中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Louise du Toit kweek kritiese denke oor geslagsgeregtigheid
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 13/08/2024

?Ter viering van Vrouemaand laat die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig op buitengewone studente en personeel op ons kampusse val wat hulle vir vroueregte en geslagsgelykheid beywer. Hulle bevorder positiewe verandering deur hulle toewyding en leierskap. Prof Louise du Toit, medeprofessor in Filosofie aan die US, spesialiseer in feministiese filosofie en het reeds breedvoerige onderrig gegee oor geslagsgeregtigheid en seksuele geweld in die hoop om filosofiestudente toe te rus om betrokke te raak by die stryd om geslagsgelykheid.

Wat het jou ge?nspireer om 'n loopbaan in die filosofie te volg, veral met 'n spesifieke fokus op feministiese filosofie en seksuele geweld?

My voorliefde vir filosofie het natuurlik ontstaan. Ek het in 'n huis grootgeword waar alles onder die son gedurende Sondagmiddagetes gedebatteer is. Ek was nog op skool toe my ouer broer Fanie my saamgeneem het na een van sy filosofieklasse, en dit het dadelik my belangstelling geprikkel. In daardie dae was daar twee filosofie departemente! En daarom het ek gedurende my voorgraadse studie al die filosofiemodules wat ek kon, geneem as aanvullings tot my graadprogram.

Die manier waarop die vakgebied my geleer het om my gedagtes te ori?nteer en my denke te suiwer en te verhelder, terwyl dit ook nuwe en selfs oortredende idees, ook oor vakgebiede heen, aangemoedig het, was geweldig opwindend. Die eerste feministiese filosofiemodule wat ek geneem het, is die een wat ek as plaasvervangerdosent moes aanbied nadat derdejaarstudente 'n versoekskrif onderteken het waarin dit ge?is is. Dit was 'n soete-toeval ontdekking, want ek het in daardie tyd ook swanger geraak met my eerste kind, en het toe hier vir die eerste keer filosofiese tekste te?gekom wat oor vrouwees en moederskap praat.

Die keuse om my doktorale proefskrif oor seksuele geweld te doen, was in reaksie op die verkragting van Baba Tshepang in 2001. Terwyl ek snags wakker gelê het, het ek begin wonder of filosofie se gesofistikeerde gereedskap kon sin maak van iets só wreed en sinneloos.

Ek het later by die internasionale navorsingsgroep, Seksuele Geweld in Gewapende Konflik, betrokke geraak wat in Hamburg gesetel is en oorlogsverkragting in verskillende kontekste en uit 'n verskeidenheid vakgebiede ondersoek. Daar kon ek weer die groot impak sien wat 'n filosofiese bydrae in gesprekke met historici, sielkundiges, regsgeleerdes en aktiviste, letterkundiges, kunstenaars en ander kan maak.

Hoe oorbrug jy Europese en Afrika-tradisies in jou werk oor feministiese filosofie?

Miskien is 'oorbrug' nie die regte woord nie. Ek bestudeer skrywes van feministe van Europa én Afrika, waarna hulle in my gedagtes begin saamkuier en dan natuurlik met mekaar begin gesels. En die gesprekke wat ek afluister, is uiters boeiend! En daaroor skryf ek.

Soms maak ons dinge te ingewikkeld as ons in terme van abstraksies soos 'Europees' en 'Afrikaans' dink. Natuurlik is daar 'n komplekse en onderdrukkende geskiedenis (selfs 'n kennisvernietiging) om sterk in gedagte te hou, maar terselfdertyd kombineer die meeste Afrikane reeds 'n sekere 'Europeesheid' met 'n mate van 'Afrikaniteit' in hulle persoon en in hulle denke. In 'n sekere sin is ons almal hibriede.

Ek is genoeg van 'n humanis om te glo dat ons na die maksimum aansluitbaarheid en moeilike vertalings moet strewe, eerder as om 'n onbereikbare kulturele/taalkundige suiwerheid na te jaag. Ek het reeds in my honneursjaar, toe ek 'n module oor Afrika-romans gedoen het wat deur vroue geskryf is, daarvan oortuig geraak dat hierdie vroue besig was om 'n belangrike feministies-filosofiese bydraes te lewer, of ten minste kreatiewe feministiese idees produseer het wat in die feministiese filosofie hier opgeneem kan en moet word.

