Ons het 'n hele paar lekker voordele en kortings vir Maties-alumni in die Globale Noorde beding. Kyk 'n bietjie hier onder, en geniet.
Nuwe SACCUK-vennootskap voordelig vir alumni
Ons kondig graag 'n splinternuwe vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge en die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel in die Verenigde Koninkryk (SACCUK) aan.
Maties-alumni wat as individuele lede by SACCUK aansluit, ontvang nou 'n korting van 20% op hulle ledegeld. Jy sal ook na eksklusiewe gesamentlike geleenthede van die Universiteit Stellenbosch en SACCUK genooi word. Noem bloot dat jy 'n Matie is wanneer jy aansluit – SACCUK sal dit vinnig nagaan, en dan's jy in!
Hierdie strategiese vennootskap met SACCUK gaan egter oor meer as kortings. Dit is deel van die Universiteit se verbintenis om Maties te help floreer lank nadat hulle die son op die Rooiplein ingedrink of 'n vinnige hoenderslaai by die Neelsie gegryp het. Ons ondersteun jou lewenslank, nie net tot gradedag nie.
Die ooreenkoms gaan oor die bou van wêreldwye netwerke wat deure open, idees skep en geleenthede ontsluit. Dit gaan daaroor om Maties op betekenisvolle maniere bymekaar te bring – of jy in Londen sake doen, 'n nuwe onderneming in Johannesburg bou, of nog onder die eike in Victoriastraat dagdroom.
Ons weet dat loopbane vol kinkels en draaie kan wees, en dat die regte kontak op die regte tyd die wêreld se verskil kan maak. Dít is waar alumni-netwerke so waardevol is: Dit bied ondersteuning, mentorskap, en die tipe saamwees wat jy moeilik elders sal kry.
So, of jy nou jou professionele netwerk wil uitbou, jou onderneming na hetsy Suid-Afrika of die Verenigde Koninkryk wil uitbrei, uithalergeleenthede wil bywoon, of dalk net met ander van Mzansi wil gesels – benut hierdie vennootskap ten volle.
- Vir meer oor SACCUK-lidmaatskap, en om aan te sluit, klik hier.
Spesiale aanbod van Antons VSA
Maties regoor die VSA, hier's 'n heerlike bederf net vir jou! Antons VSA, gesetel in Texas, bring vir jou al die bekende geure van die huis – en bied 10% afslag op hul volledige reeks biltongprodukte.
Gebruik eenvoudig die afslagkode MATIES wanneer jy aanlyn bestel by biltongusa.com of antonsusa.com.
As jy in die Dallas–Fort Worth-omgewing kom, stap gerus by hul winkel in vir 'n warm glimlag, 'n lekker geselsie en rakke vol eg Suid-Afrikaanse lekkernye: 3814 Highway 287, Sunset, Texas, 76270.
Ondersteun 'n trots Suid-Afrikaanse onderneming in die buiteland – en geniet weer 'n egte stukkie van die huis!
SA Shop bied vet afslag vir Maties in Kanada
Van sneeubedekte Vancouver en bibberkoue Calgary tot besige Toronto – alle Maties in Kanada kan nou die koskas volmaak met 'n paar Suid-Afrikaanse gunstelinge (ja, selfs Mrs Ball's en Ouma-beskuit – ons het seker gemaak!) teen spesiale verlaagde pryse.
Dít is danksy 'n ooreenkoms tussen die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, en Callie van Graan van The South African Shop in Vancouver. Callie is 'n man op 'n missie wat hom nie deur tariewe óf grense laat stuit om 'n stukkie Suid-Afrika by jou voordeur te laat aflewer nie.
Geniet die volgende, net omdat jy op die Bosch studeer het:
- 20% af op byna alles op die winkelwebtuiste – gebruik die kode Maties
- 10% af op hulle klerereeks – gebruik die kode MatiesK
- 'n Gratis bufferplakker van die Suid-Afrikaanse vlag – gebruik die kode MatiesS
Nuttige wenk: Jy kan ál drie koepons met een bestelling gebruik, so moenie skaam wees nie – 'add to cart'!
Aangesien verskepingskoste na sommige dele van Kanada hoog kan wees, laat weet ons asseblief indien jy in kontak is met 'n plaaslike SA Shop in jou provinsie en wil hê dat ons hulle oor moontlike soortgelyke afslag vir Maties nader.
Delheim-wyn teen kelderpryse vir Maties in Duitsland
Delheim-wynlandgoed teen die hange van die Simonsberg naby Stellenbosch het 'n sterk band met Duitsland. Die landgoed is in 1938 deur Duitse immigrant Hans Otto Hoheisen tot stand gebring, en het behoorlik gedy onder die visie van sy neef, Michael “Spatz" Sperling, wat in 1951 uit Duitsland aangeland het. Spatz het later een van Suid-Afrika se groot wynbaanbrekers geword, die Stellenbosch-wynroete help stig, en Suid-Afrikaanse wyne internasionaal bekend gemaak.
Verskeie lede van die Sperling-familie het oor die jare aan die Universiteit Stellenbosch studeer, wat die noue bande tussen Delheim en ons alma mater versterk het. Deur gesamentlike wingerdbounavorsing, kulturele geleenthede, volhoubaarheidsprojekte en vele meer het Delheim en die Universiteit saam-saam gegroei.
Danksy hierdie spesiale Matie-band bied Delheim alle Maties in Duitsland nou die geleentheid om hulle wyn teen kelderpryse te koop – 'n groot bederf vergeleke met gewone kleinhandelpryse. Deur van hierdie aanbod gebruik te maak, kry jy nie net die kans om aan topgehaltewyne te teug nie. Jy ondersteun ook Suid-Afrikaanse produsente, vier ons gemeenskaplike Matie-erfenis, en versterk die Universiteit Stellenbosch se wêreldwye alumni-netwerk.
?As jy in Duitsland woon en werk, kry Delheim en geniet die geure van die huis.