied te skat.
Volgens Govaerts is die tel van leeus in die Krugerwildtuin 'n belangrike stap in die bewaring van die spesie omdat dit deur die Internasionale Unie vir Natuurbewaring se Rooi Lys van Bedreigde Spesies as kwesbaar geklassifiseer word.
"Ons moet weet hoeveel leeus daar in die nasionale parke is, en die volgende stap sal wees om op konnektiwiteit tussen hierdie parke te fokus. Al hierdie parke is soos klein eilande, maar dit is van kardinale belang om geleenthede te skep vir die vloei van gene, migrasie, herkolonisering en aanpassing by klimaatsveranderinge en seisoenale prooiskommelings.
"Ons moet egter eers tel hoeveel daar is en ondersoek instel na waar hulle is, voordat ons probeer om die gebied effens te open sodat hulle tussen parke kan migreer. Jy kan nie voldoende bewaringstrategie? vir spesies ontwikkel as jy nie weet hoeveel daar is en waar hulle tans voorkom nie."
Sy voeg by dat daar nog altyd skattings van die aantal leeus in Afrika was, maar dit is moeilik om te weet hoeveel daar is. Dit is ramings en nie op tellings gegrond nie.
"Die Krugerwildtuin is baie groot en daar is baie leeus in die park, maar jy moet al die bevolkings, selfs klein, groot, beskermd of dié buite die parke, monitor om te weet wat die situasie is. Want klimaatsverandering, konflik met mense of habitatverlies kan byvoorbeeld bevolkings vinniger be?nvloed as wat ons dink, en leeus kan nie maklik terugbons ná ernstige afnames in populasies nie."
Govaerts sê sy en die EWT-span vertrek gewoonlik met sonsopkoms en ry dan rond om leeus te vind. Sy gee nie om om ure daaraan te spandeer om 'n leeu raak te sien nie, want sy is lief vir karnivore en die Afrika-natuurlewe. Voordat sy na die Krugerwildtuin gekom het, het sy leeus in die Limpopo-wildtuin (Mosambiek) en bobbejane in die Kasanka-wildtuin (Zambi?) bestudeer.
Govaerts wys daarop dat dit nie altyd maklik is om leeus te tel nie, want dit kan soms moeilik wees om hulle te vind.
"Ons moet deur die hele gebied ry om seker te wees. Soms ontvang ons hulp van toeriste of veldwagters, of ons beproef ons geluk in gebiede waar ons weet daar is 'n goeie kans om hulle te vind (naby water en prooi). Wanneer ons hulle wel vind, neem ons identifikasiefoto's en wanneer ons terug is in die kamp, sorteer ons die foto's en stel ons katalogusse saam van elke trop leeus.
"Smiddae gaan ons óf vir nog 'n rit, óf ek werk aan ander aspekte van my PhD-projek. Die finale ontleding van hierdie ruimtelike vaslê-hervaslê-opname sal deur ons medewerkers by die Leeuherstelfonds uitgevoer word.
"Dit is baie moeilik om leeus uit te ken omdat hulle nie soos luiperds of wildehonde kolle het nie. En wanneer hulle dieselfde ouderdom en geslag is, is dit moeilik om hulle van mekaar te onderskei."
Govaerts sê die enigste manier om leeus uit te ken, is om op hulle snorbaardkolle, wat soos vingerafdrukke is, te fokus. Sy wys daarop dat die boonste ry van elke leeu se snorbaardkolle uniek is en regdeur die dier se lewe dieselfde bly. Hulle gebruik kameras met lang lense om foto's van die kolle aan weerskante van die leeu se gesig te neem, aangesien die twee kante van mekaar verskil.
Aangesien elke leeu in hierdie ruimtelike vaslê-hervaslê-opname ge?dentifiseer word, het Govaerts en die EWT-span die voordeel dat hulle nooit 'n leeu twee keer tel nie.
"Dit is ook maklik om die geslagsverhoudings en die ouderdomme te bepaal en ons is altyd redelik seker oor alles. Ons tel elke leeu wat ons te?kom," sê sy.
Govaerts sê hoewel leeubevolkings in Afrika afgeneem het, gaan dit nog steeds goed in sommige gebiede. Die gevaar is dat, sodra hulle onder 'n sekere drempel is, hulle nie kan herstel nie.
Sy beklemtoon die belangrikheid daarvan om ook op die mense wat in die omliggende gebiede woon te fokus.
"Ons moet ook op die mense fokus, want hulle is deel van die vergelyking, en as ons hulle nie in ag neem of by die bestuursbesluite betrek nie, gaan dit nie vir die dier óf die mense goed wees nie."
Volgens Govaerts sal hulle, sodra hulle die opname teen einde September voltooi het, 'n baie duideliker beeld van die verspreiding van leeus in die Krugerwildtuin hê.
- Klik hier vir meer inligting oor Alison Govaerts se werk en om haar projek te ondersteun. ?