In Julie 2024 is die eerste feministiese filosofie-konferensie in Suid-Afrika gehou en ek is gevra om 'n hoofrede te lewer. Hoewel ek met groot genot 'n nuwe generasie vroulike filosowe sien wat die akademie betree en beide feministies en andersins belangrike werk doen, moedig ek hulle aan om nie net in die tradisionele filosofie uit te blink nie, maar om ook daardie tradisie se vorm én inhoud uit te daag.

Wat is van die lonendste aspekte van jou rol as professor en mentor vir studente aan die Universiteit Stellenbosch?

As 'n ouer van klein kindertjies beskou jy dit moontlik as een van jou take om jou kinders tuis te laat voel in die wêreld. Jy sê vir hulle: "Dit is hoe xyz werk, as dit gebeur, is dít wat jy moet doen." Maar ek vind die rolle word in die onderwys dikwels omgekeer, en dat my studente voortdurend op hierdie manier aan my ouerlike leiding bied.

Elke nuwe jaargroep help om my tuis te laat voel in die vreemde, nuwe en immer veranderende wêreld waaraan hulle, die kinders, reeds behoort. Wanneer hulle hul eksistensi?le kwessies of hulle opstel-onderwerpe na ons besprekings bring, vestig hulle my aandag op die jongste hoofbrekens, die besondere aspekte van die wêreld waarin hulle leef. So, terwyl ek probeer om hulle te laat tuis voel in die wêreld van filosofie, rig hulle altyd my aandag op die mees resente uitdagings wat ons in die gesig staar.

Net gister het 'n voormalige student wat 'n vriend geword het, my van al die lekkertes en nadele van 'n AI-'lewensmaat' vertel. Blykbaar kan hulle baie oplettend en sorgsaam wees, maar hulle kan ook die verhouding met jou verbreek! Met jou, die regte mens in die prentjie!

Daar was ook moeiliker lesse wat ek by van my studente moes leer. Ek is byvoorbeeld 'n paar jaar gelede deur 'n honneursstudent uitgedaag weens die gebrek aan fokus op ras in my konseptualisering van seksuele geweld in daardie stadium. Ek het aanvanklik gekrenk gevoel, maar het daarna 'n punt gemaak om die belangrike werk te lees wat omgaan met die verband tussen verkragting en ras. Dit het my navorsing aansienlik bevoordeel.

Die sorg en energie wat my studente na hulle filosofiese werk bring, hulle begeestering om hul verstaan van die wêreld te verryk en dit ten goede te verander, inspireer my. Almal is uniek en daar is min dinge in die lewe wat so opwindend is as om te sien hoe 'n student haar unieke stem vind.

Om te sien en te luister hoe 'n student 'n sterk en genuanseerde, onafhanklike en weldeurdagte argument aanvoer, gee my 'n energie-inspuiting. Ek sien my onderrig en mentorskap as iets wat wêrelde verbind soos kwiltwerk. En dié soort werk kan nooit 'n eensydige saak wees nie. Dit is óf 'n lewendige dialoog met baie wat op die spel geplaas word, óf dit is niks nie.

Hoe dra jou werk by tot die stryd teen 'n verkragtingskultuur en die bevordering van geslagsbillikheid op kampus?

Ek het al baie uit verskillende perspektiewe geskryf oor seksuele geweld. Maar 'n mens se geskrewe werk word nie altyd bevredigend versprei nie. Ek was al by inisiatiewe binne én buite die klaskamer betrokke om die verkragtingskultuur op kampus aan te spreek. Ons weet dat universiteitskampusse wêreldwyd broeiplekke vir seksuele geweld en teistering is, en ongelukkig is ons Universiteit geen uitsondering nie. Ek was deel van 'n foto-stem-projek waar vyf vroue studente-navorsers hulle persoonlike ondervindings met die hantering van gevaar en veiligheid op die Stellenbosch-kampus gedokumenteer het – besoek gerus campusrapeculture.co.za.

