中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US wys 13de Rektor en Visekanselier aan
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 05/09/2024

?Professor Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch (US), is deur die US-Raad as die aangewese Rektor en Visekanselier aangewys.

Prof Ramjugernath sal die amp op 1 April 2025 aanvaar met prof Wim de Villiers wat op 31 Maart 2025 sy tweede termyn van vyf jaar as Rektor en Visekanselier afsluit. Hy word die Universiteit se 13de rektor (hoewel die naam van hierdie pos die afgelope 100 jaar 'n paar keer verander het). In hierdie oorgangstydperk sal Ramjugernath as aangewese Rektor en Visekanselier nou saam met De Villiers werk.

Ramjugernath is 'n gesoute en hoogs ervare leier in die ho?ronderwyssektor met byna 12 jaar senior uitvoerende ondervinding in hierdie sektor in Suid-Afrika. Hy was vóór sy aanstelling as Viserektor: Leer en Onderrig by die Universiteit Stellenbosch in Januarie 2021, die Viserektor: Navorsing en Pro-visekanselier: Innovasie, Kommersialisering en Entrepreneurskap aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy het ook uitgebreide direksie- en bestuurservaring en het al in verskeie maatskappydireksies en organisasierade gedien.

Ramjugernath woon saam met sy vrou, 'n bekwame akademikus in eie reg, hulle drie dogters en twee honde op Stellenbosch.
 
"Ek voel baie ge?erd dat die geleentheid om een van die topuniversiteite in Afrika te dien en te lei, aan my toevertrou is. Ek is baie dankbaar dat die Raad van die US hulle vertroue in my visie stel om die instelling na die volgende vlak as 'n navorsingsintensiewe universiteit van wêreldgehalte te neem wat in diens van die samelewing staan," het Ramjugernath oor sy aanstelling gesê. "Stellenbosch word plaaslik en internasionaal vir sy akademiese uitnemendheid gerespekteer en bewonder, en ek sien uit na die tydperk van noue samewerking met prof De Villiers voordat ek in April aanstaande jaar amptelik die amp aanvaar en voortbou op sy ongelooflike ampstermyn en prestasies die afgelope dekade."

Ramjugernath se aanstelling kom ná 'n deeglike werwingsproses, insluitende aanbiedings deur en onderhoude met kandidate op die kortlys by vergaderings van die Senior Aanstellingskomitee, die Senaat, die Institusionele Forum en die Raad.

Die voorsitter van die Raad, Nicky Newton-King, het gesê: "Ons is verheug oor prof Ramjugernath se aanstelling en sien daarna uit dat hy ons spesiale instelling in die volgende fase van sy reis lei. Hy is 'n uitstekende akademikus en gesoute administrateur en die Raad het geen twyfel dat hy 'n waardige opvolger van prof De Villiers sal wees nie."

Newton-King het erken dat die Raad 'n moeilike taak gehad het. "Die US se prestasies het aansoeke van die beste plaaslike en internasionale kandidate gelok. Alle eer aan prof De Villiers, sy Rektoraat en die bykans 3 500 Stellenbosse akademici en professionele en administratiewe steundienstepersoneel wat verseker dat die US steeds topnavorsings- en studente-uitslae lewer. Die Raad is baie dankbaar hieroor."

Volg hierdie skakel vir meer inligting oor die proses wat gevolg is, die pligte en verantwoordelikhede van die Rektor en Visekanselier, ens.