??Phophi Mudau, 'n BCom Bestuurswetenskappe-finalejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), het baie kilometers te voet afgelê om pakkies lekkers te verkoop om die geld bymekaar te maak wat sy nodig gehad om haar studieskuld af te betaal en by die Desember 2024-gradeplegtigheid te gradueer.
Aan die begin van Desember, kort nadat sy gehoor het dat sy al haar vakke geslaag het en inderdaad vanjaar kan gradueer, het Phophi nog minstens 750 pakkies lekkers gehad om te verkoop om haar ambisieuse teiken van R47 000 te bereik.
Sy het haarself voorberei op 'n besige maand terwyl sy gejaag het om die oorblywende pakkies te verkoop. En toe daag die Johannesburgse radiostasie HOT 102.7 FM by haar woonplek op. Phophi het gedink hulle kom om meer uit te vind oor haar entrepreneursvaardighede, wat hulle wel gedoen het. Maar hulle het haar ook verras met die ongelooflike nuus dat hulle, as deel van hulle "Hot Cares Christmas"-veldtog, al haar voorraad sou koop – en sodoende haar aansienlike studenteskuld ten volle sou vereffen.
Die 23-jarige student van Limpopo sê haar lekkergoedbesigheid was haar "laaste uitweg" om die tekort te vereffen wat ontstaan het nadat die Nasionale Finansi?le Hulpskema vir Studente (NSFAS) haar finansiering vroe?r vanjaar gestaak het.
Sy was vasbeslote om haar ma trots te maak en te gradueer, en het besluit om lekkers by Makro te koop en dit te herverpak om vir R60 'n gemengde sak te verkoop. Phophi het haar lekkers deur die jaar op verskeie sosialemediaplatforms aan studente en die Stellenbosse gemeenskap geadverteer. In hulle kommentaar het tevrede klante haar geprys vir vinnige aflewering en die ruim grootte van die sakke.
Sy het daarin geslaag om lekkers ter waarde van R18 000 met haar onderneming te verkoop, en het dikwels kilometers ver vanaf haar verblyf naby Victoriastraat op Stellenbosch na Cloetesville en omliggende gebiede gestap om bestellings af te lewer.
"Ek was soms so moeg dat ek net gehuil het."
Phophi se gesin beskik nie oor die finansi?le vermo?ns om haar te onderhou nie. Haar ma is werkloos en haar pa het hulle verlaat toe sy 'n kleuter was. Phophi het haar egter nie deur haar omstandighede laat afskrik nie en 'n manier gevind om haarself te help.
Die belangstelling in haar klein besigheid, sê sy, was oorweldigend. "Ek het soveel wonderlike en vriendelike mense ontmoet wat my nie net finansieel ondersteun het nie, maar my ook die aanmoediging gegee het wat my so ver aan die gang gehou het. Ek is ewig dankbaar vir almal wat my inisiatief ondersteun het."
Ondanks haar eie behoefte, was die hoogtepunt van haar klein besigheid vir Phophi toe iemand lekkers vir 'n niewinsgewende organisasie vir kinders gekoop het. "Dit het my bly gemaak dat my hulp die deur vir ander geopen het om 'n bietjie vreugde te hê."
Die finalejaarstudent is deel van die Universiteit se Verlengde Kurrikulumprogram wat studente help om die akademiese vaardighede aan te leer wat hulle nodig het om hulle graad suksesvol te voltooi. Phophi het nie aan die akademiese vereistes voldoen om vir verskeie beurse te kwalifiseer nie, en het haar finansi?le toekoms in eie hande geneem sodat sy dít wat sy by die Universiteit Stellenbosch begin het, kon voltooi. Haar klein onderneming het vir haar loopbaandeure geopen. Phophi sê sy het reeds 'n paar werksaanbiedinge van maatskappye ontvang met wie sy te doen gekry het terwyl sy haar lekkers verkoop het.
Hoewel sy erken dat haar akademiese reis "nie maklik was nie", weier sy om in die besonderhede vasgevang te word en sê eerder: "Ek is dankbaar vir die reis en die pragtige dele daarvan weeg swaarder as al die slegte."
Dr Leslie van Rooi, die US se waarnemende Senior Direkteur: Studentesake, het Phophi vir haar volharding en veerkragtigheid geloof. "Ons het baie behoeftige studente en ons probeer as universiteitsgemeenskap te help waar ons kan. Maar dit is nie altyd voldoende nie. Phophi het inisiatief aan die dag gelê en 'n manier gevind. Sy het daarin geslaag om geld in te samel terwyl sy studeer het. Hierdie vasberadenheid en veerkragtigheid is vaardighede wat haar lewenslank goed te pas sal kom. Ons is geweldig trots op dít wat sy bereik het en ons wens haar en haar gesin alles van die beste toe."
Foto: Phophi Mudau en haar ma, Thilivhali Mudau en suster, Promise Ranthete . Hulle het te danke aan Hot102.fm vanaf Limpopo gekom for Phophi's gradeplegtigheid.
Fotograaf: Stefan Els