中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong demokrate in Stellenbosch byeen vir Afrika se eerste ‘International Youth Think Tank’
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Anel Lewis]
Gepubliseer: 03/09/2024

?

'n Jeugkonferensie oor demokrasie in Afrika en Nobelsimposium wat in Stellenbosch gehou is, het begin met 'n minuut stilte vir Namatai Kwekweza, 'n Zimbabwiese menseregte-aktivis wat in aanhouding is. Sy was veronderstel om een van die hoofsprekers te wees.

Kwekweza, die eerste wenner van die Kofi Annan “NextGen"-demokrasieprys 2023, is een van 18 aktiviste wat in Julie in Zimbabwe gearresteer is vir “wanordelike gedrag".

In plaas van 'n toespraak by die Frederik Van Zyl Slabbert-lesing, wat deel was van die 6de International Youth Think Tank (IYTT) se Jeugkonferensie en Nobelsimposium – wat die eerste keer in Afrika gehou is – wag sy op haar volgende hofverskyning.

Soos Helen Moffett, STIAS-genoot en moderator van die paneelbespreking oor die toekoms van Afrika-demokrasie, opgemerk het, “Dié voorval (Kwekweza se aanhouding) dwing ons om ernstig na te dink oor die belangrikheid van hierdie program".

Toe daar egter aan die einde van die week oor die verrigtinge besin is, was die oorheersende gevoel een van hoop. Soos die Nobelvredespryswenner Tawakkol Karman in die afsluitingsessie aan die afgevaardigdes gesê het: “Dit is 'n wonderlike projek, en ek twyfel nie daaraan dat julle verandering sal teweegbring nie."

Vier-en-twintig jong mense tussen 18 en 28 jaar oud, van agt lande, het die week deurgebring in gesprekke met geleerdes en professionele vakkundiges oor onderwerpe wat verband hou met demokrasie, vredesinisiatiewe en demokrasievernuwing.

Prof. Deresh Ramjugernath, viserektor vir leer en onderrig aan die US, het in sy openingsrede gesê belangstelling in betrokkenheid by wêreldwye demokrasiekwessies word onderstreep deur die feit dat daar meer as 200 aansoeke vir die eerste IYTT-jeugkonferensie in Afrika was. “Die IYTT is 'n kragtige katalisator vir verandering." Met verwysing na die IYTT as 'n “broeikas van idees", het Ramjugernath gesê dit is 'n sterk wekroep vir 'n ander manier van dink.

Christian Fogelstr?m, adjunkhoof van die Sweedse sending by die land se ambassade in Suid-Afrika, het die jeugdeelnemers van Botswana, Nigeri?, Malawi, Pakistan, Suid-Afrika, Zambi?, Zimbabwe en Uganda beskryf as “die hoop" en die “briljante jong denkers" wat die toekoms sal help rig.

In sy uiteensetting van die Noorweegse Nobel Instituut se siening dat demokrasie en maatskaplike geregtigheid voorvereistes vir vrede is, het die direkteur, prof. Olav Njǒlstad, verwys na die Suid-Afrikaanse Nobelvredespryswenners Albert Luthuli, Desmond Tutu, en Nelson Mandela en FW de Klerk. “Demokrasie is ons beste waarborg teen burgeroorlog. So, die werk wat julle doen gaan nie net oor demokrasie nie, maar ook oor vrede," het hy aan die deelnemers gesê.

Prof. Staffan Lindberg, direkteur van die V-Dem Instituut: Demokratiese Verskeidenheid aan die Universiteit van Gotenburg, het gewys hoe demokrasie in baie lande oor die wêreld heen besig is om te kwyn. Outokratisering is aan die orde van die dag in 42 lande, die tuiste van 35% van die wêreldbevolking. Dit ten spyte van navorsing deur die V-Dem Instituut wat toon dat demokrasie? ekonomies beter vaar, goed presteer wat maatskaplike beskerming betref, sterftesyfers verbeter het en beter deelname aan onderwysgeleenthede rapporteer. Aanwysers van demokratiese agteruitgang sluit volgens hom in mediasensuur, beperkings op vryheid van uitdrukking en die onderdrukking van die burgerlike samelewing.

“Almal van ons het 'n daadwerklike verantwoordelikheid om demokrasie te verdedig, veral julle as jong mense," het Karman die deelnemers aangespoor. Karman, bekend as “die Moeder van die Revolusie" in Jemen, het die Nobelprys vir Vrede in 2011 gewen vir haar rol in pro-demokrasie-opstande. “Julle as die jeug het die energie en die tyd om verandering te bring."

'n Blik op die toekoms

Die program is afgesluit met aanbiedings deur die deelnemers oor uitdagings vir demokrasie en voorgestelde oplossings. Aanbevelings het ingesluit meer inklusiwiteit en beter aanspreeklikheid deur alle sfere van regering. Dr. Heidi October, medesameroeper en hoof van die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut, het opgemerk dat die werk van hierdie IYTT-program ná die konferensie sal voortgaan. “Hierdie groep van 24 sal onthou word as die veranderingsagente van hul tyd."

Sy het die groep geprys vir die versterking van Afrika-perspektiewe om die leierskapuitdagings wat oor die hele vasteland ervaar word, te takel. “As ons die narratief van Afrika wil verander, moet ons die skrywers van ons narratief word."

Prof. Urban Strandberg, sameroeper en medestigter van die IYTT, het bevestig dat die volgende IYTT in 2025 in Washington DC gehou sal word. Hy het ook aangekondig dat 'n groep afgevaardigdes van Afrika, Europa en die VSA volgende jaar in Gotenburg, Swede, sal vergader om oor kontinente heen betrokkenheid by demokrasie moontlik te maak.

Die NOBEL SYMPOSIUM NS 203 “African Youth Show the Way Towards Peace and Democracy, 6th IYTT Youth Conference" is gefinansier deur die Marcus en Amalia Wallenberg-stigting, georganiseer deur die International Youth Think Tank, en die US se Sentrum vir Studentelewe en Leer se Frederik Van Zyl Slabbert Instituut, in samewerking met die Noorweegse Nobel Instituut, en aangebied by STIAS – Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing.?

Foto: Stefan Els