中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US nagraadse studente in Aardwetenskappe se tesisse beste in Suid-Afrika
Outeur: Faculty of Science (media & communication)
Gepubliseer: 12/08/2024

Nagraadse studente in die Department Aardwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) maak vanjaar geskiedenis met twee toekennings wat hulle van die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika losgeslaan het. Die toekennings vir die beste MSc-,  én beste honneurs-BSc-tesis in aardwetenskappe aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit in 2023, kom US toe!

Rutger La Cock het die Johan Handley-toekenning  ontvang vir die beste MSc-tesis in aardwetenskappe vir sy werk oor die goud-koolstof-gekoppelde geochemiese siklus, met 'n besondere klem op hoe hierdie siklusse oorvleuel in gouddraende monsters van die meer as drie miljard jaar oue Barberton Greenstone Gordel.

Llelani Coetzer het die Haughton-toekenning ontvang vir die beste honneursprojek in aardwetenskappe vir haar werk oor metamorfiese toestande in die loodgietersisteme van die Darling Batholith binne die Saldania Gordel. Prof. Gary Stevens was haar studieleier en sy is tans besig met haar MSc waar sy die minerale en interne strukture van metoeoriete ondersoek.

Wat hierdie prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat La Cock ook in 2022  die Haughton-toekenning ontvang het. Dit voeg hom by die uitgelese groepie van slegs vier studentwetenskaplikes wat beide die beste honneurs-tesis en MSc-tesis in hul onderskeie jare aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit gelewer het.  Dr Bjorn von der Heyden was in albei gevalle sy studieleier.

La Cock, wat homself as 'n bietjie van 'n bleeksiel beskryf, sê hy het nog altyd 'n passie vir wetenskap gehad en was versot op geografie en fisika: “Dit het vir my gelyk asof 'n graad in aardwetenskappe 'n goeie skeut van albei het. Op die ou end was dit eintlik 'n maklike besluit, alhoewel dit nie die gootste akademiese departement is nie."

Hierdie voormalige leerder van Ho?rskool Fairmont geniet tans 'n blaaskans weg van die akademie en werk op die oomblik vir Gryphon Exploration, 'n maatskappy werksaam in die mineraaleksplorasie-sektor. Hulle fokus op eksplorasieprojekte in Afrika suid van die Sahara, en werk meestal met edelmetale en basismetale.

Volgens Coetzer wat in 2012 aan die Ho?rskool Strand gematrikuleer het en eers 'n BSc in Menslike Lewenswetenskappe verwerf het, gevolg met 'n honneurs in Sielkunde, is geologie die beste vakgebied om in te delf: “Ons doen sulke cool navorsing – van geochemie, isotope en piepklein minerale tot  massiewe gebergtes. Daar is inderdaad iets vir elkeen!"