Prof Thuli Madonsela, Direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ), onthou nog baie goed waar sy 30 jaar gelede op 27 April 1994 was – die dag toe Suid-Afrika 'n ware demokrasie geword het. As voorsittende beampte van die Hillbrow-stemlokaal in Johannesburg het sy gemengde emosies ervaar. "My kop was tot barstens toe vol met ongelooflike hoop. Maar daar was ook 'n groot gevoel van verantwoordelikheid en 'n element van vrees dat enigiets wat ek in my stemlokaal sou laat verkeerd loop, dinge sou laat ontspoor," onthou sy.
Die meeste politieke sterftes het in die vier jaar voor Suid-Afrika se algemene verkiesing in 1994 voorgekom en daar was aansienlike weerstand teen die aanbreek van 'n demokratiese bestel, ook van veiligheidsmagte binne die apartheidsinstelling, sê Madonsela. "Daar was geldige redes vir kommer oor die potensiaal van geweld op verkiesingsdag, maar genadiglik het ons 'n vreedsame verkiesing gehad."
Wanneer sy besin oor haar ho? verwagtings van wat demokrasie na Suid-Afrika sou bring, merk Madonsela op dat ervaring haar geleer het dat droom en doen verskillende dinge is. "Ek het eerlikwaar gedink dat ná dertig jaar van demokrasie, ongelykheid, wat die grootste bron van onmin in Suid-Afrika was, nou iets van die verlede sou wees. Miskien was ek te na?ef om te dink dat strukturele ongelykheid wat oor drie eeue geskep is, in drie dekades uitgeroei sou kon word.
"Ek het natuurlik geweet 'n grondwet is nie 'n towerstaf nie. Ek was bewus daarvan dat die inwerkingstelling van 'n nuwe Grondwet en die aanvaarding van wette wat diskriminasie verbied en gelykheid verskans, nie onmiddellike verandering sou bring nie. Maar op die een of ander manier het ek op baie meer gehoop as dít wat ons vandag het."
Madonsela voel baie sterk daaroor dat Suid-Afrika se versuim om die ho? ideale ná politieke bevryding gestand te doen, nie op die Grondwet geblameer moet word nie. Sy het al dikwels gesê die probleem lê in die versuim om grondwetlike staatsbestuur en aanspreeklikheid te verstaan en te implementeer.
"Suid-Afrika het een van die mees transformerende moderne grondwette in die wêreld. In die aanhef tot die Grondwet word daar ondubbelsinnig verklaar dat sosiale geregtigheid een van die kerndoelwitte van sy transformerende agenda, tesame met die bevordering van menseregte en demokratiese waardes, is.
"Ons versuim om hierdie beginsels in sommige gevalle toe te pas, kan aan onbekwaamheid en korrupsie toegeskryf word, maar ek het waardering vir mense soos professor Tshepo Madlingozi wat sê die Grondwet kon 'n bietjie meer spesifiek gewees het. As jy byvoorbeeld na die restitusieverklaring van die Universiteit Stellenbosch (US) kyk, erken dit nie net die ongeregtighede van die verlede en eer dit nie net diegene wat vir geregtigheid geveg het nie, maar erken dit ook die nalatenskap van die verlede. As ek dus die Grondwet kon herskryf, sou ek ongeregtighede van die verlede en hul nalatenskap byvoeg. Waarom is so 'n klein detail belangrik? Dit is belangrik vir diegene wat nou die Grondwet verwerp omdat hulle nie dink dit erken die gevolge van die ongeregtighede van die verlede nie."
Madonsela sê nog 'n uitdaging in Suid-Afrika is die gaping tussen konstitusionele hofuitsprake en hoe die wetgewer sy transformerende taak verstaan. Sy merk op dat Oos-Europa suksesvol was in die demokratisering en sistematisering van menseregte na die val van kommunisme omdat die Venesiese Kommissie gestig is om regerings te help om sin te maak van grondwetlike bepalings en dit dienooreenkomstig te implementeer.
Hoewel daar reeds groot vordering in Suid-Afrika gemaak is ten opsigte van die uitbreiding van regte aan almal en die verbetering van aspekte soos maatskaplike sekerheidsvoordele, bly sekere groepe agter. Sy beklemtoon spesifiek die lot van vroue wat histories slagoffers van vervaardigde ongelykheid was. "Die meeste onbetaalde werk word steeds deur vroue gedoen en die las van sorg vir ander val steeds hoofsaaklik op vroue."