Ons oogmerk was dat hierdie projek die gesprek in ho?ronderwysinstellings regoor die land aan die gang moes sit in reaksie op dít wat ons weet 'n ho? voorkoms is. Hierdie gesprek het nog nie voldoende momentum gekry nie, maar dit is van kritiese belang om die kwessie aan te spreek. Kampuswye bewustheid en bemagtiging en deurlopende onderrig is die oplossings; en nie bloot tegniese benaderings soos meer sekuriteitswagte of kameras nie.

Die eerste ding om te verstaan is wat 'verkragtingskultuur' beteken. Dit beteken nie dat 'n mens se kultuur verkragting voorskryf of selfs goedpraat nie, hoewel ek dink dit is wat baie mense hoor en dan die konsep verwerp en weier om verder betrokke te raak. Hierdie soort impulsiewe reaksie is een van die grootste struikelblokke om geslagsgebaseerde geweld in ons land op te los.

Oral waar mense met of sonder die hulp van instellings optree asof seksuele geweld 'n natuurlike of onvermydelike las is wat sommige kwesbare groepe moet dra, vererger hulle die probleem. Om ten volle te besef in watter mate die uiteenlopende en baie ho? koste van seksuele geweld en geslagsgebaseerde geweld deur die kwesbaarstes gedra word, moet 'n mens verstaan hoe hierdie vorms van geweld in 'n lang geskiedenis van rassisme en kolonialisme ingebed is.

'Verkragtingskultuur' verwys na die soort kulturele 'steierwerk' (om by Nicola Gavey te leen) wat help om seksuele geweld te fasiliteer in die sin dat dit prosesse, sanksies, gebeure, volkswysheid en verwagtinge behels wat seksuele geweld voorspel, maklik maak om mee weg te kom en moeilik maak om uit te roei. Daar is 'n geneigdheid om die slagoffer te blameer en die prys van rapportering hoog te maak terwyl die kwaaddoener beskerm word.

Die gesegde, 'seuns bly maar seuns', is 'n goeie voorbeeld van verkragtingskultuur. Dit moedig seuns en mans aan om sosiale norms te oortree (insluitende seksuele norms soos om toestemming te vra) en beeld sulke oortredings uit as natuurlik, tydloos en onskuldig. Dit verwag van meisies en vroue om die koste te internaliseer en te dra, dikwels in skaamte en stilte.

Die belangrikste ding binne instellings is om 'n gedeelde woordeskat en gedeelde begrip rondom verkragtingskultuur en geslagsgelykheid op te bou en dan te verseker dat ons nie net 'n kragtige beleid het nie, maar ook sentrums met outonome magte wat geslagsgeregtigheid op alle fronte op 'n meedo?nlose en onbevooroordeelde manier kan nastreef.

Vertel ons meer van jou gesin en hoe hulle jou gedurende jou akademiese reis ondersteun het?

Die beginjare was moeilik. Ek het voltyds aan die Universiteit van Johannesburg klasgegee, drie klein kindertjies gehad en ook my PhD gedoen. Een van my PhD-studieleiers, Selma Sevenhuijsen, was van mening dat vroue in die akademie 'n verdere 10 tot 15 jaar by hulle loopbane gevoeg moet kry, want dikwels het hulle eers teen hulle vroe? sestigs behoorlik op dreef gekom nadat hulle soveel jare spandeer het om 'n gesin groot te maak!

Ek is bevrees ek het, ten spyte van my beste poging, my kinders ietwat afgeskeep ter wille van my loopbaan. Maar hulle is vandag wonderlike vriende – ek aanbid en bewonder elkeen vir hulle unieke eienskappe. Hulle vroe? 'ondersteuning' van my loopbaan was ietwat onwillekeurig, maar sedert hulle grootgeword het, het hulle my op 'n menigte vrywillige maniere ondersteun.

Ek wil ook erkenning gee aan my oorlede pa, Danie, wat ses maande ná my ma se dood by my in Johannesburg gebly het om die huishouding te bestuur en my ruimte gegee het om my studies te voltooi. My lewensmaat, Hendrik, het my ondersteun deur my skryfwerk in diepte met my te bespreek, veral vir my PhD. Hy het my gedwing om die argument van elke hoofstuk te verbaliseer en te verdedig soos ons van die kombuis na die slaapkamer tot die sitkamer konsepte deurtrap het. Dit was van onskatbare waarde!

FOTO: Stefan Els