Studentekaarte
Nuwe studente
Alle studente moet ná registrasie ? studentekaart bekom. Jy sal jou studentekaart om verskeie redes nodig kry, dus moet jy dit altyd by jou hê wanneer jy op kampus is. Sodra jy geregistreer is, besoek die toepaslike lokaal hieronder. Jy sal vir jou bewys van registrasie en agterstallige betaling van gelde gevra word, waarna jou kaart aan jou uitgereik sal word:
- Neelsie-studentesentrum – vir die uitreiking van kaarte van Maandag 27 Januarie tot Vrydag 21 Februarie 2025. Kaarte sal daagliks tussen 8:00 – 16:00 uitgereik word. Let asb. daarop dat kaarte op Vrydag, 21 Februarie 2025 tot 13:00 uitgereik sal word.
- Admin A, IT-hub – vir die uitreiking van kaarte van Vrydag 21 Februarie 2025 (vanaf 14:00).
Studente op die Tygerberg-kampus moet hul spesifieke kampus se registrasie-inligting raadpleeg vir besonderhede oor die afhaal van hul studentekaarte.
Terugkerende studente (heraktivering van studentekaart)
As jy nog jou 2024-studentekaart het en dit weer in 2025 gaan gebruik, hoef jy dit nie weer te aktiveer nie. Die kaart sal outomaties geheraktiveer word sodra jy vir die 2025- akademiese jaar geregistreer het en enige uitstaande gelde van vorige jare betaal het.