Madonsela verwys na 'n nuwe grens van "onvryheid", 'n term wat die eerste keer deur prof Sampie Terblanche, 'n emeritusprofessor aan die US, geskep is. "Dit impliseer dat hoewel jy wetlik vry is, jy in praktiese en ekonomiese terme nie vry is nie. Ons regering het nie genoeg gedoen om volgehoue magsimmetrie? aan te spreek en die speelveld gelyk te maak nie. Die kern van sosiale geregtigheid is regverdigheid teenoor almal soos uitgelig deur John Rawls. Die probleem ontstaan met betrekking tot die bepaling van wat regverdig is. In die verlede het diegene in die nabyheid van mag en beheer oor ekonomiese hulpbronne dit regverdig geag om 'n leeueaandeel van geleenthede, hulpbronne, voordele en voorregte te kry. Ongelukkig het ons steeds 'n situasie waar diegene wat die koek sny, presies weet aan watter kant hulle brood gebotter is."
Wat betref maniere om Suid-Afrika se demokrasie te versterk, sê Madonsela ons moet verder kyk as regsoplossings en regeringsingrypings om ook sinvolle gesprekke te inisieer. "Ons moet sakeleiers en die burgerlike samelewing betrokke kry by gesprekke oor kwessies soos voedselonsekerheid en toegang tot die internet sodat ons die potensiaal van meer mense kan ontsluit. As jy volhoubare sakesukses wil hê, benodig jy 'n volhoubare ekostelsel. 'n Onregverdige ekostelsel is nie volhoubaar nie. Wanneer mense weens die ho? koste van data nie aan die digitale ekonomie kan deelneem nie, be?nvloed dit hulle reg op toegang tot inligting. Benewens die beperking van ekonomiese vryheid, sluit dit hulle uit van die belangrike diskoerse oor demokrasie en politieke debatte wat aanlyn plaasvind."
In haar werk by die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid het Madonsela 'n teorie van sosiale geregtigheid ontwikkel om mense se geregtigheidsbewussyn te verhoog terwyl hulle betrokke raak by "alledaagse geregtigheid". Sy verduidelik sy het vir die eerste keer in regverdigheid begin belangstel toe sy as kind haar broer sien speel het terwyl sy huistake verrig het. Sy wou geregtigheid vir haarself hê. Toe merk sy op dat haar ma en ander vroue ook 'n stryd voer – en sy wou geregtigheid vir "ons" hê. Nadat sy besef het in watter mate wette teen mense van verskillende rasse en ander groepe gediskrimineer het – diegene met MIV, die werkersklas, godsdienstige mense of diegene met gestremdhede – wou sy geregtigheid vir almal hê. "Vir geregtigheid om te werk, moet dit ook in klein ruimtes betekenis hê – in gesinne, in fabrieke, in werkplekke, oral."
Madonsela en haar span by die CSJ streef voortdurend daarna om 'n groter begrip van sosiale geregtigheid te bevorder en gemeenskappe oor menseregte op te voed. Die CSJ is baie aktief in die ondersteuning van studente op die US-kampus wat weens die NSFAS-finansieringskrisis behoeftig gelaat is en wat in die sogenaamde "verlore middelgroep" val.
"Ons moet as 'n Universiteitsgemeenskap aktief betrokke raak by die aanspreek van die onderwysfinansieringskrisis waarin ons ons bevind. Dit is een van die stappe wat ons kan doen om te verseker dat sosiale geregtigheid 'n geleefde werklikheid vir meer mense in ons land is."
Sy het haar dank teenoor die US se leierskap, personeel, studente en alumni uitgespreek vir hulle toewyding tot die substantiewe bevordering van vryheid binne die Universiteit en die bre?r samelewing.
Madonsela wys daarop dat Vryheidsdag as 'n herinnering dien dat Suid-Afrika nog nie volle vryheid en de facto gelykheid bereik het nie. "Maar ons het almal die mag om 'n verskil te maak. Jy het die mag om gelykheid te bevorder, selfs al is jy arm. Dit begin by hoe ons mekaar behandel. Op verkiesingsdag op 29 Mei het ons die geleentheid om leiers te kies wat daartoe verbind is om 'n samelewing van gelykes te handhaaf, beheer deur demokratiese waardes wat die gelyke genot van menseregte verseker sodat elke Suid-Afrikaner se potensiaal verwesenlik word."